Prince Charming tussen die manne

Om na die FNB Stadion toe te gaan om die Sacred Assembly van Angus Bachan by te woon het soos ‘n berg voor my gelê. Die massas mense, die rye waarin ‘n mens moet staan wanneer die nood roep, die geraas van duisende stemme – alles dinge wat nie lekker met my meniereskop saamwerk nie. Maar ek was verniet bekommerd, ons kerk het tien busse voorsien wat ons soontoe geneem het, en alles het klokslag verloop, en dit was “awesome!” Trane het vryelik gevloei – God se Gees was voelbaar teenwoordig – en ons het diep geraak daar uitgeloop.

Buite gekom hoor ons dat die busse nie weer toegelaat gaan word om ons voor die stadion op te laai nie, dit gaan die vloei van die verkeer belemmer. Dan maar loop tot waar die busse doer vêr in ‘n veld parkeer staan. Vir my ‘n onbegonne taak!!! Twee van die busse is egter in ‘n veld naby parkeer, en Ken gaan hoor of daar nie vir my plek is nie. Die reëling was dat elkeen die bus waarmee hy gekom het moet terugneem sodat daar nie mense agtergelaat word nie. Ek kry heelvoor langs een van die pastore ‘n plek en sug verlig. Die pastoor – seker so oud soos ons kunsternaarseun – gee my ‘n bottel water, en ons begin gesels oor die dag, en ook ander dinge wat kinders van God in belang het. Hoe dit gebeur het weet ek nie, maar op ‘n manier stort my eie getuienis oor my lippe; hy luister aandagtig, en toe ons by die kerk se hekke inry sê hy vir my dankie dat ek dit met hom gedeel het, en dat ek diè getuienis die wêreld moet indra want dit getuig van God se ontsettende liefde vir ‘n verlore mens.

Ek het my hande vol met my selfoon, bruin papiersak popcorn, en ‘n halfgedrinkte bottel water. ‘n Vrou neem dit uit my hande, en haar man sê “kom ek help jou die trappies af.” Ewe galant gee hy my sy hand en help my tot ek stewig – of miskien ook nie te stewig nie – op die grond staan. Die pastoor staan nader, “Die ander busse gaan seker eers oor ‘n uur of wat hier wees, ek sal by jou bly totdat hulle kom. Kom dan help ek jou om in die kerk te gaan sit.” Ek bedank hom vir sy hulpvaardigheid maar sê ek verkies om sommer daar op die klein kappeletjie se trappe te sit en wag.” Ek plak myself op die trappies neer en begin my popcorn eet.

img-20150602-wa0003‘n Vrou en haar twee tienerseuns blyk ook te wag vir Bus No 8 waarop Ken is. Mense het by die stadion soek geraak en haar man het agtergebly om te help. Intussen het daar nog ‘n bus aangekom, en die mense begin afklim. Die pastoor vra of dit reg is as hy gaan aangesien daar meer mense is wat vir bus 8 wag. Ek verseker hom dit is reg; hy begin wegstap maar draai weer om, “Is ek seker daar is niks meer wat hy vir my kan doen nie?”  Ek is nog besig om vir hom te sê dat hy met die grootste plesier kan gaan, toe ‘n man my nader en vra of hy my kan help met iets. ‘n Vrou loop verby en sê laggend “Jy het die manne aan jou voete.” Ek begin self wonder oor die ongewone toedrag van sake. En toe maak “prince charming” sy verskeining in die gestalte van ‘n pragtige graad 9 seun. Dit het donker begin word, en die weer het opgesteek. Die vrou van vroeër en een van haar seuns het ‘n rukkie gelede al verdwyn op soek na oop toilette. Vanuit die skemer stap die ander seun nader en bied my sa arm aan. ‘Come, let me take you into the chapel.” Ek weier nie sy arm nie, en stap die trappies saam met hom op. Binne brand die ligte, en die stoele is lekker sag. “Prince Charming” gaan sit so twee ry voor my, draai om en begin met my gesels. Ek vra hom uit oor sy toekomsplanne; hoor hy wil ‘n sjef word, en terwyl ons daaroor gesels gee ek hom die raad wat ek wens ek kan vir elke jongmens op hierdie aarde gee. Die wêreld daarbuite lyk baie aanloklik, maar moet nooit jou rug op God draai en in die wêreld se arms instap nie. Hy ken nie genade nie.

“Prince Charming” sê dit klink asof ek ondervinding daarvan het, en vir die tweede keer daardie dag bring ek my getuienis aan iemand wat aandagtig luister. Sy ma en broer kom terug en sluit hulle by ons aan. Ons gesels nog so ‘n rukkie toe Ken sy verskeining in die deur maak; hy oorhandig die rugsak aan my en sê hy gaan die kar haal want dit reën buite. Ek groet die mense, maar toe ek opstaan is “prince Charming” aan my sy en stap met my aan sy arm na buite. Sy broer neem die rugsak by my en toe die motor stop draf hy deur die reën en sit die rugsak op die agterste sitplek neer. Intussen help prince Charming my by die trappe af, maak die motordeur vir my oop, en soos watse “lady” klim ek in, bedank hom hartlik, en wuif vir hom toe hy die motordeur agter my toemaak.

Die volgende dag wonder ek nogsteeds oor die behandeling wat ek van die mansgeslag af gekry het. Iets rondom dit was baie spesiaal, en toe onthou ek ‘n dag – nie lank gelede nie – toe ek met die Here oor die mans in my lewe gepraat het, en vir hom gesê ek wonder of ek ooit sal weet hoe dit voel om soos ‘n regte dame deur die mansgeslag behandel te word.

Advertisements
This entry was posted in God en ek. Bookmark the permalink.

14 Responses to Prince Charming tussen die manne

  1. Ai, Kameel – sit ek, wat soos ‘n afgedwaalde skaap gesoek en gevind is, nou hier met trane in my oë.

    Like

  2. seegogga sê:

    Wat ‘n lieflike verhaal. Jy is voorwaar geseend.

    Liked by 1 person

  3. travel460 sê:

    Kameel, terwyl ek lees, speel die prentjies voor my oë af, en ek glimlag na binne. God sien jou elke tree, en Hy wag jou in. Bederf jou. Mag jy nog vele sulke “charming” dae beleef.

    Liked by 1 person

  4. Toortsie sê:

    Jou laaste sin sê dit alles. Hoeveel keer staan ek ook in verwondering omdat God vir my ‘n antwoord bring op ‘n vraag wat net Hy van weet. 🙂

    Liked by 1 person

  5. Ek dink nou aan ‘n lied wat ek (baie) lanklaas gehoor het:
    Prys die Here al wat lewe
    o my siel daar’s ryke stof
    sal solank ek leef my psalme
    altyd uitroep tot sy lof (of so iets).
    Goed om herinner te word aan die God wat voorsien ook aan emosionele behoeftes.

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Vat jy my nou terug na my kindertyd op my grootouers se plaas in eertydse Betsjoeanaland. Vier uur die oggend dan hoor jy van hul slaapkamer my ouma se stem dié lied so trekkerig sing met my oupa se diep ondertoon daarby. Ons God is awesome Abrie, awesome!!! Dit verwonder my dat Hy tot weet hoeveel hare op ons kop is….. of nie is nie 🙂

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s