‘n Suikervas?

Ek kon my oë nie glo toe ek lees dat iemand op die Bantinggroep maats nooi om vir ‘n maand op ‘n suikervas te gaan nie. Suikervas? Banting? Is suiker dan nie juis die een item wat jy uitsny nie?

Hoe meer ek toe daaroor dink, hoe meer het my oë oopgegaan. Toortsie, jy van alle mense, hoef jou glad nie so hoogheilig te hou nie! 😦 Daar is maar goetertjies wat jy ook soms toelaat wat op die rooi lys is, nou nie baie nie, maar wel, soos … Coke lite. Nou nie elke dag nie, selfs seker nie elke week nie, maar is jy tussen mense en daar is regtig niks anders om te drink nie, is Coke Lite ‘n opsie. Sien, Prof Noakes wil graag hê ons moet glad nie gifstowwe inneem nie. Die dieetjellie wat ek in my yskastert sit, is ook eintlik ontoelaatbaar.

Maar ek het nog nooit regtig oor die suiker in koffie en tee gedink nie omdat ek dit al vir soveel jare sonder suiker en melk drink. Maar vir iemand wat twee of selfs drie lepels suiker in hulle koffie drink en skielik begin Bant, moet dit ANGSWEKKEND wees. Die alternatief is natuurlik dan suikervrye pilletjies, maar dit bevat weer al die ander gifstowwe wat ook nie aan te bevele is nie. Ekself het nog nooit Bulletproof koffie probeer nie, ook nie Bulletproof tee nie, so ek is nie seker of dit ‘n lekker alternatief is nie.

Wat het ek destyds gedoen? Ekself het ook vroeër in my lewe twee lepels suiker gedrink in ELKE koppie koffie, en toe my bloedsuiker aan diabetesvlakke begin raak, het ek dit afgeleer. Ek het elke week die hoeveelheid suiker met ‘n halwe teelepel verminder. So, die eerste week het ek een en ‘n halwe lepel ingegooi. Sodra ek aan die smaak gewoond geraak het, een teelepel, en later ‘n halwe en toe die groot stap, NIKS. Dit was NIE LEKKER NIE. Tog is daar goeie nuus: ‘n Mens raak baie gou daaraan gewoond.

Dis in daardie tyd wat ek begin het om gegeurde rooibostee te drink. Enige geur, ek koop ‘n hele verskeidenheid en drink dit sonder melk of suiker. Dít help my sommer baie, ook dat ek nie ander drankies regtig mis nie. Die verskeidenheid geure gee afwisseling. Vir die mense wat swaar van die suiker ontslae raak, dis dalk iets om te probeer!

Sterkte, alles is nie aldag maklik nie, maar as jy die suikerduiwel kan oorwin, het jy groot gewen.

Groetnis

Toortsie

Toortsie se Bantingboerekos faceboekblad

Toortsie se faceboekblad

7 thoughts on “‘n Suikervas?

  1. Ek is nou nie ‘n banter nie Toortsie,maar daar is vir my niks lekkerder as tee sonder suiker en geen vet melk in nie.Met koffie sal ek nog ‘n halwe teelepel bruin suiker neem,net om die bitterheid weg te neem.Ek het gou van die suikerduiwel ontslae geraak.Gewone suiker of sukrose is maar die groot sondebok.
    Groetnis.

    Like

  2. Ek hoor dat ons minister van gesondheid,dr,Aaron Motswaledi,’n veldtog teen suiker gaan loods.Hy het hierdie week op Classic FM gesels oor die nuwe rookwette en gesê sy volgende teiken is suiker.Sal nogal interessant wees om te weet hoe dit gaan werk!

    Like

Gesels saam, asseblief!