Tot voordeel van almal

1 Kor 12:7: ‘Aan elkeen afsonderlik word ‘n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal.’

Hierdie Bybelgedeelte gaan daaroor dat God aan elkeen van ons verskillende genadegawes uitdeel tot voordeel van mekaar. Nie twee mense ontvang dieselfde gawes nie. God deel dit uit soos Hy wil en volgens wat Hy sien die behoefte is.

Afhangende van waar Hy jou wil gebruik, mag dit ook wees dat een spesifieke gawe nou in jou lewe prominent is, maar oor tyd raak ‘n ander een meer prominent. Die hoofdoel van die gawes is dat ons dit nie vir onsself moet hou nie, maar dat dit tot voordeel van almal, van die hele gemeente, tot voordeel van die Koninkryk aangewend moet word, tot opbou van mekaar.

Genadegawes wat in die Nuwe Testament genoem word, is byvoorbeeld die gawe van gebed, spreek in tale, onderrig, bemoediging, die gawe van onderskeiding en nog baie ander.

Maar God gee baie meer as net die gawes wat genoem word. In hierdie jaar het ek soveel bevestiging van God se nabyheid, Sy beskerming ontvang, en op ‘n manier wat ek in die verlede my neus voor sou optrek. Op die onwaarskynlikste plekke, op die nodigste tye, het daar vere gelê. Baie mense sal dit as toevalligheid, of wensdenkery of verbeelding sien, maar vir my was dit keer op keer die bevestiging van God se beskerming.

Gister loop ek by iemand se deur in en ek sien die veer netjies voor die deur lê, merk dit op, maar sê niks. Ek vergeet skoon van die veer en ons twee gesels tog te lekker. So deur die praat besef ek dat sý in ‘n lewensstorm is. Intussen het ek nog ‘n afspraak nagekom, toe ek skielik die veer onthou. Gelukkig was sy nog daar en kon ek met haar deel dat God hierdie jaar Sy beskerming keer op keer bevestig het met ‘n veer en toe wys ek haar waar die veer lê: Reg voor haar deur! God wys dit ook vir háár: In hierdie storm is Hy saam met haar, sal Hy haar beskerm.

God wil hê dat ons Sy seëninge ook met ander sal deel, tot opbou van mekaar, sodat ons almal daardeur beter kan word.

Watter gawe kan jy vandag met iemand anders deel, tot voordeel van die ander, tot eer van God, tot opbou van die Koninkryk?

Toortsie

Toortsie se Bantingboerekos Facebook page

Toortsie se Facebook page

Finesse Blogger van die week

Toortsie by Finesse: Doen dit vandag nog

Toortsie’s LCHF Journey 

Toortsie op Pinterest

3 thoughts on “Tot voordeel van almal

Gesels saam, asseblief!