Kootjie Helm

Koes! Duik plat! Hier kom Kootjie Helm aan en netnou sien sy ons!

Kootjie Helm soek net altyd iemand vir wie sy haar stories kan vertel en regtig, julle wil nie haar stories hoor nie! Sy is mos met die helm gebore! Dis erg, erg erg! Julle wil nie weet nie!

Die ou mense vertel dat toe sy gebore was, daar ‘n stuk vlies so oor haar kop gespan was, kompleet nes ‘n helmet, en dit voorspel nooit iets goeds nie. Sy sien dinge al van vér af aankom, of dit is wat sy vertel. Sy is alewig met haar stories besig. ‘n Mens weet nie wat jy kan glo nie, en aan die ander kant maak sy jou só bang, jy weet nie wat om te dink nie.

Sy het heeltemal reg vertel van ou Piet wat van sy perd afgeval het en sy nek gebreek het. Nee man, sy het nie gesê dis hy nie, sy het net gesê daar kom ‘n groot ongeluk, en daar val ou Piet sowaar van sy perd af. Sy hou voet by stuk dis dít wat sy gesien het! Daar is ander goed wat sy ook reg voorspel het! Mens weet nooit!

Nou is ek so bang om naby haar te kom, netnou sien sy iets van mý ook raak en wat maak ek dan?

………………………….

Suiwer verbeelding van Toortsie en nee, ek bedoel nie om onsensitief te wees of om met enige persoon te spot nie. In my jongdae het ek baie sulke stories gehoor en ek ken regtig mense wat soms die ‘anderkant’ kan sien. Ek respekteer dit met my hele hart. En nee, die mense wat ek ken wat die ‘anderkant’ kan sien, was nie met die helm gebore nie. Dis ‘n gawe wat hulle het.

Die doel van hierdie storie? Ag, sommer net verskeidenheid wat inpas by my 26 Kaapse vroue.

Toortsie by Finesse: Ek vra ‘n veer

Toortsie se Faceboekblad

Toortsie se Bantingboerekosboek faceboekblad

 

8 thoughts on “Kootjie Helm

  1. Dit is so jammer dat die lewe so geword het dat ‘n mens niemand meer kan vertrou nie. Behalwe as die Here dit werklik op ‘n mens se hart druk sal ek nie ‘n ryloper optel nie. Jy was braaf!!! Ek het ‘n boek gelees van die jongman wat regoor Amerika geryloop het met geen geld of klere nie. Hy wou sien of daar nog mense is wat werklik omgee vir ander. Dit was goed om te lees dat Christene hom warm verwelkom en tuis laat voel het. Hyself was nie ‘n Christen nie

    Liked by 1 person

  2. My sus Rika sê mos eendag vir my jy was mos met die helm gebore. Ek vra haar toe nie uit nie, en nou wat sy en my ouers dood is wonder ek daaroor. Kon mos van kleinsaf aanvoel as iemand doodgaan ens. Moet nou nie wegkruip as jy my sien nader kom nie. Lekker smile ek nou vir die prentjie!!!

    Like

Gesels saam, asseblief!