Amy se strik

Scrapydo se toeka-tokkel: Strik

Ons kuier al vir die laaste maand hier aan die Suidkus, en het darem so vier of vyf windlose dae gehad. Daardie brander wat ek wil ry sal maar moet wag; ek het ‘n spier in my arm of geskeur of verrek, en is dus heel onhandig op die oomblik. Nou wat op aarde het dit met ‘n strik te doen? Niks, maar ek kom daarby.

Amy, ons sewejarige kleindogter sorg vir heelwat amusante oomblikke. Soos ‘n skoenlapper fladder sy van een spel na ‘n ander. Tot eet is ‘n speletjie. Die paddavissies in hulle visdam kom handig te pas as karakters in haar stories. Sy het besluit twee van hulle moet trou, en maak toe in haar skulpvormige babaswembad alles reg vir die spesiale okasie. Twee paddavissies word voor die preekstoel neergesit, maar voordat die huwelik voltrek kon word, spring die bruid binne in die water, en ontsnap so uit die strik wat Amy vir haar gestel het.

Diè naweek wat verby is sit ons op die stoep toe Amy met ‘n kartondoos, ‘n tou uit lap gemaak, en ‘n stukkie besem haar verkyning maak. Sy wil vir Pepsi, hulle miniatuur worshond in ‘n strik – of is dit nou ‘n wip – vang. Daar word bietjie aan die kartondoos verander, die stukkie besem met tou aan word so staande gemaak dat dit die deksel oophou, en Pepsi word gehaal.  ‘n Vienna word voor haar neus gehou, en daarmee word sy na die boks toe gelok. Met swaaiende stert betreë Pepsi die boks, maar o weë die boks is te klein, haar agterlyf steek nog uit. Amy laat haar nie afsit nie, en besluit om dan maar ‘n voël te vang. Hierdie keer dien ‘n stuk doughnut as aas. Die boks word in die tuin neergesit, maar dit is nie voëls nie, maar wel miere wat heel vrywilliglik in haar strik trap.

20160817_150143Net toe ek dink dit is nou die einde van Amy en haar strikke, kom sy met ‘n lang deurskynende houer en deksel daar aan. “Have you seen any mosquitos ouma,” wil sy weet. Ja, sê ek en as hy weer op my kom sit en bloedsuig klap ek hom. “You should not do that, they are all God’s creatures, and he made mosquitos to suck blood.” Red my siel met so ‘n kleinkind!!!! Op my vraag wat sy met die houer wil maak antwoord sy dat sy ‘n muskiet wil vang vir ‘n troeteldier. Tipies ‘n muskiet, is daar toe geen een te vinde nie. Dan maar weer ‘n strik stel besluit Amy. Daar word water in die houer gesit, en ‘n takkies met ‘n paar blare aan binne-in staan gemaak. Die houer word op die tafeltjie neergesit; “I think the mosquitos will love this beautiful place,” sê Amy toe sy haar handewerk bewonderend gade slaan. Die donker roep ons na binne, en verbeel ek my of hoor ek al wat insek is ‘n sug van verligting slaag.

22 thoughts on “Amy se strik

  1. Kan ek vir Amy leen vir ‘n paar weke? Die muskiete baljaar hier onder in die lagoon waar die water staan en vrot. Hierdie weer is absoluut misrabel en die werkers sukkel nog steeds om die strande skoon te maak.

    Like

    1. As jy genoeg houers het kan jy haar maar leen 🙂 Tot dusvêr het die muskiete hulle gedra… maar hulle winter is blykbaar oor en hulle is op die oorlogsveld. My vriendin is in Australia en blykbaar is hulle weer net so deurmekaar. Die wêreld staan op sy kop.

      Liked by 1 person

    1. Wonder of daar ‘n plaaskind is wat dit nie probeer het nie? Ons het voëltjies probeer vang….. maar dink ook nie ons was suksesvol nie 😦 Dit is nog lekker speel!!!

      Like

  2. Dit is n pragtige vertelling (wip en strik kan maar onder selfde kam geskeer word) Ek geniet die 5 jarige kindertjies baie, hulle speel nog. Veral die oggend urr voor skool speel hul te lekker omdat hul nie op hul eie is nie. Die een dogtertjie teken eers gou haar ponie, ek sny uit en sie daar sy het n ponie om mee te speel. Sy mag nie meer speelgoed skooltoe bring nie omdat haar aandag net daarby is en nie by werk vir skool nie. Hul lewe hulself so in die speel in dat hul nie wil oppak om klas toe te gaan nie.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!