Hoekom?

Hoekom het ‘n sekere storie op RSG nou die dag só my aandag getrek? En hoekom het ‘n vrou nou die dag vir my heel interessant ‘n baie persoonlike epos gestuur?

Want net twee dae later het ek die inligting wat ek op RSG gehoor, nodig gehad. Nie ek nie, ‘n vriend het dit nodig gehad, en ek kon hom daarvan vertel. Net God het geweet dat ek die inligting sou moes oordra, daarom dat ek juis toe radio geluister het. Terloops, ek luister nie gewoonlik in die oggend radio nie, en hierdie program was in die oggend.

En die epos?

‘n Dame vertel vir my dat haar dogter ‘n dag voor my dogter gebore is, en dat haar man ‘n dag voor my gebore is. Groot toevalligheid. Maar dis nie waar dit stop nie. Hierdie man het in die week verongeluk, omtrent ‘n kilometer van ons afdraaipad af. Woensdag. Maar die Sondag voor dit het ons in digte mis kerktoe gery, toe ‘n voertuig van voor af ‘n bakkie met ‘n waentjie verbysteek, reg voor ons in. Toe ons hom sien, was hy reg voor ons, langs die waentjie en hy sou nie kon wegswaai nie. Maar God het gesorg dat die skouer van die pad presies daar gelyk en skoon was en ons kon afswaai van die teer af en al drie voertuie ongedeerd by mekaar verby kon ry. ‘n Besliste kop-aan-kop botsing vermy.  Op party plekke langs die teer is ‘n wal, of ‘n afgrond, of ‘n bruggie, of ‘n boom of bos. Dáár was dit gelyk en skoon. Die grootste gevaar is dat beide karre uitswaai, in mekaar in, of as jy van die teer afgaan op die gruis langs die pad, die kar gly. Dit het nie gebeur nie. Dít was net genade.

Hierdie ongeluk van hierdie man oor wie ek en sy vrou net ‘n week gelede ge-epos het, hierdie man wat net ‘n dag ouer is as ek, wat amper by my afdraaipad verongeluk het, het my geruk. Dit kon so maklik ONS gewees het. Dit moes dalk ons wees, maar God het ons genadiglik gespaar. Hy het my gewys hoe kortsondig die lewe kan wees, dat ons moet regmaak wat verkeerd is. As ons net altyd weet hóé. Sekere regmake is nie altyd so maklik soos ander nie. Maar Hy belowe, as ons Hom vra, Hy sal help.

Toortsie

Toortsie by Finesse: Die Storie? Of die Foto?

Toortsie se Faceboekblad

Toortsie se Bantingboerekos faceboekblad

6 thoughts on “Hoekom?

  1. Ek is so bly dat jy nog gespaar is om vir ons nog stories te skryf Toortsie.Ek persoonlik glo nie aan toeval nie,maar aan elke dag se onverdiende goedheid wat ons uit Sy Hand ontvang.Wat my ook weer laat besef dat ons maar hier in ‘n tentwoning bly.Die permanente woning kom nog.
    Groetnis.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!