Toe doen ek die ondoenlike

Ek kom met die bakkie uit Riversdal gery, op pad na Ladismith, dit reën en dis koud. Daar loop ‘n ryloper en ek stop! Ja, ek weet dis lewensgevaarlik! Ek sal mos nooit so iets doen nie!

Die linkerkantste sitplek is vol goed, so ek vra die outjie om agterop te klim. Hy is heel inskiklik, maar soos ek verder ry, voel ek só sleg, ek doen nou kamtig goed om die man ‘n geleentheid te gee, nou laat ek hom verkluim agterop die bakkie in die koue! Watter soort mens is ek?

Ek stop net daar, sê hy moet voorin klim, skuif die goed wat die sitplek vollê, weg en maak vir hom plek. “Dankie, tannie”, sê hy. Daardie stem het ek al gehoor! Net voor ek die pad begin ry het, het ek pakkies gaan pos by Riversdal toe iemand my nader. Ek was nie lus vir ‘n bedelstorie nie, ek het net ‘n honderdrandnoot kontant by my waarmee ek die posgeld moet betaal. Ek sê toe net, “los my”. “Goed tannie.” Ek betaal die posgeld met my kredietkaart en toe ek terugstap, kyk ek tog rond vir die kind. Toe gou vinnig ‘n paar goedjies by Spar ook gaan koop voor ek ry. Hy sê dit was nie hy nie.

Nou ja, teen alles wat ek glo en leer, hier is ek nou op pad, alleen saam met ‘n vreemde ryloper voor in die bakkie. Ek maak my planne mooi, ek gaan nie vir hom sê dat ek net tot by die Meadowfabriek gaan nie, ek moet stop waar daar ander mense ook is as ek hom aflaai.

Hy gesels te lekker, oop gesig, ek weet nie altyd of die somme heeltemal klop nie, maar die jongman is vriendelik. Glo ‘n paramedic wat 6 maande afgevat het om deur die land te toer. Hy maak in sy vrye tyd Bybelmerkers of iets. Ek vra nie veel daaroor uit nie, wil nie te betrokke raak nie. Hy spandeer baie tyd saam met die Here. Ek vra hom eerder daaroor uit, dit voel veiliger terrein. Hy vertel terloops hy het R7 by hom, ek hou my doof.

By die Meadowfabriek stop ek skielik en sê hy sal nou moet uitklim, want ek draai nou hier om. Hy lyk afgehaal. Hy wonder of hy daar iewers vir ‘n bietjie water kan vra. Met my omdraai en wegry daar voel ek ‘n vark. Ek kon hom van die broodrolletjies gegee het wat ek gekoop het! En nee, hy hét my nie oorrompel nie! Die ergste is, dit voel of ek ook nog nie klaar is met hom nie!

Sal ek en my man hom nie die volgende oggend op pad Oudtshoorn toe weer sien loop nie! “Hello tannie!”,  sê die oop, vriendelike gesig. Hy het by die NG predikant geslaap die nag. Hierdie keer het hy ‘n dikker baadjie aan as die windjakker van die vorige dag wat hy by die ACVV gekry het.

Op Oudtshoorn moet hy afklim van die bakkie en gee vir my ‘n leerboekmerkie vir my Bybel wat hyself gemaak het. Ek vra hom wat dit kos en hy sê, “net ‘n donasie asseblief, tannie”. Nou ja, daardie selfde R100 lê toe steeds in my beursie. Nou kan hy darem kos koop vir die dag! “Totsiens tannie.”

image

WWJD?

Toortsie

Ek het baie vrae in my kop. Hóé toer jy die land vol met net ‘n rugsak sonder geld?

Ek het ‘n geneigdheid om plaasvrouens en kinders langs die pad op te tel. …

Solank jy dit aan een van die gerigstes gedoen het, het jy dit aan My gedoen …

Toortsie by Finesse: Ek vra ‘n veer

37 thoughts on “Toe doen ek die ondoenlike

  1. Dit is so jammer dat die lewe so geword het dat ‘n mens niemand meer kan vertrou nie. Behalwe as die Here dit werklik op ‘n mens se hart druk sal ek nie ‘n ryloper optel nie. Jy was braaf!!! Ek het ‘n boek gelees van die jongman wat regoor Amerika geryloop het met geen geld of klere nie. Hy wou sien of daar nog mense is wat werklik omgee vir ander. Dit was goed om te lees dat Christene hom warm verwelkom en tuis laat voel het. Hyself was nie ‘n Christen nie

    Like

    1. Hopp dit het sy hart aangeraak. Man, soms skop die verstand eers later in, dis wanneer ek begin planne maak hoe ek op die veiligste manier van hom ontslae kan raak! So stilweg maar gebid vir beskerming ook!

