Die gawe meisietjie

Om twee keer in een week inligting rondom jou kleinkinders verkeerd weer te gee laat my dink. Op Fb sien ek ons seun het vir sy seun ‘n motor gekoop, en ek slaag ‘n sug van verligting. Dit beteken Calvin ry nie meer motorfiets nie; ‘n matriekseun op ‘n motorfiets klink vir my net te gevaarlik. Ek wys vir skoonseun die foto van die motor en hy kyk my so skuins aan. “Het ma ‘n idee wat die spoed van ‘n Audi TT is? Ek het nie; skoonseun verduidelik en toe ek weer met my oudste seun gesels vra ek of ‘n Audi TT nie ‘n bietjie te vinnig vir ‘n matriekseun is nie. Daar hoor ek toe dat Calvin verlede jaar klaar gemaak het met skool en al amper ‘n jaar in ons seun se besigheid werk. Oops. Toe verjaar een van ons kleinseuns op diè erf, en ek sweer hoog en laag dat hy nou ‘n volbloed tiener is omdat hy dertien word. Weereens verkeerd, hy word twaalf. Toemaar, troos ek myself daar is sestien kleinkinders en so ‘n glips hier en daar is seker te verstane. Maar as ek eerlik moet wees het ek heeltemal tred verloor met die klomp se ouderdomme. Gelukkig onthou ek darem nog hulle gesigte, en name. En dit bring my by my pa en die gawe meisietjie uit.

Ek en my twee susters sou saam met ons mans, mekaar by Monte Casino ontmoet vir ‘n  kuier en ete.. My ousus sal my 85 jarige pa saambring. Jay (ons dogter) toe so in haar vroeë twintigs besluit sy wil ook gaan om bietjie saam met oupa te kuier. Daar aangekom haak sy dan ook dadelik by hom in, en so stap die twee die hele dag rond. Dit was so mooi om hulle samesyn te sien. Hulle het gestap, gaan stilstaan, gewys, en saam gelag. Heel duidelik het hulle mekaar se geselskap terdeë geniet. By die restaurant het Jay haar nogsteeds oor haar oupa ontferm. Hom met die spyskaart gehelp, en seker gemaak dat hy alles het wat nodig is. Dit het tyd geword om totsiens te sê. Ons het besluit om my pa huistoe te neem. Met baie soen en druk het Jay vir haar oupa totsiens gesê en is met haar eie motor daar weg. Skaars in die kar of my pa vra, “Waar is daardie gawe meisietjie nou?” “Watter gawe meisietjie pappie?” vra ek. “Diè een wie heeldag so goed vir my was,” sê hy. Net daar besef ons dat my pa nie ‘n idee het dat dit sy eie kleindogter is met wie hy die dag deurgebring het nie. Ek het probeer verduidelik wie Jay is, maar dit was duidelik dat hy nie meer die name en gesigte van sy agtien kleinkinders bymekaar kon sit nie.

Nou wonder ek of dit werklik ‘n seën is om so baie kleinkinders te hê?  Ek het definitief nie die ouderdom wat ‘n mens so stilweg bekruip in ag geneem nie. Vir die blondekop gesê as ek haar die dag ‘n gawe meisietjie begin noem, sy my maar in liefde moet reghelp.

 

Advertisements
This entry was posted in Die lewe. Bookmark the permalink.

36 Responses to Die gawe meisietjie

  1. Haha, jy het my nou lekker laat lag. Ek vergeet so nou en dan hoe oud my kinders is. Dankie tog facebook herinner my aan hulle verjaardae en vertel sommer vir my wat hulle ouderdomme is. Gelukkig het ek net een kleinkind, anders sou ek seker nie kon by hou nie.

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Sovêr doen ek darem nie te sleg met ons agt kinders se verjaarsdae nie, (my man is net so goed soos Fb daar) maar hulle ouderdomme begin maar ook vaag raak. Eienaardig dat ek nie vir een oomblik twyfel aan die jaargetal waarin die twee oudstes gebore is nie, maar weet glad nie die ander sn nie. Hoor julle het lekker reën gehad!!

      Liked by 1 person

  2. travel460 sê:

    16 Kleinkinders! Nee wat Toortsie, selfs met my 6 moet ek party dae mooi dink. En ja, gelukkig is Facebook daar. Ek en my manlief onthou nooit ons troudag herdenking nie, maar Facebook wens getrou eerste geluk.

    Like

  3. travel460 sê:

    Jammer Kameel, sien dis jy wat geskryf het, en nie Toortsie nie.

    Liked by 1 person

  4. Hehehehe… 16 is darem ‘n gawe lotjie. Moet jy vir elkeen persente koop?

    Liked by 1 person

  5. Party dae sien ek glad nie kans vir hierdie deng wat hulle die ouderdom noem nie…maar die beeld van “die gawe meisietjie” en haar onwetende oupa is so mooi…

    Liked by 1 person

  6. Ek het myself lankal belowe om jou verhaal te gaan lees. My man is vandag weer in die hospitaal opgeneem en nou is hier niemand om my bed toe te jaag nie, toe gaan krap ek jou verhale daar doer uit 2011 uit. Ek is seker iemand het jou al vertel dat jy dit in boekvorm moet uitgee? Oorweeg dit gerus. Dis mense soos jy wat my moed gee vir die lewe en geswoeg (en my sommer beter laat voel oor die politiek ook, omdat dit blyk dat nie almal lieg en bedrieg en steel nie 😀 ) Dankie dat jy jou verhaal gedeel het. Jy is ‘n kosbare mens. Nou kan ek gaan slaap..

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Liewe land Hester hier kom jy uit die bloute, slaan my voete onder my uit en bring trane in my oë. En dit kom op ‘n tyd wat ek dit baie nodig het… dankie. Ek wens net ek weet hoe om al dié stukke bymekaar te sit en dit in boekvorm te sit….. uit gehoorsaamheid, want so baie het al gesê ek moet ‘n boek skeyf. Ek vertrou jou man is nie ernstig siek nie? Of gaan hy vir ander knievervanging? Koud en reënerig hier… mooi dag vir jou!!

      Liked by 1 person

      • Hy het mos al twee rugoperasiers gehad en is maar altyd ongemaklik en in pyn. Gistermiddag het hy op die sitkamerbank aan die slaap geraak en toe hy wakker word, “slaap” altwee sy bene. Toe die lewe begin terugkom, was dit erg pynlik en ons het hom hospitaal toe gevat sodat hulle hom gemakliker kan maak. Ons sal hom seker vanoggend huis toe bring. Dis regtig weer erg kou en reënerig hier van eergister af. Mooi dag vir jou.

        Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s