Die lig in sy oë

Vandag twaalf jaar gelede is my pa dood.  Ek plaas die ou bloginskrywing as herinnering aan daardie dag.

My hande is besig om vir my pa ‘n koppie koffie te maak – vuurwarm soos hy daarvan hou; “Ek het ‘n blikkeel,” het hy altyd gelag as ons kommentaar lewer oor die stomende koffie wat hy so wegsluk.  Dit sal die laaste koppie koffie wees wat ek die voorreg sal hê om vir hom maak – dit het ek geweet.  My hande werk maar my oë rus op hom waar hy in die leunstoel sit – my pragtige pa.  Hy was altyd ‘n mooi man, maar sy menswees het hom soveel aantrekliker gemaak.

Ek gee sy koppie koffie vir hom, en hou hom dop terwyl hy dit drink.  Niemand sal sê hy is sewe en tagtig jaar oud nie, en nee hy is nie siek nie maar daar is vandag ‘n blink op sy vel wat hom ‘n engelagtige voorkoms gee.  Ek kyk na my suster; oppad terug van Polokwane  af het sy hom hierlangs gebring  vir ‘n vinnige “hello,” sê.  Ek wonder of sy weet dat my pa nie meer lank saam met ons gaan wees nie. By die kar druk ek hom teen my vas, en my “totsiens, ek is lief vir pappie.” sê veel meer as die blote woorde.  Dit is hoe ek afskeid neem van die persoon wat aan die einde van hulle lewensreis gekom het.  Deur die motorvenster glimlag ek vir hom, en my oë kyk totdat ek die motor nie meer kan sien nie.

Die oproep kom drie dae later.  “Pappie lê op sterwe,” sê my suster.”  “Ek het klaar vir hom totsiens gesê,” antwoord ek, “ek kom nie deur nie.”  Daar is ‘n diep hartseer in my maar ook ‘n diep vrede.  Die ure tik verby.  Halftien die aand bel die stil kind in trane.  “Mamma, oupa is amper op sy laaste, mamma moet kom.”  Ek probeer verduidelik dat dit nie nodig is nie, maar sy hou aan;  “Dit is nie vir oupa wat mamma moet kom nie, maar vir ons.”  “Ek kom,”  sê ek.

‘n Uur later stap ek en my skoonseun die gedempte hospitaalkamer binne.  Vir ‘n oomblik druk ek my suster teen my vas, en daarna elkeen van die kleinkinders wat met rooigehuilde oë in ‘n kring om die bed staan.  Dan draai ek na die rustige prentjie op die hospitaalbed.  In ‘n diep-diep slaap lê my pa teen die wit kussings.  Toe ek hom soen is sy vel yskoud onder my mond.  Ek lê my hand op die koue voorkop en dink; “dit is waarom ek nie my afskeid langs ‘n sterfbed wil neem nie.”  “Hy het niemand herken nie,” sê my suster, “net op ‘n stadium bo in die hoek van die kamer na iets gewys en dinge gepraat wat ons nie kon verstaan nie”. 

Ek gaan sit langs haar op ‘n stoel, en wag vir die dood wat onafwendbaar oppad is.  Nou en dan fluister iemand iets, of jy hoor ‘n snik in die stil vertrek.  ‘n Uur gaan verby; ons oë bly vasgenael op die figuur op die bed.  En dan gaan die oë wat nou al vir ure gesluit is oop.  Beide ek en my suster snak na asem; sy oë is soos diep-diep poele lig, en vanuit hierdie lig straal daar ‘n oorweldigende skoonheid.  Meteens verstaan ek wat die pastoorskind daardie dag langs my hospitaalbed vir my gesê het.  Niks wat my oë nog ooit op hierdie aarde aanskou het, weeg op teen die skoonheid wat uit my pa se oë straal nie.  “Pappie is beautiful, BEAUTIFUL!!” sê ek met verwondering in my stem.  Die skoonheid in sy oë trek my soos ‘n magneet na hom toe; ek gaan sit op die bed en kyk die ewigheid wat sy aardse liggaam nie meer kan binnehou nie, in.  “Beautiful, beautiful… my pragtige pa,” prewel ek, en soen die koue gesig, oor en oor.  Dan gaan lê op die yskoue bors, en laat die trane vrylik vloei.  Wanneer ek orent kom, lees ek die “totsiens,” in sy oë.  Daar is nie woorde in sy mond nie, maar so rus sy oë vir ‘n tydlank op dan my suster en daarna op elkeen van sy kleinkinders…. en elkeen lees dieselfde bootskap “totsiens…. tot later.”

“Death, where is your victory? O Death, where is your sting?”

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

20 Responses to Die lig in sy oë

  1. Pragtige skrywe. Dis goed dat jy tog maar gegaan het.

    Like

  2. Ag Kameel, hoe het jy my nou ontroer…

    Like

  3. Pragtige skrywe en huldeblyk

    Like

  4. So mooi geskryf,Kameel!Die dood bly maar ‘n moeilike ding.

    Like

    • Kameel sê:

      Dankie vir inloer. Ek het ons dokter vertel van dit wat ons tydens sy dood ervaar het. Hy sê toe ons kan bly wees hy het op die manier gegaan. Hy sê sterfbeddens is oor algemeen nie ‘n mooi gesig nie… en party is met een woord grusaam. Mooi dag vir julle daar vêr!!!

      Liked by 1 person

  5. Sjoe… net sjoe…

    Like

  6. Ai, dis hartseer en tog ook wonderlik om die laaste tydjie so te kon beleef. Ek het net voor my ma se dood vir haar gesê ek is lief vir haar en kon die rustigheid in haar voel neerdaal. Sy het reeds vir n paar dae op niks gereageer nie. Ek is toe terug huistoe(van Pta na Naboom) Vroegaand is sy toe op haar eie alleen oorlede. Daardie gevoel van rustigheid was vir my opvallend.(Dit was 10 jaar gelede) Suk wonderlike ondervindings bly mens altyd by.

    Like

    • Kameel sê:

      Ek het ook ‘n dag voor haar dood my ma gegroet. Sy sê toe vir my die tannie in die bed langs haar sê Jesus kom hulle haal. Ek sê toe dis reg mammie, Jesus kom mammie haal. Wat vir my hartseer is is dat sy my gevra het om haar saam met my huistoe te neem… en ek moes nee sê. O vaderland hier loop die trane.

      Like

      • Ja, dis hartseer. My ma het die eerste nag toe hul gebel het om te sê sy is op einde vir my gevra waar is Pappa dan? Het toe verduidelik sy gaan hom binnekort sien. Sy’t ook na oudste suster gevra, daarna het sy net weggesink en het nie weer gepraat of haar oë oopgemaak vir omtrent n week en n half. Dis regtig hartseer om so n persoon waarvoor jy lief is voor jou oë wegkwyn.

        Liked by 1 person

  7. Dis so mooi en roerend geskryf, my trane het ook nou gerol.

    Liked by 1 person

  8. nowathome sê:

    So mooi geskryf! Het sommer trane in my oe! Sterkte daar!

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s