Scrapydo se toeka-tokkel: Stad
Wanneer ek die woord stad hoor sien ek Johannesburg met sy hoë geboue, skoon maar besige strate, en baie busse. As kind was een van die lekkerste dinge die Saterdag wanneer my ma sê ek kan saam met haar stad toe gaan. Netjies aangetrek stap ek en my ma wat van kop tot tone uitgevat is – hoed, handkoene en al – busstop toe. Busry was ‘n algemene ding; kinders het elke dag met die bus skooltoe gery, maar vanaf die oomblik dat ek en my ma in die stad afgeklim het, het die lekkerte begin. Ek het my verkyk aan al die goed in die mooi winkels waarvan Stuttafords my gunsteling was. Daar was ietsie so “upstairs” aan daardie winkel. Om hysbak te ry was ‘n lekker belewenis. Op ‘n hoë stoeltjie het ‘n man in ‘n mooi uniform gesit; hy het die hysbak bestuur!!! Dit was vir my so mooi as die hysbak op die verskillende vloere stop en hy roep uit wat op daardie vloer beskikbaar is. Die mooiste woorde was “Materials and haberdashery!!” My ma het altyd daar uitgeklim; sy was mos ‘n kleremaakster. Op ‘n sekere plek in die stad was daar ‘n straatfotograaf; so in jou stap neem hy ‘n foto en wanneer jy by hom verbykom gee hy jou ‘n kaartjie met ‘n nommer op. Jy kan dan later die foto gaan afhaal. My ma het altyd “nee dankie” gesê vir die kaartjie. Met haar arms vol pakkies, was die laaste stop altyd by die groot OK. Dit was die kersie op die koek. Daar was ‘n eetplek op een van die vloere waar die kos agter glas uitgestal was. So in die verbygaan besluit jy wat jy wil hê, dan skep die persoon agter die toonbank dit vir jou op jou bord. Ek het nooit gewik, en weeg wat ek gaan eet nie maar is reguit na die pastei, skyfies en sous toe. “Pie, chips and gravy” klink vir my lekkerder. Geen pastei, skyfies en sous sal ooit kan kersvashou by die Ok uit my kindertyd s’n nie.
Daar is nog vele herinneringe uit my Johannesburg dae; party goed, maar baie hartseer herinneringe wat die loop van my lewe verander het. Ek sou net eenkeer in my grootmenslewe terugkeer na daardie OK toe, maar dit was ‘n swaarmoedige dag. My beste vriendin Deslyn het oorkant my gesit; ons albei het swaar gesluk aan die pastei, en skyfies. Ek weet nie of ek gehuil het nie maar my gemoedstemming was so swaar – ek het haar vertel van my swangerskap, en die forseerde troue wat op my wag. Sy het in stilte die hele storie aangehoor, en haar verslaentheid het boekdele gespreek. Maar vir nou is dit genoeg.
Dis vir my so lekker om sulke gedeelde herinneringe te lees! Onthou ook daardie fotograaf en die opwinding van Jhb toe gaan vir die dag…
LikeLike
Dit was ‘n groot uitstappie 🙂 Nou en dan is ek saam met my pa in stad toe maar ek moes draf om by te bly. Hy het darem een of twee keer die kaartjie by die fotograaf gevat en die fotos gekry. Ek was so bly want ek wou alryd so graag die foto sien wat die fotograaf geneem het. In watter voorstad het jy groot geword?
LikeLiked by 1 person
Sulke mooi foto’s – my mammie en tannie uitgevat vir die stad in die “New Look”, met my as driejarige aan die hand tussen hulle…
In Ontdekkers, Roodepoort aan die Wesrand – een van my maats se mammies het by die Effektebeurs in die middestad gewerk, dan het ons in Jhb gaan fliek en vir haar ma gaan hallo sê.
LikeLiked by 1 person
Lekker herinneringe
LikeLiked by 1 person
Baie lekker Tina. ‘n Mens kan so bly wees oor goeie kindertye. Soveel kinders smaak dit nie.
LikeLiked by 2 people
Dis waar, maar dan het niemand gesê die lewe is regverdig!
LikeLiked by 1 person
Ek het ook nog van daardie fotos, maar in Kaapstad geneem. Ek en my man sit nou en lag, want ons onthou albei die special treat van pie, chips en gravy – my herinneringe in OK Kaapstad en syne in Port Elizabeth.
LikeLiked by 1 person
So ons kan saam lippe aflek. Sulke lekker ou herinneringe!!
