Spend it wisely

‘n Paar dae gelede kom twaalfjarige Ryno hier by ons ingestap; “Het oupa vir my vier rand?” vra hy. Ken krap in sy beursie vir kleingeld en so tussen die vyftig en twintig sente kry hy die vier rand, en gee dit vir Ryno. Met ‘n “dankie oupa” draai hy om en stap weg. “Nou het ek net twee sent oor vir die res van die maand,” sê Ken en maak sy beursie toe. Die woorde bring Ryno in sy voetspore tot stilstand. Hy draai om, strek sy arm uit en met ‘n voorvinger wat na sy oupa wys sê hy, “Spend it wisely.” Net daar vou ek en Ken byna dubbel van die lag.

Die twee sent nou daar gelaat, is dit wyse woorde. Die Bybel sê vir ons “koop die tyd uit, omdat dit boos is.” So tyd is een van daardie dinge wat ons nie sommer net deur ons vingers moet laat glip nie, maar geleenthede aangryp om die beste gebruik daarvan te maak. Ons is nie almal vir groot dinge geskape nie, maar ons het almal tyd wat ons kan gebruik om ander mee te seën. ‘n Glimlag hier, ‘n drukkie daar, ‘n luisterende oor of bemoedigende woorde – alles kosbare pêrels “well spent,” en op die koop toe bring dit vir ons vreugde.

Aan die ander kant is daar ook diè dinge waarop ons geld of tyd spandeer wat ‘n doring in die vlees kan word. So was dit met die spierwit pop wat ek in die Bloemiste gesien, en dadelik my hart op verloor het. Met haar wit mandjie het sy daar tussen die kleurespel van blomme gestaan, en soos ‘n maagdelike Madonna gelyk. Ek het geweet sou ek myself ‘n minuut of twee tyd gee gaan ek haar nie koop nie – ek kon haar glad nie bekostig sonder om ons maandelikse begroting ‘n lelike knou te gee nie. Net daar laat ek hart verstand oorheers, en koop haar. Ek diè een wat elke sent behoorlik omdraai voordat ek dit uitgee, ek wat die leisels altyd stewig in my hande hou wanneer dit by geld kom, vang so ‘n onbesonne ding aan.

By die huis aangekom haal ek die wit pop versigtig uit haar omhulsel en sit haar op die blou kas neer. Sonder blomme wat haar omring of blomme in haar mandjie lyk sy kleurloos en oninteressant. Om die waarheid te sê sy pas glad nie by die res van die vertrek nie. Sy lyk so uit plek uit soos ‘n maagd in Amsterdam se rooiligdistrik. Nie eers blomme in haar mandjie wil aan haar woema gee nie. Ek gaan sit op my pienk “relaxer” en staar die wit pop vol misnoë aan. Was Ken daar sou hy vir my gesê het gooi die pop stukkend, en vergeet daarvan; maar hy is by die werk, en miskien is dit beter so. Ek sou dit nie oor my hart kon kry om iets wat my soveel geld gekos het stukkend te gooi nie. Dus bel ek my ma. “Mammie ek voel soos ‘n ool,” sê ek toe my ma aan die anderkant antwoord. “Watse ding is ‘n ool?” vra sy verbaas. “Ek weet nie, seker iets soos ‘n fool.” Net daar stort ek die hele storie rondom die wit pop uit. Sy luister geduldig, en sê miskien moet ek haar maar weggee. Wat ek toe ook gedoen het, maar eers jare later toe Rika op ‘n dag vir my gesê het dit is vir haar so ‘n mooi pop. Hoe verheug was ek nie om daardie pop te sien gaan nie!!! Sy was vir my ‘n baie duur les.

Onthou of dit nou tyd, geld jou liggaam of wat ookal is…. “Spend it wisely.”

 

 

Advertisements
This entry was posted in Die lewe. Bookmark the permalink.

14 Responses to Spend it wisely

  1. travel460 sê:

    Hierdie stuk deel van jou was nou vir my amazing. Dis die woord, ja. Amazing. Ek kan die pop sien, en al die nagevolge ook. Dit is so bitter baie waar, Toortsie, die “spend it wisely”. Mag my drie meisiekinders dit altyd onthou.

    Liked by 1 person

  2. Ai Kameel,ek het dit ook al baie oorgekom!Tog is disake nie verlore nie,want in daardie kort oomblik het dit darem bietjie vreugde verskaf,al was dit vrek duur!😜

    Like

    • Kameel sê:

      My man word – laat ek dit maar plainweg sê – goed de hel in omdat ek so presies met geld werk. Hy is die groot spender, en ek trap heeltyd briek. Vir my was hierdie pop ‘n dure dure les…. ek het oor haar gevoel soos daardie gesiggie van jou 🙂

      Liked by 1 person

  3. Ai my spelling…tog is die saak nie verlore nie!😳

    Like

  4. Ek het nou lekker geglimlag. Ek dink in elke vrou se klerekas hang daar so ‘n duur nommertjie wat sy nog nooit gedra het nie en waarvan haar man ook nie sal kennis neem nie. Op ‘n dag word dit net stilweg by die naaste charity shop afgelaai. Soms moet ‘n mens spend wat jou hart jou vertel al stem jou beursie nie saam nie!

    Like

  5. Die ekstra paar sandale wat ek as student in ‘n skoenwinkel by my mammie afgesoebat het, al het ek duidelik gesien dat my ouers dit werklik nie kon bekostig nie – daardie ellendige sandale het my die eerste (en laaste) keer toe ek hulle gedra het, blase geskaaf…

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s