Geskenke

Jak 1:17: “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie.”

Ja! Elke geskenk, elke goeie ding in my lewe, kom van God af, selfs al het mense dit vir my gegee. Dis God wat dit bewerkstellig dat dit gebeur.

Dat ek hier in die Overberg op ‘n plaas kan woon is net ‘n geskenk van Bo. Die lieflike reën wat ons die naweek gehad het, is ‘n geskenk van Bo. As ek by my kantoorvenster uitkyk en die jong, nuwe gras sien wat blink in die son, besef ek, dis ‘n gawe van Bo.

My man en kinders is ‘n geskenk van God af. Die vreugde wat hulle my bring, ook. My man se sorg is ‘n geskenk van God af. My dankbare hart ook!

My blog, waaroor ek in die begin so getwyfel het, dit slurp soveel van my tyd op, is ‘n geskenk van God af. Hy het dit vir my gegee sodat ek vir ander iets kan beteken, maar veral sodat ekself ook kon groei, groei in my menswees, groei in skryf, groei in mensekennis, groei in wat ek glo, groei daarin om my woorde te oordink voor ek dit skryf en ‘ma’ te staan vir dit wat ek skryf. Groei om ook in myself te glo.  Uit my blog het soveel nuwe geleenthede ontstaan, die boek wat ek uitgegee het, was ‘n besliste geskenk van God. Hy het dit vir my gegee om iets nuuts te hê om my aandag te verg noudat al my kinders uit die huis is en hulle eie dinge doen. Die besigwees met die boek het my gehelp om deur die swart gat gesleep te word. En dit alles het begin by my heel eerste bloginskrywing wat ek bang en onseker geskryf het. Die blogmaats moes die vrees raakgelees het, want sommer gou het een vir my geskryf dat hulle nie byt nie. Danksy die blog het ek die voorreg gehad om deur radiostasies genader te word vir radio-onderhoude en in hierdie jaar nog kom daar nog ‘n verrassing, waaroor ek nie nou te veel kan uitlap nie.

Dis nie net ék wat so bevoorreg is nie. Ook jy! Ook jy word geseën met geskenke van God. Dalk ander geskenke as waarmee ek geseën word. Kyk ‘n bietjie om jou rond en indien jy dit nog nie raakgesien het nie, kyk spesiaal uit vir geskenke van God af, net vir jou.

Mooi loop

Toortsie

Toortsie by Finesse:Toe vang die angs my

Toortsie se Faceboekpage

Toortsie se Bantingboerekos faceboekpage

Toortsie’s LCHF Journey

Finesse Blogger van die week. 

Toortsie op die radio

toortsie_2016_photographybylize (16)

6 thoughts on “Geskenke

  1. Ek hou ook baie van jou foto, Toorts! En van jou pragtige woorde. Wees vandag dankbaar, is elke dag op my doenlysie. Is jou boek as ‘n e-boek beskikbaar? Sal so lekker wees om hier in die vreemde in Afrikaans te kan LCHF.

    Like

    1. Hy is ongelukkig nie as Eboek beskikbaar nie. Om een of ander duister rede kon ons dit nog nooit regkry nie. Ek pos internasionaal so jy kan net praat dan stuur ek hom. Dankie vir mooi woorde.

      Like

Gesels saam, asseblief!