Angs

Ps 66:8-12: “Prys ons God, alle volke, laat sy lof weerklink! Dit is Hy wat ons die lewe gee en nie toelaat dat ons struikel nie! U het ons beproef, o God, ons gelouter soos silwer; U het ons in ‘n net gevang, ‘n swaar las op ons gelê; U het ons deur mense laat vertrap, ons het deur vuur en water gegaan; maar toe het U ons uitgelei na oorvloed toe.”

Angstigheid. Angsaanvalle. Depressie. Woede-aanvalle. Dis alles goed wat my geteister het in my jongerdae. Maar God het my genees. Prys die Here daarvoor!

Tog, as ‘n mens ‘n ‘swakplekkie’ het, sal Satan maar altyd op die loer wees om weer op daardie plekkies ‘n vastrapplek te kry, so mens moet maar altyd wakker wees en dit vroegtydig vir God gee om te hanteer.

Ewe skielik kry ek ‘n rukkie terug weer in ‘n kort tydjie twee angsaanvalle. Die eerste een gaan amper ongesiens verby, maar die tweede een is regtig ontstellend in die middel van die nag, lank nadat ek al aan die slaap geraak het. Ek word wakker en huil onbeheerbaar. Ek ween behoorlik en ek, wat regtig nie lief is vir melk nie, maak vir my ‘n beker warm melk met kakao en xylitol in om my te troos.

Ek weet net dat ek by God moet uitkom en al wat ek in my kop hoor, is, lees Ps 66. Ek soek vir God, ek vind Hom, ek stort my hart vir Hom uit. Daarna gaan doen ek ‘n bietjie kantoorwerk wat my ook jaag en uiteindelik voel ek rustig genoeg om weer te slaap.

God het my gebed gehoor. Hy het my weer rustig temaak. En Satan? Hy het presies reggekry wat hy níé wou nie: Hy het my reguit in God se veilige arms ingestuur! Ek dink hy sal twee keer dink voor hy dit weer waag!

Dankie, Here, dat U ons veilige vesting is. Dankie dat U altyd daar is om ons te troos, te dra, te kalmeer of wat ons behoefte ook al is.

Toortsie

Toortsie se faceboekbladsy

Toortsie se Bantingboerekosboek faceboekblad

Toortsie by Finesse: Verrassing!

12 thoughts on “Angs

  1. Dit is nie ‘n lekker plek nie maar partykeer goed om daar te kom waar jy jou absolute afhanklikheid van God weereens besef. Daardie ontlading van opgekropte emosies is ook goed, alhoewel dit partykeer voel net hier sterf ek nou. Mooi dag vir jou…. en al die reëlings!!!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!