LikeLiked by 1 person
Ag lekker…ons stad was Pretoria en Uniewinkels was die deftige plek om te wees.Ons het een so ‘n foto van ‘n straatfotograaf…ek,my boetie en sussie lyk soos weeskinders..lol!
LikeLike
Ek wonder of ons nie maar almal so bietjie weesagtig gelyk het nie. Dit was maar nie ‘n tyd van oorvloed nie.
LikeLiked by 1 person
Ek en my sussie het identiese tuisgemaakte rokkies van koordfluweel aangehad en sulke sokkies en bandjieskoene.My arme boetie het sulke maer beentjies en ons tande is so skeef!
LikeLiked by 1 person
Lekker lag ek nou!!!
LikeLiked by 1 person
My suster het die foto.Ek gaan dit by haar kry en dan plaas ek dit…lol!
LikeLike
Ja!!! sal uitkyk vir dit 🙂
LikeLiked by 1 person
My eie herrinneringe was kleintyd Sondae wanneer ons die middae gaan windowshopping doen. Ek kan nie veel van die vensters onthou nie maar wel hoe my ma en pa hand om die lyf gedrentel het en mekaar in die oë gekyk het en speels gegiggel het.
LikeLiked by 2 people
Dit is pragtige herinneringe!!! Nog beter as pie, chips en gravy. Mooi dag vir jou.
LikeLike
Ek onthou dit ook baie goed! Die pie, chips en gravy by OK was altyd ‘n hoogtepunt!
LikeLike
Dit is lekker om te hoor ander ken ook die lekkerte van OK se pie, chips en gravy 🙂
LikeLiked by 1 person
Kosbare herinneringe..
LikeLiked by 1 person
Baie kosbaar!! Ken jy ook die pie, chips en gravy? 🙂 Dit klink vir my ek was nie die enigste een wat gaande was daaroor nie.
LikeLiked by 2 people
Jy laat my nou behoorlik terugdonk aan ons stadtoegaandae kleintyd. Dankie!
LikeLike
Lekker herinneringe!!!
LikeLike
Oooo, dis nou heerlike onthou hierdie! Ons het altyd Pretoria se OK so bekyk as my ma gaan inkopies doen het. Daardie pie en chips was te lekker. Later het Pietersburg ook so n lekker spesiale eetplek in hul OK gehad. Dis darem maar lekker tye. Ons moes ook gestewel en gespoor gaan. Saam met my Pa to Pretoria-Wes gery en van daar met bus in stad toe, meestal vir die hele dag! Ons het my pa na vier weer in Pta-Wes gekry in middag na werk. Dankie vir jou deelname!
LikeLiked by 1 person
Lekker herinneringe van wat was. Nou kan jy nie meer jou voete in die stad sit nie…. hartseer!!
LikeLike
Ja ek stem saam. Selfs die tyd toe ek studeer het in Pta was busry en lekker “shop” in en om Kerklein die lekkerte. Toe Sunnypark gebou is het die middestad sy ou besondersheid verloor.
LikeLiked by 1 person
Jy eindig die gedeelte op heel ander trant as die pie, chips en gravy – kom daar ‘n opvolg of het jy al voorheen daaroor geskryf?
LikeLike
Wou eintlik nog oor my grootmens lewe en die stad skryf maar weet scrapy hou nie van lang blogs nie. Die pie en chips het my sommer na daardie mistroostige dag teruggeneem…. toe sit ek dit maar in. Ek het deur die jare van blog so in drips en draps van hierdie troue waarin ek forseer was…. en die baie hartseer gevolge daarvan geskryf. Dankie vir lees. Mooi naweek vir jou. O ja, dog jy is ‘n nuwe blogger en lees van jou blogs en kom op een af in 2013 geskryf. Dink dit is die een waar jy siek was.
LikeLiked by 1 person
Wel eintlik is ek eers ‘n “blogger” vanaf April hierdie jaar tie ek begin het om ander mense se blogs ook te lees. Ek het wel in 2013 begin blog maar dit toe vir 2 jaar gelos, maar dit is wel my siekte en wat die Here in die proses in my lewe gedoen het wat my aanvanklik laat blog het.
LikeLiked by 1 person
Het dus bitter min blogs gelees wat voor April hierdie jaar geskryf is
LikeLike
Ons is bly om jou nou as deel van ons te hê. Ek geniet jou blogs en jou humor.
LikeLiked by 1 person
Baie dankie
LikeLike