Opgewonde

Scrapydo se toeka:tokkel – Opwinding/Opgewonde

As daar nou een uitdaging is wat my laat kopkrap het is dit diè een. Almal wat my ken weet ek hou van opwinding; branders ry, wilde “rides,” en dies meer, maar “opgewonde” is ‘n ander saak. Ek het deur my lewe van kindtyd af gegaan, en konnie aan ‘n insident dink waar ek opgewonde was nie. Nie eers toe ek na twaalf jaar my twee seuns weer sou sien, was ek opgewonde nie. Daar was miskien onderdrukte opgewondenheid, maar daar was te veel ander emosies daarby betrokke. Ek beklaag toe my lot by my jarelange vriendin en vra wat dink sy, en haar woorde was; “Jy is reg, het jou nooit hoor sê ‘Ek sien so uit of ek kannie wag nie.’ en voeg toe by dat haar belewenis van my een van rustigheid is. Ek klink vir myself toe so goor dat ek wonder of ek nie in my jare van rebellie ‘n interessanter mens was nie.

Met al hierdie gepeins besef ek toe dat ek vanuit ‘n plek baie diep binne in my lewe, en dat daar party emosies is wat nie sommer die oppervlakte haal nie. Nie eers my eerste soen het my opgewonde na Aletta toe laat hardloop om haar daarvan te vertel nie; die belewenis daarvan was te diep. Daar is wel iets wat my dadelik “trigger” en noem dit maar “opgewonde” maak, maar nie in die konteks van bly wees, of na iets uitsien nie. Ek haat onregverdigheid, en meerwaardigheid met ‘n passie, en wanneer ek dit teëkom wil ek dit dadelik nek omdraai. Een so ‘n geval was die oggend toe ek staan en geld tel het in die winkel waar ek my fotografiese kursusse gedoen het. Van voor uit die winkel hoor ek stemme, en die volgende oomblik sê die persoon kliphard en met ‘n bombastiese stem, “Weet jy wie ek is? Ek is dokter so en so.” Diè woorde tref my soos ‘n elektriese skok, en laat my swart sien. Ek tol om en stap woedend na voor, net betyds om ‘n man vinnig die winkel te sien verlaat. Seker ook maar goed dat die dokter hom vinnig uit die voete gemaak het want die woorde op my tong was; “En wat maak dit van jou DOKTER!!! ‘n god waarvoor almal moet buig? Ek sou hom mooi laat verstaan het dat Jonas wat voor hom hier was – en vir sy paar mik en druk kiekies wag – nie onbelangriker is as hy nie.” “That man can be glad it wasn’t me who helped him,” sê ek vir die verslae winkelklerk, en met ‘n hart wat uit my keel wil spring stap ek terug na agter.

Laat my nie op so ‘n kwaai noot afsluit nie maar eerder vertel van Jay se kinderlike opgewondenheid tydens haar tweede huwelik. Die oomblik toe die pastoor hulle as man en vrou verklaar het Jay haar hande op eg kinderlike manier saamgeklap, en op en af gespring van blydskap, en toe net daar haar man om die nek geval en hom gesoen, en gesoen. Dit was pragtig om te sien en o so kosbaar!!!

 

13 thoughts on “Opgewonde

  1. En daar loop n hele paar “dokters” rond wat dit doen. Eintlik voel ek oor opwinding soos jy. Ek kon nog nooit uiting gee aan my innerlike gevoel nie. Ek sal opwinding diep binne my voel maar nooit dit werklik laat uitkom nie. Dis hoekom ek met vrymoedigheid kan sê ek is in werklikheid n gevoellose mens! As dit by diere kom sal ek bietjie ontdooi maar met mense – nee.
    Ons het erge koue op oomblik. Vanoggend vroeg natgereen in ysige koue. Nou sit ek tuis lekker warm en dit hael op oomblik. Ons bergpaspad is gesluit agv sneeu. Bly my oggend uurtjie van oppas is verby. Vanmiddag is ek alleen by naskool. Onderwysers “strike” en gaan betoog oor onregverdige sny van onderwys gelde.

    Like

    1. Ek dink ek verstaan wat jy rondom jou gevoelens sê…. maar dit maak jou nie gevoelloos nie, jy ervaar dinge net diep binne jou. Ek noem dit ‘n diep mens. Gedog ons weer en julle s’n loop hand aan hand. Watter seisoen is dit nou by julle? Hopenlik toi-toi die onderwysers nie!!! Mooi dag vir jou.

      Like

Gesels saam, asseblief!