Ons almal het issues

Of ons dit nou wil erken of nie, of ons daaraan werk of nie, ons almal loop met bagasie rond. Ook ek!

Selfs ek, wat soveel hieroor lees. Selfs ek wat baie met myself praat, konsentreer op positiwiteit. Selfs ek wat met die Here saamloop, ja selfs ek loop met bagasie. En weet julle wat is die ergste? Ek WEET al hierdie goed, ek VERSTAAN dit, ek KRY DIT REG om my kop reg te praat, tot die krisis regtig kom en dan is die ou gewaarwording maar weer daar, die een wat al vir jare saam met my loop, die een wat ek al erken het.

In ‘n driewekejoernaal met ‘n spesifieke doel raak ek van baie dinge bewus, maar ook dat ek na my vriendin, die Theophostics berader moet gaan. My lyf, my siel, my wese skree vir ‘n gebedsberading. Tydens die berading moet ek mooi konsentreer, luister, want ek ken mos die regte antwoorde, ek weet mos hierdie dinge, ek is gewoond om vinnig te antwoord, maar my beradervriendin vra my, ‘Is dit wat die Here vir jou sê of probeer jy Hom ‘n bietjie help?’ In ‘n baie lang gebedsberadingsessie kom die aanvanklike probleem, die een wat my by haar gebring het, ter sprake, maar nee, wanneer het jy nóg presies so gevoel, wanneer vóór dit, en nog voor dit, en nog voor dit, tot ons uitkom in Sub A! In Sub A is hierdie spesifieke verkeerde gevoel al in my hart gevestig, en in my later jare, wanneer ek weer hierdie selfde gevoel ervaar het om presies dieselfde rede, maar net in ‘n ander baadjie, het ek daardie mense begin wantrou, onbewus daarvan dat die duiwel al toe ek sewe jaar oud was, sy voet in die deur gekry het.

Maar in die gebedsessie wys God vir my nog baie meer: Hy wys my dat Hy altyd vir my die oplossing byderhand gehad het, die uitkomkans, iets anders wat vir my meer werd was en Hy wys my ook dat ek dit altyd gebruik het, dat dit eintlik deel is van my lewensmotto, dat ek dit mag glo. Want dís waar die eintlike storie lê, ek het hierdie goed al in my kop verwerk en weet dit in normale omstandighede, maar het dit nie noodwendig diep, diep, diep in my hart geglo nie.  En hier kom sê God self vir my wat ek so graag wil hoor en hoe kan ek nou nie anders as om dit te moet glo nie, dit kom dan van God self af?

En toe ek die OORSPRONG van daardie gevoel besef, kon ek al die eintlik onskuldige insidente wat my deur die res van my lewe gepla het, ook verstaan en besef dat dit eintlik nie so erg was nie.

Dra jy swaar aan jou issues? Dalk moet jy uitkyk vir ‘n Theophostics gebedsberader.

Groetnis

Toortsie

Toortsie se Facebookpage

Toortsie se Bantingboerekosboek faceboekpage

Toortsie by Finesse: Malgas se pont

Toortsie’s Banting Bash Blog 

 

21 thoughts on “Ons almal het issues

  1. Ek is ‘n great believer van gebedsberading. Na jare wat ek psigiaters en sielkundiges en plekke en pille en en en probeer het, het ek uiteindelik in 2010 begin gaan vir gebedsberading. En dit was fantasties. Dis so fantastiese ligte gevoel om iemand WERKLIK te kan vergewe (ek moes ook leer dat dit nie noodwendig beteken dat ek alles sommerso sal vergeet nie). Maar die mees oorweldigende (?) gevoel is om werklik jammer te voel vir daardie persoon wat jou soveel leed aangedoen het en selfs dae lank te huil oor jy hom so jammer kry. En om te verstaan hoekom hy die dinge doen wat hy doen (weereens, om te verstaan beteken nie om sy dade te regverdig nie).

    Daar is beslis bevryding in gebed. En in geloof. (ek weet nie of ek dit reg sê nie, dit klink so dom, maar ek is seker jy weet wat ek bedoel!)

    Liked by 1 person

  2. Verseker het ons almal – mense deal net verskillend daarmee en party mense KIES om glad nie daarmee te deal nie, dit is hartseer.
    Sjoe ek dink ek moet dit ook dalk oorweeg. Ek moet bietjie kyk waar ek iemand kan kry.

    Like

    1. Ek dink ons kom nog uit die ou skool van moenie oor die goed praat nie, los dit net uit, en dit is hoekom soveel mense kies om dit net uit te los. Tog kry ek die gevoel mense raak oper en begin al hoe meer van beraders/sielkundiges/wat ook al gebruik.

      Liked by 1 person

  3. Dis wonderlik om so “vry” te voel na sulke gebedsberading sessies. Ek kan saampraat oor die gevoel. Toe ek met berading begin het het ek op ou einde d m v gebed vrede kon maak nie net met my man se dood maar ook met my kinderjare wat ook nie te maklik was nie. Mens het iemand nodig om te help om oop te maak. Op jou eie kan jy tot op n stadium wegkom maar mens pak die werklike deel meestal diep weg, in jou onderbewussyn bly dit steeds daar. Dankie vir die deel van jou gevoel.

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!