My broer en die likkewaan

Ek het vroeër geblog oor my broer wat vroeg in sy twintigs as ‘n skisofreen gediagnoseer is, en dat hy later in sy lewe in ‘n Salvation Army tehuis opgeneem is. Dit was vir my lekker om daar vir hom te gaan kuier; ons het buite op die stoep gesit en oor die veld uitgekyk, of anders binne in ‘n groot ontvangslokaal, waar mense op kinderlike wyse vir ons gewaai het. Binne daardie mure was dit anders as waaraan ek in die buitewêreld gewoond was. So sou een man – hy was voorheen ‘n professor – met ‘n handskud kom groet, homself voor stel en vertel hoe bly hy is dat ons vir Mike kom kuier het. Rustig sou hy dan met die breë gang afstap, net om ‘n rukkie later weer by my en Ken te stop, ons hande te skud, homself voor te stel, en vertel hoe bly hy is dat ons vir Mike kom kuier het. My broer het ‘n vriend gehad wat met die bietjie besittings wat hy het, in ‘n plastiese sak rondgeloop het. Die sak is styf teen sy liggaam vasgedruk, en het oral saam met hom gegaan. Sou ons vir hom ‘n koekie of beskuit aanbied is diè dadelik in die sak gesit, en die sak weer teen sy bors vasgedruk.

My broer het nie baie gepraat nie; ons sou net in stilte sit en so nou en dan sou hy iets uit die bloute sê wat my verbaas het oor sy goeie geheue rondom ons groot familie… ooms, tannies, neefs en niggies ingesluit. Omdat hy die meeste van die tyd in sy eie gedagtes versonke gesit – of net ewe skielik opgestaan en al skuifelend verdwyn het – net om heelwat later weer sy verskeining te maak, het ‘n direkte blik van sy kant af my elke keer onverhoeds betrap. So vra hy my op ‘n keer of ek ook die likkewaan kan proe. “Watse likkewaan?” vra ek verbaas. Hy ignoreer my vraag en vra of ek ook binne my die rukkings voel wat die likkewaan gee. “Ek verstaan nie watse likkewaan, en watse rukkings jy van praat nie,” antwoord ek skoon verbysterd. En toe kry ek daardie KYK, dit voel asof sy donker oë my deurboor. “Jy weet dat mammie, en oom boet as kinders ‘n likkewaan op die plaas gekry, en hom doodgemaak het?” “Ja,” antwoord ek huiwerig. “Jy weet dat hulle hom geslag, en eiers binne in hom gekry het?” Ek knik my kop. “Weet jy dat hulle die eiers gaargemaak en geeët het?” Weer skud ek my kop bevestigend. “Nou wel, mammie het die eiers geeët, en nou sit ons met die likkewane binne ons.” Ek staar hom sprakeloos aan maar hy het klaar weer in sy eie wêreld verval. Kort na hierdie voorval is hy oorlede. Maar die likkewaanstorie het soos ‘n vraagteken oor my bly hang.

Verlede week gaan ek en Ken saam met ‘n span van ons kerk na ‘n ouetehuis toe om daar te gaan bedien. Die ouetehuis blyk toe nie ‘n ouetehuis te wees nie maar ‘n tehuis vir mense soos wat my broer was. Ek was nie hierop voorbereid nie – dit het my voete onder my uitgeslaan – en vir ‘n paar dae daarna was ek baie emosioneel. Een ding is darem vir my opgeklaar; my broer en die likkewaan. Ek het lank met een van die vroue sit en gesels. Sy is ‘n baie intelligente mens wat sopas uit Weskoppies ontslaan is, nadat sy elf maande daar deurgebring het. Sy lees op die oomblik mediese boeke rondom skisofrenie om haar toestand beter te begryp. Ek het haar van my broer en die likkewaan vertel, en sy het verduidelik dat daardie likkewaan en sy rukkings vir my broer so werklik was dat hy dit selfs kon proe. Sy het van haar eie hallusinasies met my gedeel o.a dat sy op ‘n stadium vas geglo het dat elke woord wat sy sê deur die wêreld gehoor kan word, en daarom ophou praat het. Ek het nog met vele ander mense daardie dag te doen gekry, en dinge gesien en hoor wat my hart sommer van nuuts af aan flarde geruk het. Of ek weer sal gaan weet ek nie…. die tyd sal wel leer.

Advertisements
This entry was posted in Die lewe. Bookmark the permalink.

23 Responses to My broer en die likkewaan

  1. travel460 sê:

    Kameel, nou verlang ek sommer net na ons boeta in die tehuis in Pretoria. Al honderd van sy “matchbox” karretjies word rondgedra, in sy hemps en broeksakke. So ek is aldag op die uitkyk vir klere met sakke. My hart verstaan joue met jou boet.

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Wonderlik as iemand verstaan. Dit is sulke hartseer onverstaanbare lewens. Maar ek glo hy loop nou pragtig en gesond in die hemel rond 🙂 Glimlag vir die hemde en klere met sakke.

      Liked by 1 person

  2. Net Ek sê:

    Oeg dis vreeslik hartseer.

    Ek ken self nie iemand wat skisofrenies is nie, maar ek het al baie dokkies daaroor gekyk – ek wou bitter graag sielkunde swot.

