Standing in the gap

Rom 8:26, 27: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.”

Die term, ‘om in die opening te staan’, het ek jare gelede geleer en ervaar, en ook hierdie week toe ek so siek was. Mense laat weet vir my dat hulle vir my bid, tot ek tot die besef kom dat ekself nie regtig vir my gesondword bid nie. Ek is só besig met die pyn en pynpille en om soggens betyds by die dokter se spreekkamer te kom, en seer terug te kom en kop bo water te hou, dat ek nie behoorlik bid nie! Ja, ek lees my Bybel, maar ook daar worstel ek deur Deuteronomium met ‘n gedeelte wat die storie wat ek tot nou toe gelees het, eintlik herhaal dat my stiltetyd ook by die een oog ingaan en die ander een uit sonder dat ek regtig betrokke is.

Soms, wanneer jy regtig in ‘n krisis is, het jy nie woorde om te bid nie, weet jy nie wat om te bid nie, en dis eintlik in sulke tye wat gebed onontbeerlik is. In só ‘n tyd loop ek ‘n vrou raak en ons praat hieroor. Sy verduidelik: “Dís hoekom dit so belangrik is dat ons vir mekaar bid. My woordeloosheid veroorsaak dalk ‘n ‘spasie’, maar my vriende se gebede vul dan daardie spasie op.” Is dit nie wonderlik nie? Dis my vriende se gebede wat my staande hou, selfs al weet ek nie eers daarvan nie. Hoeveel keer bid ek vir mense en hulle weet nie daarvan nie? Dit maak nie saak nie! God weet!

Saam met hierdie gedagte dat my vriende se gebede die spasie vul wat ek laat, kom hierdie wonderlike versekering in Romeine dat die Heilige Gees vir my instaan. Hy weet wat in my hart is! Hy ken my behoefte. Hy weet ook om my woorde wat heeltemal verkeerd uitkom, reg te verwoord sodat daar nie misverstande kom nie. Hy maak my eenvoudige, menslike woorde tot iets Goddeliks!

Dis so verskriklik belangrik dat ons bid, dat ons baie bid, God maak staat daarop. Maar dis ook uiters belangrik dat ons vir ons vriende bid. Ons moet die spasies vul wat moontlik gelaat word in tye van krisis, van biddeloosheid, van wat ook al.

Gebed verander sake.

Toortsie

Toortsie se Faceboekpage

Toortsie by Finesse: The hills are alive!

6 thoughts on “Standing in the gap

  1. Ek glo dat dit my groot-, en ouers se gebede is wat my weer by God uitgebring het. Gebed vir ander is noodsaaklik… bid vir mekaar, dra mekaar se laste. My ma was baie siek in die hospitaal en bekommerd omdat sy so biddeloos gevoel het. Die vrou in bed langs haar het haar met dit waaroor jy geskryf het bemoedig. Vertrou jy is nou goed oppad om weer jou sprankelende self te wees!!

    Liked by 1 person

  2. Ja soms verstaan mens nie die grootheid en omvangheid van gebed nie. Dit is hoekom geloof soms so onverstaanbaar is. Ons glo aan die Onsigbare en so moet ons vertrou wat ons bid al weet ons soms nie hoe nie.

    Liked by 1 person

  3. Die Afrikaanse uitdrukking “in die bresse tree vir iemand” hou ook hiermee verband: in die middeleeue, as ‘n stadsmuur tydens ‘n beleg gebreek is (as daar ‘n “bres” in geslaan is), het die beskermers van die stad letterlik “in die bresse getree”. Vandaar het die uitdrukking sy figuurlike betekenis ontwikkel, maar die konkrete beeld van stryd en gevaar is steeds onderliggend en maak van “standing in the gap/in die bresse tree/intree vir iemand” iets wonderliks.

    Like

Gesels saam, asseblief!