Happy Birthday!

Ek verjaar vandag! Nee man, dis nie my geboortedag nie, maar die herdenking van die dag wat ek ‘n totale ommeswaai in my eetpatroon en leefstyl gemaak het.

Vandag, 27 Julie 2016, is dit presies 2 jaar sedert ek begin het met LCHF, oftewel Banting, of soos party mense sê, die Tim Noakes dieet. Ek kyk nog steeds net vorentoe en nie een oomblik terug nie.

My eerste uitdaging was om net aan te pas by die nuwe eetprogram, om te onthou wat ek mag eet en wat nie. Nog ‘n uitdaging was om soveel as moontlik hieroor op te lees om myself te oortuig dat dit regtig ‘n goeie ding is. ‘n Groot uitdaging wat ek vir myself daargestel het was om dit vir drie jaar te doen, sodat dit dan ‘n leefwyse is. Wel, twee derdes is verby, en dis al lankal ‘n leefwyse, beslis nie ‘n dieet nie!

Ek wil dit steeds nie op enige iemand afdwing nie, maar ek kan met oortuiging sê dat dit vir my werk. Ek het beslis ‘n eetversteuring gehad en het dit dalk nog steeds, maar met my huidige eetprogram is dit heeltemal binne beheer. My bloedsuiker het geklop aan diabetesstatus, ek was amptelik geklassifiseer as ‘vetsugtig’, of ‘obese’, soos soveel mense praat, ek moes cholesterolmedikasie drink en nog baie ander medikasie ook. My dokter het vir my gesê ek het ‘Metaboliese Sindroom’, dalk nog nie in die ergste graad nie, maar dit was daar. Insulienweerstandigheid was ‘n gegewe.

Wat kan ek sê? Ek is GESOND! Ek het geen suikerverslawing meer nie, my eetversteuring is onderbeheer. Cholesterol? Wat is dit? Bloedverdunners? Hoe nou? Diabetes? Hoe bedoel mevrou dan nou? Vitamienpille? Vir soveel jare het vitamienpille my regop en aan die gang gehou, nou drink ek slegs hier en daar een. Bleekheid? Hoe bedoel jy nou? Kroniese moegheid? Dis weg! Insulienweerstandigheid? Geen probleem!

Presies ‘n jaar gelede het ek aangekondig dat ek ‘n boek wil uitgee en het die blogmaats my so fantasties aangemoedig, ondersteun, raad gegee. Baie baie dankie! Julle is sterre! Nou is die boek al ou nuus, dit verkoop goed, die Engelse vertaling verskyn binnekort, en skielik begin deure vir my oopgaan. Steeds bly my gebed dat ek dit wat oor my pad kom, moet kan hanteer, dat God my die onderskeidingsvermoë sal gee om te sien watter geleenthede ek moet gebruik en watter deure eerder moet toe bly.

Ek is dankbaar. Vir my was dit regtig ‘n verandering van lewenswyse, ‘n verandering waarby ek gemaklik aangepas het en kan volhou vir nog baie lank.

Groetnis

Toortsie

As jy die ‘before’ en ‘after’ wil sien, loop loer op Toortsie se Bantingboerekosboek faceboekblad.

Toortsie se faceboekblad

Toortsie by Finesse: Malgas se pont

Engelse voorblad voorblad 001

 

14 thoughts on “Happy Birthday!

Gesels saam, asseblief!