Maria

Goeiemôre dames, my naam is Maria. Maria van Riebeeck. Julle weet, my man was mos die eerste goewerneur hier aan die Kaap. Dit klink seker wonderlik né? Vrou van die Eerste Man!

Maar allesbehalwe! Wat ‘n mens nie alles vir volk en vaderland sal doen nie!

Sien, die Hollanders was mos mál oor die speserye wat van Indië af gekom het, en om dit in die hande te kry, was daar net een manier, en dit met bootjies. Skippies. Nie die groot bote wat julle vandag ken nie! Kleine ou skippies. Die reis was gevaarlik en lank van Holland af, al om Afrika tot by Indië. Daar is ‘n noodvergadering gehou en besef dat daar in die Kaap ‘n halfwegstasie gebou moes word waar die seelui weer vars kos kon bekom, daar het net té veel mense gesterf aan skeurbuik omdat hulle nie vars kos geëet het nie.

So is daar besluit om ‘n klompie Hollanders met skippies te stuur Kaap toe om daar ‘n nedersetting te begin. Dit was rof! Ons was seesiek! En om alles te kroon, was daar net nooi NIKS toe ons aan die Kaap land nie. Kaap van goeie Hoop, sê hulle!  Dit was net bos waar jy kyk en die mense wat hier gewoon het, die Strandlopers, was ons ook nie baie goedgesind nie. Ons kon glad nie hulle taal verstaan nie, dit was sulke vreemde klikgeluide!

Ons moes alles van voor af begin, alles uit niks uit ontwikkel. Wat ‘n taak! En as die wind eers begin waai het, die Suid-Oostewind wat vir dae en dae aaneen waai, het ons nie eintlik skuilplek gehad nie. Kaap van Storms!

Gou-gou het hulle begin bou aan die fort, maar dit was ook nie net ‘n dag se werk nie! En ons moes tuin maak. Ons vrouens moes maar help waar ons kan om weer hier met ‘n lewe te kon begin. Maklik was dit beslis nie, dít kan ek julle verseker!

Ek dink nie ons het heeltemal geweet wat vir ons voorlê die dag toe ons ‘gekies’ is om Kaap toe te kom nie. Ons het nie geweet van al die ontberings wat ons sou tref nie. Tog is ek baie trots op Jan, my man, dat juis hý die gekose een was om hierdie groot taak te kom verrig. Ek is ook trots op hom op wat hy alles vermag het. Hy was die pionier wat die Kaap kom ‘mak’ maak het, en ek was sy vrou!

Toortsie

Suiwer verbeelding van Toortsie, met inspirasie van Maria van Riebeeck en ook Kameel wat die Bybelverhale so wonderlik laat lewe.

12 thoughts on “Maria

  1. Sterk vroue gewees daardie!!! Wonder of Maria ook was soos die Hollandse vroue wat ek deur jare ontmoet het…. geen fieterjasietjie mense maar plat op die aarde en hardwerkend. Lekker om storie van die vrou se kant af te sien.

    Like

  2. Interesant… Gert, wat daardie tyd in die betaalkantoor gewerk het, het my vertel van Jan se ontwrigtingstoelaag en addisionele loon wat in die buitelandse rekening, belastingvry bygesê, betaal is. So Mariatjie het darem ‘n lekker vooruitsig gehad vir hulle terugkeer. Het sy jou vertel van die vakansiehuis in Deli? Hehe goed geskryf.

    Like

    1. Oeee ek is MAL oor die saamspeel! As ons volgende week weer saam tee drink sal ek haar ‘n bietjie uitvra oor al hierdie geheimpies waarvan ons seker nie mag weet nie.

      Like

Gesels saam, asseblief!