    My hart is sommer seer vir jou, al verstaan ek nie. En ja, ek glo dat almal in die hemel niks seer het en net pragtig heel is, dis ons hier op aarde wat nog aan sukkel.

    Ek weet nie eintlik wat ek wou sê nie.

    Like

    • Kameel sê:

      Ek dink dis die onverklaarbaarheid rondom so ‘n vermorste lewe wat mens laat wonder. My ma het tot op haar sterfbed ongelooflik swaargekry want sy het na drie dogters dié seun van God afgebid en toe bring dit soveel hartseer in almal se lewens. My broer was ontsettend aantreklik en slim… maar het heeltemal onversorgd en verslons gelyk… al het ons ook vir hom nuwe klere gegee. Dit is asof die uiterluke nie bestaan het nie behalwe nou en dan wanneer hy gepraat het. Eendag sal ons wel verstaan. Gaan dit nou beter met jou?

      Liked by 1 person

      • Net Ek sê:

        Ek dink jy is reg Kameel, dis omdat mens nie werklik kan sin maak uit so iets nie. Die laaste dokkie wat ek gekyk het is oor kinders wat skisofrenies is, dis absoluut angswekkend, want hulle het ook al die goed wat hulle sien, maar hulle kan hulself nie so goed uitdruk nie, en daarom laat die terapeute hulle teken. Dis darem baie hartseer.

        Ja jong, dankie. November is oor die algemeen nie my maand nie, en dan is dit nog die 16 dae veldtog. Maar ek hou nog kop bo water dankie!

        Liked by 1 person

  3. Ek is bly jy kon ‘n bietjie klarigheid kry en dalk ‘n bietjie berusting.

    Like

    • Kameel sê:

      Dit was ontstellend om so ‘n pragtige mens agteruit te sien gaan en jaar na jaar sien versleg. Dit was ook baie ontstellend om die mense by die tehuis te sien waar ons verlede week was. Weet nie of ek moed gaan hê om weer te gaan nie. Mooi aand vir jou!! Sommer so terloops het die boek Ben Hur klaar gelees en weet nie wat ek nou kan lees wat nie absoluut afgewater gaan wees nie. Dan maar gaan slaap. 🙂

      Liked by 1 person

  4. Dis darem vreeslik hartseer,veral as mens dit nie verstaan nie.Ek kan goed glo jy was omgekrap na verlede week.Ek stel voor jy gaan nie weer soontoe nie…niemand sal jou kwalik neem nie.Sterkte.

    Like

  5. seegogga sê:

    Sjoe dis baie hartseer, Kameel. Hoe sal mens Sy wee verstaan?

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Eendag seegogga gaan ek verstaan!!! Tot dan ja is Sy weë duister. My ma het ‘n seuntjie van God afgebid en gesê sy sal hom aan God toewy soos Hannah Samuel aan God gegee het. Hy het soveel smart in haar lewe ingebring maar sy het hom ontsaglik liefgehad.

      Liked by 1 person

  6. Toortsie sê:

    Ek kan net dink dat dit jou moes ontstel, veral omdat jy nie voorbereid daarop was nie.
    Voel jy dit was goed om met daardie vrou te praat sodat jy ‘n bietjie uitsluitsel daaroor kon kry?
    Ek bewonder daardie vrou wat nog probeer navorsing doen oor haar siekte.
    Sterkte vir jou!

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Toorts dis die eerste mens met skisofrenie met wie ek ‘n ordentlike gesprek kon voer en hoor hoe hulle rêgtig voel. Haar storie is dat sy topleerling was tot met standerd vyf maar in standerd ses het sy onwerklike dinge begin beleef wat sy as werklikheid geglo het. Sy is baie intelligent dit kan mens aan haar praat hoor. Die elf maande in Weskoppies het haar stabiliseer maar soos sy self sê sy leef net vir die dag… sy weet nie hoe sy môre gaan wees nie. Sy is ‘n lieflike kind van die Here. Toe ek vir haar ‘n geseënde Kersfees toewens het sy gesê sy vier nie Kersfees nie want elke dag is vir haar kersfees…. dit is soos ‘n mens saam met Christus lewe. Baie bly ek het haar ontmoet en het meer berusting oor my broer.

      Like

  7. DIs onbeskryflik hartseer en swaar vir geliefdes wat met sulke omstandighede saamleef. Vir my is dit tog wonderlik dat daar mense is wat tog goed na die mense omsien en ook die omstandighede verstaan en versag. Dis waar jy ook inkom. Net daardie teenwoordigheid van iemand wat omgee en wat nie hoef te praat nie is baie belangrik. Ek haal my hoed af vir jou en ook dat jy nie jou broer afgeskryf het nie. Jou liefde vir hom het hom ook maar aan die gang gehou. Daar kom tog dinge op ons pad wat ons nie kan verstaan nie. Tog maak dit mens ryker en kan mens meer vir ander ook beteken.

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Scrapy daar waar my broer gebly het, het een van die staf eendag vir my gesê sy wil nooit weer met mense in die buitewêreld werk nie. Daar dra die mense maskers… maar in hierdie tehuis het jy met die mens sonder maskers te doen. Hulle is kinderlik opreg al kom hulle ook partykeer met die eienaardigste dinge voor die dag.

      Like

  8. ddupl3ss1s sê:

    Kosbaar die liefde wat tog altyd geseëvier het , al was hy in sy wêreld vasgevang.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s