      Like

      1. Ek stop ook dikwels by swart vroue wat oppad taxi toe is…. kan dink hulle is moeg gewerk en dit is mos maar optraande hier by ons. Ook eendag sonder dink by ‘n swartman wat mank loop gestop… hy was oppad werk toe. Was baie ongemaklik, en besluit nooit weer nie. Dis jammer want Jesus wil hê ons moet aan ander goed doen.

        Like

        1. Die probleem is, dat dit dalk 1% van mense is wat gevaarlik is, dalk selfs minder. Dit maak dat ons bang is en nou word almal daardeur gestraf. Sou ek oorrompel wees, was daar niemand te blameer nie, want hoekom het ek hom opgetel. Soveel keer ry ek verby die mense dan sê ek, Here, vergewe my asseblief, ek is net te bang.

          Liked by 1 person

          1. Ek sien nou dat ek kommentaar by Kootjie Helm gelewer het wat by hierdie blog pas. Dink dit is ‘n dubbel kommentaar. As die dag eers so begin 😦

            Like

  2. Baie mooi storie Toortsie.Ek dink nie jy hoef skuldig te voel nie.Hier in die stad weet mens ook nie wie het werklik hulp nodig en wie is opportuniste nie.My visie het veraner na daar ‘n program was wat gehandel het oor straat bedelaars.Die navorsing wat gedoen is het gewys dat die dwelm probleem groot is onder hierdie deel van die samelewing.Ek gee nou eerder vir die organisasies wat hierdie mense help genees as om geld links en regs te gee by verkeersligte of stopstrate.
    Groetnis.

    Liked by 1 person

  3. Jou storie baie geniet! Jy het ‘n goeie hart. Kon ook met myself vereenselwig met baie van die emosies soos: Help ek of help ek nie? Moet ek of moet ek nie?. En dan wanneer ek soms help, voel ek skuldig dat ek nie meer gehelp het nie. Weet nie of jy weet nie maar ek dink die WWJD? staan vir What would Jesus do?

    Like

    1. Ek wil so hoop dat dit daarvoor staan. 🙂
      Ja, mens weet nie, praat die ou die waarheid of nie? Oordeel ek of nie? Laat ek my aan die neus rondlei of nie? 🙂 Intussen toer hy heerlik voort. 🙂

      Like

  4. Jy laat my nou aan Maretha Maartens dink, wat ook mense langs die pad opgelaai het en haar dierbares daardeur onthuts het. Dink dit was in ‘n tydskrifartikel wat sy van haar wedervaringe vertel het. Self sal ek beslis nie ‘n vreemdeling oplaai nie, al maan die Bybel my om nie bang te wees nie…

    Like

  5. Ai, hoe dikwels het ons nie gestop in die verlede om rylopers op te laai nie? Toe die kinders eers gekom het, het ek agter met hulle gery dan het die ryloper voor gesit. Die rylopers sou seker verder geloop het as hulle geweet het, die eintlike agtersit rede was dan ook die .38 special wat sy rugstring kon afskiet dwarsdeur die sitplek. Dank God dit was nooit eers amper nodig nie.

    Like

    1. Ek vertel graag met ‘n knop in die keel vir die kinders dat niemand verby ‘n army-outjie gery het as daar ‘n gaatjie was nie. My broer het 2 dae gouer uit Walvisbaai aangekom as wat sy trein gekom het!

      Like

  6. WWJD – What Would Jesus Do? Die geringstes het soms meer kennis en vertroue in die Here se belofte vir hulle daaglikse brood as wat ons ooit sal verstaan. Daardie dag was straks die dag waarop jy ‘n engel opgelaai het ….

    Liked by 1 person

        1. Ek het te vinnig send gedruk, ek wou nog iets sê :-). Ek dink ons raak te sinies en agterdogtig oor die eenvoudige dinge wat die Here vir ons soms wil wys. Ons is so gewoond aan die lelike dat ons dit altyd soek in alles, en dan kan ons nie meer God se stem onderskei van die wêreld se geraas nie. Dalk moet ons eers die Koninkryk van God soek in alles wat om ons gebeur, dan sal die waarheid aan ons geopenbaar word. Jou veer is dalk jou teken. Al wat ons moet doen is om te luister en onvoorwaardelik te vertrou ….

          Like

          1. Moet sê, ek sal steeds nie sommer mense langs vreemde paaie optel as ek alleen is nie. Op ons plaaspaaie stop ek maklik vir vroue en kinders. Hoekom ek die man opgelaai het was omdat ek met ‘n bakkie gery het , hy agterop kon sit en ek geweet het ek sou tussen mense stop. Maar dinge verloop toe anders omdat dit so koud was.

            Like

  7. Een van die veelvoudige drafts wat le en wag om blog te word (party net ‘n titel) is “Die moordenaar in my bokshandskoene”, miskien is dit tyd dat dit blog word (oor ‘n moordenaar wat vrygeaat is na 25 jaar – in my bokshandskoene)

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!