Ons kuier by ‘n SA boer

Boere is maar boere. Wêreldwyd. Dis vir ons lékker om by ander boere te kom en te sien wat hulle alles doen. 

So vanoggend het ons ons boer ontmoet, soos afgespreek en na sy plaas gegaan. Oud Suid-Afrikaner wat nou al ‘n geruime tyd hier in Aussieland boer. Ook al harde bene gekou, maar nou gaan dit goed met hom. Stokalleen behartig hy die plaas. 

Julle, dit het báie gereën hier. Hy sê ons sal nie sommer die Murrayriver weer só hoog sien nie. Deur modder ploeter ons om sy pragtige canola te sien en die spilpunte, die kanale, die oulike manier wat hy, sonder om enigsins die skape fisies te hanteer, met die rekenaar die regte ooi by die regte lam te sit. Elke skaap kry ‘n mikroskyfie en wanneer ‘n lam gebore word, kry sy ook ‘n skyfie. Dit word vir ses weke gemonitor watter lam watter ooi volg en per rekenaar ge’tag’. Blykbaar akkurater as DNA toetse! Ongelooflik!

Ons leer dat daar politiek rondom water is en besef dat almal maar hulle uitdagings het. Hy vertel dat hulle verlede jaar glad nie kon oes nie as gevolg van die droogte, terwyl hulle vanjaar weer amper te veel water het, hul weet nie wat om met alles te doen nie!

Sy vloedbesproeiing het ook ons monde laat oophang. Ons sukkel met baie mannekrag en as dit hoe is, dam die water op. Hy het ‘n monitor 3/4 in die land wat vir hom sms as hy die sluis moet kom toemaak en die volgende een oopmaak. Dit kan selfs elektronies gedoen word dat die sluise hulself toemaak en die volgende een oopmaak! Mens is nooit te oud om te leer nie!

Dit was ‘n héérlike uitstappie.

Vanmiddag het ons met ‘n stoomboot op die Murrayrivier gevaar. Die rivier is reeds 3 meter hoër as die normale en dit sal nog meer raak die volgende maand. 

O en ons het die Holden museum besoek. In die laat sewentigerjare het my pa ‘n Holden gehad. Groen met bruin dak. Daar was twee sulke karre op ons dorp en Sondae het die twee karre toevallig altyd agter mekaar geparkeer. Een Sondag het ons toe per ongeluk in die verkeerde een geklim ná kerk. Ons het vreeslik daaroor gegiggel. Nooit geweet dis ‘n Australiese voertuig nie! Dalk het my pa dit genoem, maar ek het dit nie ingeneem nie. 

As hier met tyd foto’s verskyn, is dit ‘n vloekskoot. Interessant is dat dieselfde foto’s op facebook sommer vinnig oplaai, maar ‘n nag is te kort om een foto op die blog te laai.

Ons kry koud!

Toortsie

18 thoughts on “Ons kuier by ‘n SA boer

  1. WordPress lol met media oplaai, daarom pos ek via email.

    Die boere daar in Oos-Stralijee of is dit Awestroilea lewe darem anders. Ek is ‘n IT-kundige met 34 jaar agter die blad en het gesien dat dit hoofsaaklik afgeleë boerderye was in SA wat eintlik tegnologie gebruik het. Die mees ongelooflike stelsels was 25 jaar gelede reeds in plek maar min wou dit aanskaf. Hulle is ons ook ver voor met tuisskool. In SA is dit seker maar nog net KenWeb wat regtig bruikbaar is. Ons kultuur hier is soms beperkend. Goed dat jy vir ons ‘n kykie gee op wat hulle daar oorkant gebruik.

    On 22 Sep 2016 9:43 AM, “Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie se blog” wrote:

    > Toortsie posted: “Boere is maar boere. Wêreldwyd. Dis vir ons lékker om by > ander boere te kom en te sien wat hulle alles doen. So vanoggend het ons > ons boer ontmoet, soos afgespreek en na sy plaas gegaan. Oud Suid-Afrikaner > wat nou al ‘n geruime tyd hier in Aussiela” >

    Liked by 2 people

    1. Wat ook die geval is, is dat ons in SA die arbeid het. Dit maak dat ons nie altyd nodig het om so baie op tegnologiese vlak te ontwikkel nie. Ons in SA kan ook so elektronies gevorderd raak as ons wil, maar ek glo dat ons ‘n verantwoordelikheid het om werksgeleenthede te skep, eerder as om te meganiseer sodat die massas gevoed kan word. Dis ons Christelike plig. Dis my persoonlike mening. Wat wel by ons eie plaas gebeur is dat ons baie van dit wat ons hier sien, gaan toepas op maniere wat by ons omstandighede pas. So groei ons.

      Liked by 1 person

      1. Solank die Christelike volk die Christelike werksetiek het en nie die ateïstiese Marxistiese politiek volg en wingerde, boorde, plase of roerende bates afrbrand nie. Baie wil graag salarisse ontvang sonder om dit te verdien. Op Worcester het manne met gesinne liewer in die son gesit en verarm as wat hulle in 2003 vir R45/dag wou werk. My vrou het toe 13-uur skofte sewe dae van die week gewerk vir R35/dag. Ekself het hard gewerk, geen kontant verdien nie maar ons het kos en blyplek gehad. Nooit gedink aan staak of geweld nie. Dis die gewelddadige proteste in SA sedert Karl Marx in Kaapstad gewoon het rondom 1850, dat dinge soos De Doorns, Grabouw en Marikana toé reeds gebeur het. SA is nie bloot ‘n arbeidssituasie nie maar diepverskuilde politieke agendas. Dit maak dinge moeiliker as in meeste lande.

        Like

  2. Jy kuier lekker in Ausieland!! My vriendin se twee seuns boer ook daar en sy het vir my gesê hoe heel anders dit is as hier. Ek is nie so ‘n groot voorstander van al die nuwe tegnologie nie. Dit voel vir my al te veel dit neem die plek van mense in. Geniet!!!

    Like

    1. In Australië kan hul nie anders nie, hier is nie hande nie. By ons probeer ons maar nog mense gebruik, al is dit soms erg frustrerend. Hierdie man boer man-alleen gemengde boerdery op baie hektare. Skape, graan en gaan nou intensief varke ook begin boer. Hy gaan wel hulp kry met die varke. Erg indrukwekkend.

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!