Toortsie se Toeka Tokkel: Afsluiting

Nie in opdrag van Scrapydo.

Hoekom nie in opdrag? Want Scrapydo het die reeks afgesluit en daar was geen opdrag dat ons nog daaroor moet skryf nie. Tog wíl ek graag daaroor skryf!

Vir twee volle jare het Scrapydo ons weekliks aan die gang gehou met ‘n Toeka Tokkel opdrag. Ek het elke keer geskryf en kan nie dink dat ek een oorgeslaan het nie.

Vir my is die skryfwerk op my blog nie moeilik nie. Die woorde kom in my kop, en solank dit daar is, moet ek dit neerskryf. Sou die woorde in my kop kom terwyl ek iewers anders is, is dit verby, dan kan ek dit nie neerskryf nie.

Danksy Scrapydo het ek ‘n heel nuwe veld betree: Opdragwerk. Sommige onderwerpe was maklik, ander was heeltemal buite my ervaringswêreld. Sommige van die ‘vreemder’ onderwerpe was ook nie moeilik om oor te skryf nie, maar by ander moes ek behoorlik dink, was dit ‘n behoorlike uitdaging. Danksy Scrapydo het ek geleer om buite my gemaksone te beweeg en oor goed te skryf waaroor ek soms nie eers in privaatheid wil praat nie, wat nog te sê skryf daaroor vir die hele wêreld om te lees.

Dankie, Scrapydo, jy het my gehelp om my horisonne te verbreed. Jy het my uitgedaag om verder te waag as wat ek altyd sou wou. Waaroor ek vir jou die heel dankbaarste is, is dat jy my gehelp het om my verbeelding te ontsluit. Vir my is dit nog ‘n heel nuwe wêreld, ek het altyd geglo ek kan net met harde feite werk, maar ek vang myself nou gereeld dat ek verbeeldingstories in my kop begin vorm, soos gister op die vliegtuig toe ons bokant die wolke vlieg, die wolke het toe nes bondels watte gelyk, en ek het in my verbeelding kindertjies sien hardloop op die wolke, uitbundig, laggende, spelende met ‘n bal. Daarvoor sê ek vir jou dankie dat jy die sleutel in my hand gegee het.

Die lewe loop aan, ons prioriteite verander, ons omstandighede verander. Dinge waaraan ons voorheen baie aandag kon gee, skuif op die agtergrond omdat ander belangrike dinge op die voorgrond tree. Geniet die nuwe vooruitsigte. Ons hou dop om te sien watter nuwe planne jy op jou blog gaan uitvoer.

Mooi loop!

Toortsie

Toortsie se Bantingboerekos Facebook page

Toortsie se Facebook page

Finesse Blogger van die week

Finesse: Eerder ‘n foto asseblief

Toortsie’s LCHF Journey 

22 thoughts on “Toortsie se Toeka Tokkel: Afsluiting

  1. Om te blog is om soet en suur te deel, bitter weg te spoel en probeer om die sout te wees in ‘n wêreld wat laf geword het. Soms irriteer dit mense omdat spieëls nie lieg nie.

    On 10 Oct 2016 05:47, “Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie se blog” wrote:

    > Toortsie posted: “Nie in opdrag van Scrapydo. Hoekom nie in opdrag? Want > Scrapydo het die reeks afgesluit en daar was geen opdrag dat ons nog > daaroor moet skryf nie. Tog wíl ek graag daaroor skryf! Vir twee volle jare > het Scrapydo ons weekliks aan die gang gehou met ” >

    Liked by 1 person

      1. Almal dink nie eenders nie. Sommige kom nie verder as blondies, bier, bakkies, braai en balle nie. Ander boer met filosofie. Interessant om te sien wat uitdop op blogs. Het jy al die WitHasie s’n gelees? So padlangs van die mou af. Soms skreeusnaaks maar tog dispute daarin. En #Afrikaans boer beter met begrip.

        Liked by 1 person

        1. Die lekker is dat elkeen op sy/haar blog mag maak wat say wil. Ek ken die Wit hasie, maar nie #afrikaans nie. Sal jy vir my sy adres gee asb? Is dit ‘n wordpress blog? Ek lees dit makliker omdat dit maklik is om te volg.

          Liked by 1 person

  2. Baie dankie Toorts vir die mooi woorde. Dit maak my sommer aangedaan voel. Jy is self n besonderse mens. As dit nie vir Toeka-Tokkel was nie sou ek jou en Kameel nooit so goed leer ken het nie. Ek gaan beslis nie ophou nie. Sal seker moontlik volgende jaar weer uitdaag. Daar wag reeds al n hele paar onderwerpe wat ek nog nie genruik het nie. Nogmaals baie dankie vir jou getroue ondersteuning.

    Liked by 1 person

    1. Toeke-Tokkel het vir my ook baie beteken. Maandae blog ek gewoonlik…. en vanoggend gedink nou waar is my onderwerp dan? Sien uit daarna om te sien waarmee jy volgende jaar ons mee gaan uitdaag. Be blessed Scrapy!!!

      Like

        1. Toorts as ek my eie storie moet skryf sal dit ‘n gehuil afgee. Soos ek hier skryf loop die trane. Ek is moeg vrou…. baie, baie moeg vir die onophoudelike aanvalle op ons gesin, en in ons huwelik. Vanoggend vir die Here gesê “I want out… I quit… I had enough.” Miskien voel ek môre beter, maar hierdie moegheid kom nou al ‘n lang pad en word net erger.

          Like

          1. Kameel, ek kry nou hierdie in die pos, van die Christeike Lektuurfonds af.
            “Soos die wintermaande aanstap, is daar nou ‘n lig aan die einde van die tonnel, en die lente is al amper in sig. Die belofte van nuwe lig en lewe lê op die horison, en die diep koue van die winter is al amper ‘n herinnering. Ek wil graag die volgende mooi woorde met u deel: In die hartjie van die winter het ek geleer dat daar in my ‘n onoorwonne somer skuil. – Albert Camus. Dit maak nie saak hoe donker of koud of eensaam dit om ons raak nie, hoe verlate, hartseer of verlore ons mag voel nie, God se Gees woon soos ‘n onoorwonne somer binne-in ons. En wanneer die stilte ons oorweldig, of die koue ons onderdruk, kan ons onthou dat God se Seun in ons plek aan die kruis gehang het vir al die mens se sielswinters van die lewe en dat ons daarom die voorreg het om na God se Vaderhand uit te reik wanneer ons verlore voel.”
            Ek weet jy weet hierdie dinge, ek wil dit sommer net weer vir jou sê. Dankie dat jy my liewe blogmaat is. Dankie dat jy soveel keer vir my ‘n steunpilaar, ‘n oor is. Dankie dat jy vir my ‘n vriendin is, selfs al het ons mekaar nog net een vinnige keer in ons lewe gesien.

            Liked by 1 person

            1. Ai Toortsie, dankie vir hierdie bemoedigende woorde. Jy is vir my ook ‘n onmisbare deel van my lewe. (Weet nie of onmisbaar die regte woord is nie…. maar ek glo jy weet wat ek bedoel.)

              Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!