Toortsie se Toeka Tokkel oor Eienaardig

In opdrag van Scrapydo.

As ek aan eieaardig dink, dan dink ek aan vreemd, amper snaaks. Anders. Die HAT sê: “Wat ‘n eie, besonderse aard of karakter het; vreemd, snaaks, buitengewoon, ongewoon.

Gister, toe ek stap met my hond, toe loop my gedagtes sommer oor hierdie woord. Ek het sterk gene gekry van ‘n paar eienaardighede in ons familie, vreemdhede, en ek het dit vir baie jare onderdruk. Wat ‘n bevryding om uiting te gee daaraan! 🙂 Dis baie vreemd vir ander mense, maar ek is gelukkig in my vel. God maak nie duplikate nie, Hy het ons elkeen uniek geskape, so elkeen van ons sal eienaardighede hê, goed wat eie aan onsself is, goed wat anders is as wat die trop van ons verwag.

My gevolgtrekking is dat dit juis sterk mense, mense wat gemaklik in hulle vel is, wat die moed het, die gutz het, om hulle uniekheid uit te leef, om ‘n tree weg van die trop te staan en te sê, dit is wie ek is en ek is gelukkig daarmee! Ja, die gemeenskap kyk jou dalk vreemd aan, brom onderlangs dat jy aandag soek, verwerp jou selfs omdat jy nie 100% inval by die trop nie, by wat húlle sê die mode is nie!

Vir sommige mense is dit eienaardig om gehekelde klere in al die kleure van die reënboog te dra. Vir ander is dit eienaardig om jou geloof uit te leef, wat nog te sê te erken dat jy in Jesus glo.  Vir party is dit eienaardig (eintlik aards, platvloers) om sonder grimering te loop, terwyl dit vir ander eienaardig is dat jy wel jouself mooi maak met grimering en haarkleursel. So verskil ons maar almal.

Ek glo dat ‘n mens jou uniekheid moet uitleef, solank jy nie ander daardeur benadeel nie. Die lewe gaan nie net om my en my belangstellings nie, ons moet ook ander mense in ag neem.

Die opdrag was: ‘n Eienaardige gebeurtenis. Op ‘n stadium het ek telkens gedroom van ‘n mannetjie wat my wil kwaad aandoen. Ek het een nag wakker geword  van my eie stem wat sê: “In die naam van Jesus Christus, gaan net weg!” Hy het my nie verder geteister in my drome nie en kort daarná ook nie meer in my lewe nie. Eienaardig, né?

Toortsie

6 thoughts on “Toortsie se Toeka Tokkel oor Eienaardig

Gesels saam, asseblief!