Toortsie se voelgoedstorie nr 9 – Foto’s

Soos gepubliseer by Finesse se Voelgoedblogs. Hierdie is die stukkie wat in die Finesse tydskrif gepubliseer was.

Foto’s

Vroeër was dit mos altyd ‘n pyn om ‘n foto geneem te kry as jyself ook in die foto wou wees. Was jy op reis, moes jy maar ‘n vreemdeling vra, jou kamera in sy hand stop en hoop vir die beste. Netnou doen jy dit weer vir iemand anders!

Toe kom kameras met tydskakelaars. As jy net ‘n behoorlike neersitplek vir jou kamera kon kry, kon jy darem ‘n redelik skaflike foto neem binne die volgende drie of tien sekondes. Ekself vertel graag hoe ons ‘n foto tussen die canolablomme wou neem en ek toe met ekstra hoë hakke in die land moes hardloop, net om ámper betyds op die regte plek te kon staan.

Deesdae is selfies aan die orde van die dag. Ek sukkel maar daarmee, ek kyk op verkeerde plek en skeel oë wys op die foto. In Edenburgh probeer ek en my broer ‘n onsie neem met die katedraal se toring in die agtergrond, maar daar was net nie genoeg plek vir ons albei én die kerk nie!

Bo-op Sinaiberg sing ons groepie ‘Op berge en in Dale’ uit volle bors. Daar staan ‘n Indonesiese paartjie en sing in hulle taal saam met ons! Hulle vra of hulle van ons ‘n foto mag neem.

Daarteenoor kan ek nie anders as om te dink aan die Japannese vrou wat stoksielalleen in Hermanus rondloop met haar selfiestok en haarself orals afneem nie. Sy pla niemand nie, maar toer sy alleen? Proe sy die vreugde van saamwees? Het sy iemand met wie sy haar ervarings kan deel?

In Switserland by Charlie Chapman se standbeeld sit daar mense wat vreugde put uit al die lawwighede wat die mense maak as hulle hulleself saam met hom afneem.

Dis selfies, onsies, ekkies, jy’tjies. Laat ons nooit die vreugde van saamwees verloor nie.

Groetnis

Toortsie

Toortsie se Bantingboerekos Facebook page

Toortsie se Facebook page

Finesse Blogger van die week

Toortsie by Finesse: Liminal Daily Post: Liminal

Toortsie op Pinterest

 

10 thoughts on “Toortsie se voelgoedstorie nr 9 – Foto’s

  1. Ek en my dogter dra gewoonlik kameras saam waar ons kan en ons kry baie versoeke om fotos te neem vir vreemdelinge. By die Oribi Gorge ‘n paar weke terug het ‘n jong Japanese outjie wat met gebaretaal kommunikeer het, sy kamera aan ons oorhandig om ‘n foto vir hom te neem waar hy met arms uitgestrek op die randjie van die afgrond staan, so asof om te sê “die wêreld behoort aan my!” Dit was so sweet.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!