Emsie

Jong, ek het nou ‘n storie gehoor wat weer die perde gaan laat horings kry! Ek hoor mos ou Sannie van Piet Ore, man, julle weet mos wie Piet Ore is? Dis mos hy wat soveel gate in sy ore laat maak het en dit vol allerhande drade druk! Nou ja, Sannie is mos sy vrou, maar ek sal julle sê, ek kan nie dink hoe sy nog by hom bly nie, hy drink maar graag, sê hulle, maar moenie sê dis ek wat dit sê nie, ek skinder nie, ek het dit by Sonja gehoor dat hy so drink en dan kan ‘n mens maar net wonder wat alles gebeur in hulle huis as hy so gedrink het. Mens hoef nie eens veel te dink nie, jy kan sommer weet. Maar ek sou ook rondgeloop het as ek sy was en my man het my so geslaan! Maar moet nou weer nie sê ek sê sy loop rond nie en dat hy haar slaan nie! Ek sal mos nooit so iets van ander mense vertel nie! Maar hulle vertel dit vir die waarheid. Ek hoor juis sy het nou allerhande planne. Blykbaar ‘n skatryk man wat nou die dag in die Kaap was. Gits! Sal sy nou saam met hom Port Elizabeth toe trek? En wat word dan van hulle kinders? Dis darem erg dat ‘n vrou haar man en kinders sommer net so los! Sies tog die arme kinders. Wat van die kinders gaan word sal ek ook nie weet nie.

Wag, hier kom Gertruida nou aan, ek wil gou gaan hoor wat sy te vertelle het. Sy het altyd ‘n nuwe storie of twee en dis darem vir my net die lekkerste om al die nuutste stories eerste te hoor. Ek voel tog so simpel as daar ‘n storie is wat ek nog nie ken nie. Die mense hang altyd so aan my lippe as ons so saam tee drink, hulle wil net altyd hê ek moet nog vertel, maar ek is mos nie ‘n skinderbek nie, ek sal mos nooit sulke goed van ander mense sê nie! Ek hoor juis daardie vrou in die pienk huis is in die ander tyd, ag man, ek wil nou nie haar naam noem nie, maar julle weet mos van wie ek praat. Man, dis sy wat altyd sulke haai polfaais aantrek, julle weet mos, man!

Wag, laat ek wegglip, netnou sê iemand ek staan en ginnegaap hier by julle! (My naam is Emsie, hoor!)

………………………..

Suiwer verbeelding!

Toortsie

Toortsie by Finesse:  The hills are alive!

Toortsie se Bantingboerekos faceboekblad

Toortsie se Faceboekblad

17 thoughts on “Emsie

  1. Dis nou wat ek ‘n lekker skinderstorie noem – sappig aanmekaar geslaan. Die beste van alles is dat ek dit nie kan oordra en op dié manier in die moeilikheid kom nie, want ek ken mos nie die mense nie! Haha. Baie goed.

    Like

Lewer kommentaar op Toortsie Kanselleer antwoord