Goed genoeg?

Maankind het ‘n baie interessante bloginskrywing gemaak oor temas wat homself herhaal in jou lewe. Om die waarheid te sê, haar inskrywings is altyd interessant. Of ek en sy ooreenstem oor die gedagte van reïnkernasie, is nie nou ter sprake nie, ons het nog altyd mekaar se sienings gerespekteer.  Ek het by haar gereageer en is bang ek neem haar hele blog oor, daarom hierdie inskrywing van my.

My hele lewe lank kom die gedagte telkemale in my kop op: “Ek is nie goed genoeg nie”. Niemand het dit nog ooit vir my gesê nie, maar enige niksbedoelde opmerking kon dalk in my hart opgeneem word as nie goed genoeg nie. En dis nie ‘n geval van selfgesentreerdheid nie.

As jongste kind het ek ook mos maar nie eintlik ‘n sê gehad nie en wanneer ek my vreemde idees geopper het, is dit deur iemand geveto. Maar dit was okay, ek ís mos immers die jongste!

My broer was ook baie slimmer as ek en ook dit was regtig nie vir my ‘n probleem nie, ek het presteer op my eie manier.

Tog, in ander situasies, sal die stemmetjie telkemale vir my sê, nie goed genoeg nie, en dit het al hoe erger geraak soos ek ouer word, terwyl ek regtig al so lank daarteen veg. Ek het kursusse gedoen sodat ek in my eie hart kredietwaardigheid kan hê. Ek het dit sielkundig benader, met myself gepraat, geraas, soveel so dat ek myself eintlik heeltemal oortuig het, ek is goed genoeg. Sonder dat mense dit besef, probeer hul my ook oortuig, goed genoeg, goed genoeg, goed genoeg … ja ja jaaaaaa!

Maar waar lê die fout?

My HART!

Dit help nie ek doen alles in die wêreld om myself te oortuig nie, dit help nie ek doen my uiterste bes nie, dit help nie my oë sien dit en my ore hoor dit en my verstand word oortuig daarvan nie, maar my HART wonder nog daaroor nie.

Dís waar die gebedsberading inkom. ( Transformation Prayer Ministry) Daardeur kon ek die leuen sien wat ek glo. Die leuen is nie dat ek nie hard genoeg probeer nie, of wat ook al nie, die leuen wat as sewejarige in my kop sy vastrapplek gekry het, is dat ek glo ek nie goed genoeg is nie, en omdat ek nie goed genoeg is nie maak ander mense hul make, wat totale NONSENS is.

En God SELF kom wys my dat ek goed genoeg is, dat ek behoort, goed wat ek tog WEET, en omdat Hyself vir my dit wys en sê, hoe kan ek dit dan nie glo nie? En weet julle watter verligting is dit? Skielik kom ander goed ook reg, goed wat al vir 30 jaar massiewe probleme in my hart en lewe veroorsaak het, omdat ek dit nou die heel eerste keer in my Hart glo.

So dis my storie! Wat is joune? Watter leuen glo jý dalk jou lewe lank, iets wat jou vreugde op soveel gebiede steel, wat veroorsaak dat jy nie jou volle potensiaal bereik nie, wat maak dat jy dalk soveel harder moet probeer as wat nodig is? Kom by iemand uit wat jou kan help, hoor God se hart en sien hoe kosbaar jy vir Hom is.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: So nou sal ek seker maar die pannekoek moet bak?

Toortsie se Faceboekpage

Toortsie se Bantingboerekos faceboekpage

Toortsie’s LCHF Journey

Finesse Blogger van die week. 

Toortsie se getuienis: Radio Tygerberg

14 thoughts on “Goed genoeg?

  1. Ek het al lankal geleer om nie myself te dissekteer nie.As mens mooi dink daaroor,is almal maar besig op sy eie mishopie met sy eie stryd en niemand is regtig gepla oor ‘n ander een se goedwees of nie goedwees nie.Ek is nou eenmaal wie ek is en verwag niks van buite om myself te aanvaar nie.

    Liked by 1 person

  2. Ek is bang vir mense. Ek is bang ek maak my naam gat of hulle lag vir my want ek is stupid. Dit maak dat ek baie dinge nie eers probeer nie maar werk aan dit. Een storie op ‘n slag.

    Like

    1. So dra ons almal aan goed wat onnodig is. As ek kyk hoe goed jy skryf kan ek nie dink dat jy jou naam sommer gat sal maak nie. En as jy dit wel doen, so what! 🙂 Maar op die ou end moet jy dit in jou kop en in jou hart glo. Werk daaraan. Oorwin daardie vrees. Dis die moeite werd. Good luck.

      Like

    1. Dink dis ‘n Afrikaanssprekende probleem. Ek dink ons is sonder dat ons besef het so grootgemaak ook. Ons moes so altyd bewys ons taal is goed genoeg en ons land is goed genoeg. Of raak ek nou filosofies?

      Liked by 1 person

  3. Presies my probleem ook. Ek het nooit gedink dit wat ek doen is goed genoeg nie. Ek blameer ‘n bietjie my Pa wat nooit vir ons affirmation gegee het nie. Maar mens leer jouself ken en oorkom al die issues mettertyd. My man is weer erg introvert en is eenmaal geboelie. Hy dink ander mense praat van hom as hulle ‘n in ‘n kamer ingaan en die deur toemaak. Weird, maar ook iets wat hy herken en op reageer.

    Like

Gesels saam, asseblief!