Toe byt hy my!

Dis geen geheim dat ek bang is vir groot spinnekoppe nie. Vir kleintjies is ek nie regtig bang nie, ek sal hulle self doodmaak. Ja! Ek IS ‘n natuurkind en as ek hulle, of hulle neste buite raakloop, los ek hulle uit, maar in my huis, jammer, hulle is onwelkom en hoort nie hier nie. Ek sê altyd dat as ek in hulle huis vir hulle gaan kuier, gaan hulle my byt, so, in mý huis byt ek!

Nou het een kleine blikskottel van ‘n spinnekoppie, vermoedelik ‘n sakspinnekop, besluit om aan my te kom staan en byt. Genade! Die pestilensie! Terloops, hoe meer ek daaroor dink, hoe meer besef ek dis nie die een wat ek verleeeede Satersag in my kar gesien het nie, ek wonder nog steeds wat van hom geword het.

Aanvanklik het die bytplekkie op my maag nie veel gemaak nie, ek dink ek het dit verlede Woensdag opgemerk. Teen Vrydagmiddag het hy rooier geword en effens geswel, ook begin gevoelig word. Saterdagaand het dit ernstig begin swel en teen Sondagaand was ek drie maande swanger, natuurlik saam met pyn wat ook begin toeneem het.

Maandagoggend sit die dokter my op ‘n drup, met ‘n verhoging in pynmedikasie. Toé is ek nou behoorlik swanger en my buik oortrek met ‘n verskeidenheid van rooi.

Die dokter verduidelik en oom Google help ook. ‘n Sakspinnekop se gif kom ooreen met dié van ‘n pofadder, dit val die weefsel aan. As dit nie vinnig en goed behandel word nie kan die gevolge erg wees.

Dinsdag nog ‘n antibiotikadrup en ‘n klein operasietjie word gedoen. 24 ure van intense pyn volg. Soms oorval die bewerasie my, ek kry so koud dat ek behoorlik swaar dra aan die komberse.

Teen vanoggend is die omkeer duidelik sigbaar. Weer eens ‘n antibiotikadrup en gefroetel by die wond. Ek is meer beweeglik en kry selfs ‘n paar kleinighede uitgerig. MAAR as die pynpille die oomblik uitgewerk is, skree alles in my liggaam en is al wat help, die bed!

Daar’s hoop, mense. Ek glo dat die dokter môre sommer baie tevrede sal wees. Maar luister asseblief vir tannie Toortsie. Spinnekoppe is NIE ons speelmaats nie. As een jou byt en die plekkie begin rooi raak, gaan asseblief dokter toe. Die ander persoon wat ook hierdie week behandel is, het baie langer gewag as ek. Dit was ‘n fout! Ek glo ook ‘n groot deel van die wenresep wasdie binneaardse toediening van die antibiotika. Met pille sou dit baie langer geneem het voor daar ‘n verandering was.

Groetnis
Toortsie

Toortsie by Finesse: The hills are alive!

26 thoughts on “Toe byt hy my!

  1. ‘n Spinnekopbyt is ‘n gevaarlike ding. My een vriendin het by dood omgedraai nadat ‘n knopiespinnekop haar gebyt het. ‘n Ou tannie wat ek geken het se been het ‘n grote gat ingeval. Bly jy het gou by dokter uitgekom.

    Liked by 1 person

    1. Ek wil dink, met wat ek daaroor gelees het, dat mense in die ou tyd sou doodgaan hiervan as hulle geen hulp gekry het nie. Dit versprei en versprei net en iewers sou jou liggaam i gegee het. Steeds het ek dit regtig nie maklik gegad nie, hoe moet die ou voel wat nog heelwat langer gewag het, dit was in sy nek. Uiters gevaarlik!

      Liked by 1 person

  2. Ek het self ook eers n wye draai om hierdie inskrywing gemaak voordat ek dit nou gelees het. Dis nou nie kinderspeletjies met so n byt nie. Bly jy het darem soort van betyds by hospitaal uitgekom. Klink vir my erg pynlik en onaangenaam. Hou jou nou maar stil voordat jy nog verdere skade veroorsaak. Ek voel ook oor spinnekoppe in my huis soos jy. Dis my huis, ek wil nie gebyt raak nie. Hier is sulke geniepsige spinnekoppies wat as hul jou byt n ontsteking veroorsaak en baie irriterend is. Gelukkig nie so n woeste giftige byt soos wat jy beleef het nie. Sterkte en pas jouself op jong.

    Like

    1. Dankie. Dinge vorder mooi. Ek kry steeds elke dag ‘n antibiotikadrup wat wondere doen. Dis soos ‘n skokbehandeling. Dokter voel tevrede met vordering. Ek moet steeds maar baie lê, maar kan voel dat dinge verbeter.

      Like

    1. Dit voel vir my of dit ‘nuwe’ spinnekoppe in ons wêrekd is, kleintyd was dit net die knopiespinnekop waarvoor ons moes oppas. Nou is dit sakspinnekop en vioolspinnekop.

      Like

Gesels saam, asseblief!