‘n Skietvoorval en ‘n swartman se onbegrip

Die eerste woorde wat ek wou tik is Scrapydo se toeka-tokkel….. en toe onthou ek toeka-tokkel is nie meer nie. Dit was vir my lekker om weekliks my “taak” in te handig, en dit sê baie vir Scrapy want ek was nooit ‘n pligsgetroue student nie.

In ‘n kompleks ‘n blok agter ons, het ‘n drama homself verlede week afgespeel waarvan ek salig onbewus was. Ek het die helikopter hoor draai, en draai maar vandat ons in die stad bly het ek geleer om dit te ignoreer. Aan die begin was dit vir my vreemd as ‘n helikopter hier bokant ons huis ronddraai; met tye so naby dat ek die persone kon sien. Toe ek eendag met skoonseun daaroor praat het hy ewe droogweg opgemerk dat my tuin so mooi is dat die helikopter besoekers bring om te kom kyk.

Later die middag ontvang ek ‘n gebedsversoek van ‘n geestelike vriendin wat vra vir gebed vir die veiligheid van haar kinders. Sy woon in die kompleks – maar die inwoners wat buite die kompleks was tydens die drama – is toegang geweier totdat die polisie die saak ontlond het. Soos ek verstaan is die inwoners eers tienuur die aand toegelaat om na hulle huise terug te keer. Dit is ‘n hartseer verhaal van ‘n blanke inwoner wat drie ander blanke inwoners geskiet, gyselaars aangehou en toe later homself geskiet het. Ek ken nie die hele storie nie, maar daar is gerugte dat hy as jongman grensoorlog toe is, en dat daar baie dinge is wat hy nooit verwerk het nie.

Gister na kerk stop ons by Pick en Pay. Twee swartmans sit op ‘n lae muurtjie en gesels, die karwag staan en luister. “Môre tannie, hoe gaan dit?” vra hy toe ek uitklim. Ek glimlag breed; dit is die eerste keer dat ek as “tannie” deur ‘n swartman aangespreek word. “Baie goed,” antwoord ek, “hoe dan anders ek was by die kerk.” Ek groet die twee mans op die muurtjie. “Môre ouma,” groet die ouer man en glimlag breed met ‘n mond halfvol tande. Hy vou sy hande saam en druk dit teen sy gesig in ‘n gebaar van gebed. “Ek gaan ook kerk toe by die week, dan bid ons.” “Is jy ‘n kind van God.?” Vra ek. Hy knik sy kop instemmend. “Ken jy vir Jesus?” vra ek weer. “Ek ken vir Hom,” kom die antwoord. “Jy het Hom gevra om in jou hart te kom bly?” Hy antwoord met ‘n kopknik en ‘n “Ek het vir Hom gevra ja” “Dan is ek baie bly,” sê ek en begin wegstap. “Ouma,” roep hy. Ek draai om; “Ouma ek hoor daar was geskiet hier,” sy oë kyk my vraend aan. “Daar was geskiet ja,” antwoord ek. Hy skud sy kop ongelowig, “Ek het gehoor maar wil nie glo nie….. die witmense hulle skiet mos nie vir mekaar dood nie.” Ek probeer na die beste van my vermoë verduidelik. “Dit is daardie oorlog se skuld,” sê hy asof hy al die wysheid van Salomo in pag het. Hiermee is die saak vir hom opgelos, en ek los hom daarmee en stap weg.

“Who knows a person’s thoughts except their own spirit within them.” 1 Corinthians 2:11″

Advertisements
This entry was posted in Die lewe. Bookmark the permalink.

23 Responses to ‘n Skietvoorval en ‘n swartman se onbegrip

  1. Jy weet wat regtig ontstellend is, is dat die destydse regering geweet het hoeveel skade aan die gemoedere van die jong soldate aangerig is gedurende die oorloë, maar daar is nooit profesionele geestelike en emosionele berading verskaf na ontslag nie. Dieselfde probleem word steeds in die polisiemag, paramediese dienste, verkeerspolisie en selfs deur mediese personeel in ons hospitale ondervind – geen mens kan tog soveel trauma (persoonlik of net waargeneem) alleen verwerk nie.

