Tamar

Blog van A-Z

Vermom, en gesluierd soos ‘n tempelprostituut sit Tamar by die poort van Enajim, langs die Timnapad. Sy hou die stofpad waarlangs haar skoonpa Juda moet kom angstig dop. Sy voel nie goed oor die strik wat sy vir haar skoonpa stel nie, en sy weet ook nie of dit gaan werk nie, maar as sy nie die res van haar lewe ‘n weduwee, en kinderloos wil bly nie, sal sy moet optree, en vinnig ook. Toe sy jare gelede aan Juda se oudste seun Er as vrou gegee is het sy vol hoop haar nuwe lewe begin. Er was egter ‘n slegte mens, en sy het nie werklik oor hom getreur na sy dood nie. Juda het haar toe aan sy tweede oudste seun Onan gegee sodat daar deur Onan se saad vir Er kinders gebore kon word. Dit was gou duidelik dat Onan ander idees gehad het; wanneer hulle gemeenskap gehad het, het hy onttrek en sy saad op die grond gestort. ‘n Ou hartseer wel in Tamar op toe sy terugdink aan diè tye; sy het nie net verwerp gevoel nie maar was desperaad. Vir ‘n vrou om nie ‘n kind in die wêreld te bring nie word gesien as ‘n straf van God. Onan is skielik dood, en aan die kyk in Juda se oë kon sy sien dat haar skoonpa haar as rede vir sy seuns se dood gesien het. Hy het haar na haar ouerhuis toe teruggestuur met die belofte dat wanneer Sela – sy laaste seun – groot genoeg is, hy haar as vrou vir hom sou laat haal. Maar Sela het grootgeword, en dit het vir haar duidelik geword dat Juda nie van plan was om haar aan Sela te gee nie. Toe sy hoor dat Juda Timna toe gaan om sy kleinvee te laat skeer, het sy besluit om die plan wat al ‘n tydjie in haar kop broei uit te voer. Tamar se hart begin in haar keel klop toe sy ‘n geselskap sien nader kom en Juda tussen hulle sien. Sy wil vlug, wat as Juda haar herken en dink sy het werklik in prostitusie verval. Hy sal die reg hê om haar te laat doodmaak. Tamar dwing haarself tot kalmte, en beweeg haar lyf om aandag te trek. Juda stop, sê iets vir die man by hom, en kom dan na haar toe aangestap. “Kom! Ek wil met jou gemeenskap hê! sê hy bars. “Wat sal jy my daarvoor betaal?” vra Tamar vinnig, en sy is self verbaas oor die woorde wat so natuurlik oor haar lippe vloei. Sy hou Juda angstig dop om te sien of hy haar stem herken het, maar ontspan wanneer hy antwoord dat hy vir haar ‘n boklam uit sy kudde sal stuur. “Dan moet jy my solank ‘n pand gee,” sê sy, en aan haar stemtoon is dit duidelik dat sy bedoel wat sy sê. Juda sprei sy arms uit om te wys dat hy niks van waarde by hom het nie. “Watse pand kan ek jou gee?” “Jou seëlring met die ketting, en jou kierie,” antwoord Tamar. Juda knik instemmend, en oorhandig die artikels aan haar. Drie maande later kom ‘n klompie manne by Tamar se pa se huis aan; hulle is deur Juda gestuur om haar te kom haal sodat sy verbrand kan word. Hy het gehoor dat Tamar haar soos ‘n prostituut gedra het, en nou swanger is. Tamar oorhandig die artikels wat sy by Juda gekry het aan hulle, en met die woorde, “Die man aan wie hierdie goed behoort – ek het by hom swanger geword. Stel vas aan wie hierdie seëlring met die ketting en die kierie behoort,” stuur sy hulle van haar af weg. Beskaamd oor sy gebreekte belofte aan Tamar het Juda haar laat haal, maar nie weer gemeenskap met haar gehad nie. Ses maande later na ‘n moeilike swangerskap lê die vroedvrou twee babaseuntjies in haar arms neer. Met ‘n hart wat oorloop van dankbaarheid kyk Tamar na die twee gesiggies, min wetend dat die Verlosser uit die bloedlyn van  Peres gebore sou word.

15 thoughts on “Tamar

              1. Nee jy kannie van Hester hulle se sop kry nie Toorts…. daar is net genoeg vir hulle!!! Ek is nou lus vir beesstert!! Hierdie winter mors met ‘n mens 😦

                Like

                1. Ertjies is van die goed wat ek swaar gelos het. En beet. Maar beesstert? 🙂 DIT MAG EK EET NET SOVEEL EK WIL! Laat ek sommer NOU my buurvrou bel en twee sterte bestel! Hoeveel sterte het jy nodig, Kameel?

                  Like

Gesels saam, asseblief!