Grotte

Scrapydo se toeka:tokkel – grotte

Ek sal nooit ‘n goeie grotbewoner uitmaak nie, ek is te vol nonsens. My eerste ondervinding van ‘n grot was die Sterkfonteingrotte naby Krugersdorp. Ek was swanger met die verlore seun; alles het goed verloop totdat die gids ons hande vier voete deur ‘n nou tonnel laat kruip het. Daardie dag het ek besef ek ly aan engtevrees. Net daar op my knieë met mense voor, en agter my wil ek toe mos uit. Ek sê vir die man agter my ek wil terug, maar hy por my aan vorentoe want daar is nie ‘n manier waarop almal kan “reverse” nie. Aan die anderkant uitgekom geniet ek niks van wat om my aangaan nie, ek dink net aan die benoude pad terug. Gelukkig blyk daar toe ‘n ander uitgang te wees.

Later jare gaan ons saam met ons hele kroos Kangogrotte toe. Dit is mooi, maar ek laat my nie weer in ‘n klein plekkie indruk nie. Die drie kleintjies was nog klein, dus het ek ‘n goeie verkoning gehad om myself net êrens op ‘n klip tuis te maak toe Ken, en die groter drie verder die grot in is. Net so goed, daar is blykbaar ‘n skoorsteen waardeur ‘n mens gaan. Ons tweede besoek aan die Kangogrotte was saam met my suster en haar man. Ons ry almal in die kombi, en dit gaan heel jolig toe ek meteens naar voel. Net daar kry ek ‘n migraine… nee nie ‘n nagemaakte een nie, maar ‘n werklike een wat my plattrek. Gelukkig is die agterste bank afgeslaan, en is daar ‘n matras in die kombi; so terwyl die ander die grotte in is, lê ek (in pyn en lyding) en wag. Jammer ek konnie help om klem te lê op die pyn en lyding nie… dit laat my glimlag.

Ons laaste besoek aan ‘n grot was in Gansbaai. Ons het betaal en is sonder ‘n gids die grot binne. Dit is nie ‘n groot grot nie, maar al was hy ook hoe groot, jy sou my nie verder as ‘n paar meters die grot ingekry het nie. Met die opkykslag sien jy net vlermuise hang, en party het sowaar die vermetelheid gehad om te vlieg, en ons net rakelings te mis. Nee, ek glo nie die storie dat hulle radar te goed is om teen jou vas te vlieg nie; hoekom het een dan “kaplaks” teen die ruit van my vriendin se huis vasgevlieg? Gelukkig het ek ‘n trui aangehad. Diè het ek oor my kop getrek, en gemaak vir die uitgang van die grot. Ja, ek is ‘n totale papbroek wanneer dit by vlermuise kom. So grotte trek my nie werklik nie; ek sou graag Capri se “blue grotto” en Scrapy se “glow worm” grot wil sien, maar dan soek ek ‘n waarborg dat geen noutes, en vlermuise op my wag nie.

 

18 thoughts on “Grotte

  1. Dankie Kameel jy het my herinner dat ek jare terug tydens vakansie ‘n gids in die Kangogrotte was. Ek gaan definitief ‘n blog daaroor skryf daar is soveel materiaal ‘n reeks blogs is moontlik!! En ja in die grotte moes mens partymaal engtevrees bestuur en baie mense wat normaalwg nie engtevrees sal he nie b=voel benoed met mense voor en agter hulle in ‘n grot.
    My mees onlangse grot-ervaring was Boomslanggrot bo Kalkbaai wat deel van ‘n staptog was en ook dit moet nog ‘n blog word. Ek sê wel iets daarvan in Loopkop en Loopvoet wat ook mooi fotos bevat van chapka bobbejane met die Contsantiaberg as agtergrond, https://abriejoubert.wordpress.com/2016/05/14/loopkop-en-loopvoet/

    Like

  2. Gelukkig het ek nie rerign vrees vir noutes nie maar baie mense om my maak my heel benoud. Dit het ook te doen met my korter wees as mense om my. Sodra ek tussen massas is wil ek sommer ophou asem haal. Die gloeiwurm grot het nie vlermuise in nie en ook nie noutes nie net baie donker die stukkie na die boot toe.

    Liked by 1 person

    1. My liewe Scrapy nooit so daaraan gedink nie. My vriendin is ook kort.. gaan haar vra hoe voel sy tussen massas. Gelukkig troon ek bo alles uit 🙂 Laat my sommer nou dink aan die dag by ‘n museum. Ek en my vriendin staan in die deur; op my vraag aan die vrou by die lessenaar of hulle pamflette het, antwoord sy ewe droog, “Ja, net agter julle by jou skouers en haar kop.”

      Like

Lewer kommentaar op Kameel Kanselleer antwoord