    Like

  2. Die skade wat deur daardie oorlog veroorsaak is,sal seker nooit gemeet kan word nie.Kyk net hoe het dit nou uitgekring na onskuldige mense.

    Liked by 1 person

  3. Jou skryfsel het my diep geraak – dalk ook omdat dit binne hoorafstand van ons huis in Suid-Afrika is. En dan natuurlik daardie hartseer, die trauma wat moontlik tot hierdie tragedie gelei het (ek ken dit, was daar) en die nuwe trauma wat daardeur nou ontketen is. Baie hartseer.

    Like

    • Toortsie sê:

      Ek het net gisteraand van jou gepraat. Sommer oor jou storie en die soldaat wat gesterf het en sy vriend wat sy ouers gaan opsoek het.

      Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Nou onthou ek…. jy het oor die trauma van die grensoorlog geskryf. Toe ek hoor dit mag miskien die rede vir die persoon se optrede gewees het, het ek gewonder waar het ek daaroor gelees. Dit is voorwaar ‘n tragiese gebeurtenis.

      Liked by 1 person

      • Ons huise moet dus naby mekaar in Pretoria wees. Ek is tans natuurlik in Engeland (net my lyf!) maar al ons besittings (behalwe die karre wat ons verkoop het) is in Pretoria. Dit het intussen ook uitgekom dat die man wel miskien in die weermag was, maar beslis nie deel van die spesiale magte soos parabats of Recces was nie.

        Like

        • Kameel sê:

          Dankie vir inligting… het tot dusvêr nog niks wyser geword nie. Wonder of ‘n mens ooit die werklikheid agter die storie sal hoor. Kan hoor jou hart is nog in ons land, wonder sommer of julle van plan is om ooit terug te kom. Jare gelede het ek ‘n boek gelees wat ons pastoor geskryf het oor die oorlog in Rhodesië (mag die plek verkeerd hê) Hy was as kapelaan daar. Die boek het my ontstel… miskien kry ek eendag moed om jou boek te lees.

          Like

          • My hart is daar (veral in die Vrystaat!), weet nie wanneer ons teruggaan nie. Die kinders moet eers sterk staan. Daai boek handel darem nie net oor die oorlog nie – slegs die laaste paar hoofstukke. Dit gaan eintlik oor ‘n Afrikanerseun wat tydens die 1960’s en ’70’s in SA grootword. Hy word tans in Engels vertaal, want dis ‘n storie wat ek vir die hele wereld wil vertel.

            Liked by 1 person

  4. Dit is baie tragies en hartseer ook. Dis waar dat al die tauma wat vandag nog beleef word daar sulke “moorde” kan plaasvind. Mens kan tog net tot so vêr opkrop en dan moet die bottel bars. Daar was vroeër jare nie so baie profesionele hulp beskikbaar nie en dan natuurlik- n man huil mos nie! Dis hoe seuns vandag nog in n mate grootword. Ek haal my hoed af vir dokters, verpleegpersoneel en ambulansmense(wat hul sout werd is) Al wat regtig oorbly is geloof, daarsonder vergaan die mens. Dankie ek is bly jy kuier darem nog by die getokkel.

    Liked by 1 person

  5. Olga sê:

    Ai die oorloe was erg maar tog nodig. Ek dink tog daar moes ‘n keurings proses gewees het, nie almal is ewe geskik vir goed soos die grensoorloe nie, maar hulle kon nuttig elders ingespan gewees het.

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Die storie het homself nog nie heeltemal ontvou nie. Hy was blykbaar in weermag maar nie heeltemal seker of hy op grens was nie. Daar moes drasties iets geskort het om tot so ‘n uiterste te gaan. Lekker om weer van jou te hoor. Is jy nou heeltemal gesettle in julle nuwe omgewing?

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s