Toortsie se Toeka Tokkel oor Besoekers

In opdrag van Scrapydo.

Gasvryheid is ‘n eienskap van ons boerenasie. Ons is gewoonlik baie bly oor besoekers.

Vandag wil ek skryf oor die Struisbaai Vibe. Dís hoe ek Struisbaai leer ken het as kind in my ouers se strandhuis en dis hoe dit steeds is. 

Een oggend toe ek wakker word, hoor ek my kind in die kombuis wat vir hom koffie maak en staan toe op en gaan drink tee saam met hom. Ons albei nog in pajamas en elkeen onder ‘n kombers. Soos die huislede ontwaak het, het die pajamabrigade onder komberse groter geword. 

Toe klop iemand aan die voordeur. En die volgende. Sommer vriende wat op die rondloop is en kom inval by ons. Daar word koffie gedrink en gekuier en so een vir een glip ons weg en gaan trek ons dagklere aan. So by besoeker nommer drie is almal darem al aangetrek! 

Op ‘n stadium, gewoonlik rondom middagete raak die besoekers minder en so by 4 uur, half 5 se kant kan dit weer begin. Iemand sal net onder by die voordeur roep,  ‘Is julle hier?’ en met die trap opkom. 

In die aand se kant begin ons vuurmaak, en op die ingewing van die oomblik kan die besoekers sommer bly vir braai. 

Netso val ons ook ongenooid by ander in, dis hoe dit werk! En sou daar ‘n dag verbygaan wat niemand opdaag nie, verval ek in ‘n depressie. Wat gaan dan nou aan dat niemand kom kuier nie?

Struisbaai! Jou lekker ding!

Toortsie

8 thoughts on “Toortsie se Toeka Tokkel oor Besoekers

  1. Meer as veertig jaar gelede het Oom Henk Dokter gevra toe ons kom kuier: “Wat gaat julle drenk? Tay? Kaffay? Een rondgedonderde melk?” Tot vandag toe nog die Struisbaai-kuier wat ek die beste onthou. Die oom het ‘n regte milkshake-masjien in sy kombuis gehad en dit het seker van batterykrag of met ‘n jinneryter gewerk want Eskom se liefde was toe nog nie so wyd verspreid nie. Dan die groepe kuiergaste wat saans na ete gaan stap het, sommer kaalvoet soms, in die grondstrate. So asof daar mos nie adders was nie. Die dambord- en kaartspeel by paraffien- en gaslampe. Toe het kuier nog gesels beteken. Kuier was meesal sonder drank in sig. Dit was mos lekker op daardie Struisbaai.

    Liked by 1 person

      1. Dis vir my ‘n groot kompliment as iemand net inval. Dit beteken hul ken my goed genoeg of ag my waardig genoeg. Natuurlik maak mens soms ‘n afspraak om te verseker die persoon is tuis, maar inval is nie ongewoon nie.

        Liked by 1 person

    1. Ek ken oom Henk Dokter. Of eerder, het geken! Maar ek kan nie sulke staaltjies oor hom vertel nie, ek kan hom te swak onthou.
      Struisbaai het eers in die 80’s krag gekry. Voor dit was dit gas en enjins. Jy’s reg!

      Liked by 1 person

  2. Daar’s niks so lekker soos kuier en saamwees nie! Dis mos waaroor die lewe gaan. Ek meen, as jy al die ander lekker dinge eenkant toe skyf, is dit net verhoudings en saamwees wat in mens se gedagtes bly.
    Groete
    Sune

    Liked by 3 people

  3. Dit is soos ek ook die lewe geken het, val sommer by iemand se huis in want jy is in die omgewing of eweskielik net lus vir kuier. Hierdie hedendaagse geafsprake maak is vir my so formeel. Ai, wat het van al die lekker kuiery geword?

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!