‘n Byt met vuur

Scrapydo se toeka-tokkel: ‘n Byt

Ek kan werklik nie meer tred hou met wat ek al vertel het en wat nie. Indien ek nou vir julle dieselfde storie vir die soveelste keer vertel, wees my asseblief genadig soos ek was toe my pa in sy oudag vir my dieselfde drie grappies oor en oor vertel het.

Dit is laataand. Uit die hoek van my oog sien ek in die boonste hoek van die deurkosyn “iets” hang. Ongeërg maak ek myself kleiner en stap na my kamer toe. Die oomblik toe ek op die kussing gaan lê skiet ‘n brandpyn deur my skouer, en begin soos vuur deur my liggaam trek. Ek gil kliphard, en kort voor lank kom my ouers die kamer ingestorm. Huilend beduie ek na my skouer; een kyk en my pa sê verwonderd dat dit ‘n spinnekopbyt is, en dat ‘n dik rooi streep al klaar tot by my rugraat trek. Ek gee nie om hoe dik die streep is nie, ek soek verligting vir die vuur in my wat met elke sekond in intensiteit toeneem. My pa se boereraad van tabakolie opsmeer help niks. “Jy sal die dokter moet gaan bel,” sê my ma bekommerd. Dit beteken dat my pa ‘n hele ent na die naaste telefoonhokkie toe moet stap.

Met sy terugkeer vertel hy dat die dokter vir ‘n telefoonoproep na ‘n kraamgeval toe wag, en sal kom sodra die baba gebore is. Intussen krul ek op my bed van pyn, en sou sekerlik die beddegoed uitmekaar geskeur het was ek sterker. Ek is vaagveg bewus van my ouers se kom en gaan maar so vasgevang is ek in pyn dat die buitewêreld nie bestaan nie. Die bed het intussen te klein geword; met my vingers grawend in die mat kruip ek op die vloer rond, en nogsteeds verminder die vuur in my binneste nie. Ure later en my ma stuur weer my pa om die dokter te gaan bel. Die dokter is by die kraamgeval, en sal kom sodra die baba gebore is. In my kokon van vuur, soebat ek, huil ek, kreun ek, of lê net natgesweet in die vuur se arms en wag vir die dood. Agt ure van hel, en die vuur het homself uitgewoed. Sesuur die oggend stap die dokter my kamer binne, en met skok op sy gesig steek hy vas en roep uit “My God!!” Hy draai na my pa toe, “Hoekom het jy nie vir my gesê dit is so ernstig nie?” “Jy moes haar dadelik hospitaal toe geneem het.”

Ek kan myself nie sien nie, maar blykbaar het die nag van marteling sy merk op my negentienjarige liggaam gelaat. Die dokter ondersoek my, en skud dan sy kop. Dit lyk nie na ‘n spinnekop byt nie, en hy wil weet of ek nie die “ding” wat my gebyt het gesien het nie. Ek verbeel my ek het sekondes nadat ek begin gil het iets sien vlieg, maar is nie seker nie. Hy gee my inspuitings en verseker my dat ek nou lekker gaan slaap. Volgens hom kan ek dankbaar wees ek lewe nog, want het ek by die dood omgedraai.

 

Advertisements

35 thoughts on “‘n Byt met vuur

    1. Haha jy! Jy gaan brand. Siestog, my ma het ook so in haar diep negentigs begin om dieselfde storie oor en oor te vertel. Ons het net verlede week daaroor gepraat. Om die waarheid te sê, jy het my nou ‘n idee gegee vir ‘n blog.

      Liked by 1 person

      1. Ai Hester, miskien moet ‘n mens soos jy ouer word maar nie jou lewensverhaal vertel nie. Maar dit bly maar lekker om so in die verlede rond te krap en neer te skryf. Ek sien mos hierdie bloggery as sisteem skoonmask en ‘n joernaal.

        Liked by 1 person

          1. Ek word sommer lief vir hierdie klomp gesiglose mense op blogland. Voel partykeer soos ou vriede. Ons stem definitief nie met alles saam nie, maar nie eers in ‘n huwelik voel altwee dieselfde oor ‘n saak nie.

            Liked by 1 person

    1. Sien nou hoekom ek nie uit die kar wil klim daar waar slange vir jou onder die sand wag nie!!! Ek dink nie dit was ‘n slang nie… ek glo dit was daardie ding wat in hoek van kosyn gesit het. Sal gsan lees wat jou ma sê. Wil net byvoeg dat geboortepyne speletjies is teen daardie gif.

      Liked by 1 person

      1. Nee, Dorie is my beste vriendin en ons spot altyd. Nou begin ek wonder of ek nie tog wel jou storie vergeet het nie. maar wat maak dit eintlik saak, dis so lekker om dit te lees! En te weet jy het dit oorleef ten spyte van jou nag van hel. Sjoe, dit moes verskriklik gewees het!

        Liked by 1 person

        1. Baie, baie erger as geboorte gee. Ek dank God vir sy genade…. ek was daardie jare nog nie wedergebore nie, en het definitief nie “He put His seal of ownership” op my gehad nie. Dink daardie nag van vuur was maar net ‘n voorsmakie van ‘n ewigheid wat vir mense sonder God wag.

          Liked by 1 person

  1. Dis darem maar n ding wat mens nie jou grootste vyand mag toewens nie. Daardie tyd het hul ook nie die teengif van vandag gehad nie. Die dr het ook nie mooi na jou pa geluister nie! Jy het nog nie die petalje voorheen vertel nie. Sjoe dis darem vreeslik om te dink jy kon dood gewees het as jou liggaam nie sy eie teengif gebruik het nie. Dankie vir jou vertelling.

    Like

    1. Dit was voorwaar die ergste nag van my lewe…. en soos jy sê ‘n mens gun dit vir nie eers jou vyande nie.
      Gedink miskien kan ons “‘n eienaardige ondervinding” ‘n onderwerp maak. Miskien kry jy ‘n beter woord vir eienaardig. Sommer iets wat nie aldag met ‘n mens gebeur nie.

      Like

    1. Glimlag ek nou vir jou…. die storie sou saam met my graf toe gegaan het. Ek is baie dankbaar ek het dit gemaak want ek was nie ‘n kind van God nie…. en ek het gedink die byt met vuur was erg!!!

      Liked by 1 person

      1. Die brandvuur-gevoel wat jy gekry het, laat my meer dink aan skerpioen se kind. In Namakwaland is daar so ‘n klein skerpioentjie – as hy jou byt is jy in die hel, of so voel dit. Gewoonlik oorleef mense die byt, maar dit is glo geweldig pynlik.

        Like

  2. Help nogal as mens goggas ken. Wys nou net hoe die dokters destyds heel casual oor sulke dinge was ne. As hy agt ure later eers opgedaag het, “na die baba se geboorte” kon hy mos ook voorsien het die baba gaan nog ‘n ruk wees en gaan kyk het. Ek meen, self toe, was dit nie rocket science of te bepaal hoe ver die ma ontsluit het nie. Bly jy het oorleef.

    Like

    1. Ook gedink terwyl ek skryf wonder hoekom die dokter nie net maar ‘n vinnige draai by ons gemaak het nie. Maar nouwel, die water is onder die brug deur… en God was my genadig.

      Like

  3. nee dis rerig d eerste keer wat jy hierdie storie vertel. sjoe dit moes erg gewees het! ek dink ook dit was ‘n skerpioen. my ma was 2x gesteek en jou pyn klink soos sy dit beskryf het.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s