‘n Vreemde man met ‘n vreemde versoek

Srapydo se toeka-tokkel: ‘n Eienaardige Ondervinding

Vir diè wat nie my lewensverhaal ken nie; ek het ‘n lewe voor Christus en ‘n lewe na Christus. Die een is ‘n lewe van duisternis, die ander ‘n lewe van Lig.  Hierdie gebeurtenis is toe ek nog in duisternis gelewe het.

Die groot stap was geneem. Tas in die hand het ek ‘n uur vroeër by die hotel aan die onderpunt van Hillbrow aangekom om my nuwe lewe saam met Ken te begin. Terwyl my hart swaar in my binneste klop het ek in die kamer met sy blou gordyne, my tas uitgepak. Ek het niks persoonliks uit my vorige lewe saamgebring nie, niks wat sou toelaat dat my moed my begewe, en ek terugdraai na die lewe soos ek dit geken het nie. Die kamer druk my vas en ek stap na die hotel se voorportaal toe, gaan sit op een van die rooi leunstoele, en plaas my bestelling vir ‘n drankie by ‘n kelner wat dadelik nader staan. Volgens my horlosie behoort Ken oor sowat ‘n uur en ‘n half by die hotel aan te kom. Ek steek ‘n sigaret aan, en probeer hard om nie te dink aan dit wat ek agtergelaat het nie, maar vind dit moeilik. Die toekoms strek donker voor my uit.

‘n Aantreklike man netjies aangetrek in ‘n pak klere en das kom die vertrek binne. Hy kyk in die vertrek rond, en kom dan na my toe aangestap. “Mind if I join you?” vra hy. Ek skuk my kop en sê hy kan maar sit. Ek was nog nooit skaam of bang om met vreemde mense te gesels nie, dus verwelkom ek stilweg die geselskap. Die kelner bring my drankie, en die man bestel vir hom ook een. Hy begin gesels, vra of ek nuut is in die hotel want hy het my nog nooit voorheen daar gesien nie. Sonder om hom te veel van my persoonlike lewe te vertel antwoord ek hom, en sê dat ek op Ken wag om van die werk af terug te kom. Ons gesels nog ‘n rukkie oor ditjies en datjies, maar ek word bewus dat sy oë almeer oor my liggaam begin dwaal. En dan uit die bloute tref sy volgende woorde my soos ‘n vuishou, en laat my sprakeloos na hom staar. “Forget about your boyfriend, I will set you up in your own flat on one condition you are mine alone.” My stilswye laat hom vreemd na my kyk. “Come on girl, you know this is a good deal, I have the money to make your life very comfortable, just say yes.” Daar is by my geen twyfel meer wat hierdie man in gedagte het nie, en my verslaentheid neem toe. “Wie de swernoot dink hy is hy om my soos ‘n prostituut te behandel?” Op my koel “No thanks,” sluk hy sy drankie weg en verskoon homself.

Ek het nie weer die spesifieke man gesien nie, maar dit was nie die einde van mans met eienaardige versoeke nie. Die raaisel is opgelos toe ons ‘n jonggetroude paartjie ontmoet wat ook in die hotel bly. Ek bekla eendag my lot by haar dat ek nie alleen in die hotel kan beweeg, of in die hysbak ry sonder mans se vreemde gedrag nie. “Nou wat verwag jy van ‘n hotel soos hierdie,” vra sy kopskuddend, “die hotel is bekend vir sy prostitute.” Ek het nog heelwat dinge in daardie hotel gesien en beleef wat my ‘n beter insig in Sodom en Gomorra gegee het.

19 thoughts on “‘n Vreemde man met ‘n vreemde versoek

    1. Ek ken ‘n lewe sonder God en die besluite wat in daardie duisternis geneem is wat soveel smart in soveel mense se lewens gebring het. Ek ken die genade van God wat my uit daardie duisternis kom haal het en my in Sy koninkryk geplaas het as sy dogter. Genade onbeskryfluk groot!!!

      Like

        1. Ek dink as ek die storie vir jou oor ‘n koppie tee vertel het, het ons albei gegiggel. Dis die storie wat ek nou die aand vir my dogter en haar man vertel het waaroor Ken so kwaad vir my was. Ek het maar gewik en geweeg of ek dit hier moet uitblaker… maar het maar oë toegedruk en gespring. Jy mag maar giggel want eintlik is dit snaaks

          Like

  1. Dis nou regte Sodom en Gemorra waarin jy jou bevind het. Dit is tog wonderlik hoe jou en Ken se oë oop gegaan het deur die Here se genade. Dankie dat jy dit gedeel het. Ek het as naiewe oujongnooi ook nogal te doen gekry met ouens wat kanse wou vat. Genadiglik het ek ook heel anderkant uitgekom. (selfs met my man se dinge ook!)

    Liked by 1 person

    1. Ja Scrapy, dat ons heel aan die anderkant uitgekom het is alleen deur God se genade. Omdat ek en Ken so in duisternis gelewe het, en daar nie ‘n greintjie godsdienstigheid in ons was nie, verstaan ek mense wat nie die Lig ken nie se gedrag beter. Om terug te kyk oor my lewenspad verstom ek my waardeur ek gekom het, en besef dis Genade onbeskryflik groot wat my tot hier gebring het. Ek was bekommerd toe ek niks nuuts op jou blog sien nie. Al gedink om vir Tina te vra of jy ok is. Ek was in hospitaal…. ook weer ‘n storie op sy eie. Mooi bly!!!!

      Like

      1. Dis beslis Genade onbeskryflik groot.
        Jong jy moet maar versigtig wees met jou gesondheid saam. Is jy darem weer uit hospitaal? Ek het die laaste week van kwartaal weer waargeneem as supervisor en saans eers 6 uur tuis gekom. Dan is dit kosmaak en skottelgoed was. Was te moeg om selfs die rekenaar aan te sluit. Ons het darem nou 2 weke vakansie. Nou moet ek net rus om laaste kwartaal aan te pak. Moet errste week van kwartaal steeds waarneem. Is maar bietjie rof op die ou liggaam maar die geldjie is nodig. Ek hoop jy het n rustige week voor jou. Hope liefde vir jou.

        Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!