Die Winter

Scrapydo se toeka-tokkel: Winter

Ek het op vêr paaie teruggeloop en die winters in my lewe probeer herroep, en kom toe tot die gevolgtrekking dat die ouderdom van my ‘n sissie gemaak het. Ek onthou die vroegoggend ryp op die speelgronde, en hoe dit onder my skoolskoene gekraak het; maar speel het ons gespeel. Ek het nie toegedraai in ‘n kombers iewers op ‘n bankie gesit nie. Op hoërskool het die klaskamers sulke grysgeverfte pype as verwarmers gehad. Wanneer ons die eerste periode uit die koue inkom, het ons gou ons hande om die pype probeer warm maak, maar daarna het die dag normaalweg verloop. Daar was geen gekerm en gekla oor die koue nie. Ek het begin werk, en tot hier het die lewe sy normale gang van somers en winters geloop. Al verskil was dat ‘n mens warmder aangetrek het, maar sowaar ek sien nie kaggelvure, en verwarmers nie.

Maar toe trek ons tussen die mielielande in, en meteens word ons met werklike koue konfronteer. Een nag se swartryp en die wêreld lyk morsdood, en o so mistroostig. My kinders word met lae, en lae klere aan skooltoe gestuur. Hulle lag vandag nog oor die papie-effek, en die onbeweeglikheid daarvan. Elektriese komberse word ‘n moet. Wanneer ons tv kyk klim ek en Ken elkeen in ‘n slaapsak, en so gaan ons deur een en twintig winters.

Ons trek Pretoria toe. Dis warm, baie, baie warm. Ek kry swaar in die hitte, maar die winters – wat hier baie warmder is as tussen die mielielande – begin my vang. Hoe salig sou dit nie wees as ons kon hiberneer nie. Gaan lê aan die begin van die winter lekker snoesig op jou bed, en word wakker wanneer die lente roep. Ek is in elk geval ‘n nul op ‘n kontrak werd in die winter. Na middagete maak ek die boontjiesak warm. Draai myself en die sak in ‘n duvet toe, en sit op die “relaxer,” en vergaan. Die elektriese kombers word vroeg aangesit, en ek kannie wag om so vroeg as moontlik in die bed te klim nie.

Die winter het darem sy voordele ook; sop en pannekoek!!! Wonder wie sal vanmiddag vir ons pannekoek bak? Toooooooooortsie!!!!!

25 thoughts on “Die Winter

  1. Ek is ook soos ‘n kroes hoender in die winter. Jy kry mos ook nie regtig ordentlike warm klere vir vrouens nie, die materiaal is altyd dunner en die arms en bene nie lank genoeg nie. Ek trek sommer my man se warm sweetpakke aan. Die nagte is watm ja – ek slaap in somers pj’s.

    Liked by 1 person

    1. O liewe, my man is so groot ek sal versuip in sy sweetpak. Nou laat die prentjie my glimlag. Bly jy sê die nagte is warm daar…. juis so hartseer dat ons nie elektriese kombers saamvat nie.

      Liked by 1 person

      1. Dis nie so koud soos op die hoeveld nie, maar die aanhoudende reen en koue dae kan soms kajuitkoors tot gevolg he! Oor die algemeen egter hou ek van die winter, daai gevoel om geborge te wees tussen jou vier mure terwyl die wind pomp vir die vale.

        Like

  2. Jou keuse van pannekoekbakker is geïnspireerd – ek dink Toortsie is een van daardie raakvatvrouens wat so moeiteloos die een na die ander perfekte pannekoek uit die pan op die vinnig-groeiende stapeltjie heerlikhede laat gly – o aardetjietog, hoe lus kry ek nou!

    Liked by 1 person

    1. Ek het nie gedink jy gaan vir die een val nie…. maar ‘n mens mag maar hoop… al beskaam dit hier gruwelik 😦 En Frannie kon juis sien hoe heerlik jy pannekoek kan bak!!!!

      Like

    1. Is die yskas die rede hoekom julle so lekker oppak en Namibië toe gaan? 🙂 Geniet!!! Hoor darem dit is vandag 5 grade warmder hier 🙂 Het sommer moed gekry en maak tuin nat. Mooi dag vir jou!!

      Liked by 1 person

  3. Die koue hier is erg maar voel nie so erg soos die koue daar op Hoëveld nie! Ek het nie eers n warmkombers in my bed nie. My voete het nog nooit eers rerig koud geword nie(touch wood!) Ek kan natuurlik BAIE warm kry in somer dis dalk hoekom winter nie so koud voel vir my nie. Jy skryf darem lekker oor die goeie ou winters as kind. Ons het of die ryp geskaats!

    Like

Gesels saam, asseblief!