z

Z. Ek het dit gemaak! Uiteindelik! Agteros kom ook in die kraal. Stadig maar seker wen dikwels die beker. Ek het darem van die begin af gesê dat ek dit op my eie pas gaan doen. Julle, dis regtig GLAD nie my persoonlikheid en aard of wat ook al om so ‘n reeks te doen nie. Ek voel om nou op my rug te loop lê!

Eintlik dink ek ek moet NIKS oor Z skryf nie. Nee. Niks. Ek dink JULLE kan ‘n bietjie oor Z skryf.  Maar dan moet ek darem sê, ek het ‘n hele groepie saamspelers gehad wat elke keer ‘n bydrae gemaak het. Dankie vir julle!

Z staan vir Zero. Nul.

Z is natuurlik die laaste letter van ons alfabet, maar dis nuttelose inligting, julle weet dit tog!

Z is ‘n zebra. Almal vra altyd, is hy wit met swart strepe of swart met wit strepe? My antwoord? Logika moet heers! Natuurik is hy wit met swart strepe. Kyk bietjie onder sy maag of loop die strepe dwarsdeur? Wat sê jy? Wit met swart, of swart met wit? Het julle al ‘n sebra se geluid gehoor? Dis nou ‘n ander storie, hoor!

Zorba the Greek. Ons het dit so graag gedans in ons studentejare. As ek nou na hierdie video kyk, besef ek ons het dit heeltemal verkeerd gedans! Hoe verlang ek nou na Griekeland! Nou ja, dan het ons die Boere-Zorba gedans!

Dan is daar Zettie. Toe ek my seuns die heel eerste keer by ons laerskool gaan inskryf het, was sy daar, en sewe jaar later toe ek vir meisiekind daar inskryf, was sy steeds daar. Ook toe ek baie jare later weer musiek gegee het by dieselfde skool. As ek aan haar dink, dink ek aan haar humor, haar lag. Zettie. 🙂

Klaar, klaar klaar!

Toortsie.

Kameel, nou is dit REGTIG klaar. 🙂

Nou gaan ek slaap.

zzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzz

Wag nee! Ek het nog woorde oor! Zanzibar! Ek was nog nie daar nie. Blykbaar ‘n moeite werd plek om heen te gaan.

Die woordeboek het sowaar 20 Z woorde. Dis nou die Ou HAT. Van die meeste van hulle het ek nog nie gehoor nie. Zoeloe ken ek wel. Ag man, ek kan nie Zulu praat nie, maar dis een van ons land se groepe mense.  Zoem. Die gezoem van die bye en die lekker turksvye en die sodaspuitfonteine. Zirkonium. Kubiese zirkonium wat amper soos ‘n diamant lyk. Ek dog dit word met ‘n S gespel, maar julle weet wat van gedog geword het!

Baai!

Toortsie by Finesse: Saam-saam

Toortsie se faceboekpage

Toortsie se Bantingboerekosboek Faceboekpage

16 thoughts on “z

  1. Zepraaaaais!! Ek het geweet jy gaan dit doen. Ek het jare gelede toe ek nog jonk was ‘n goeie vriend gehad (hy is later op slag dood toe hy met sy bakkie verongeluk het). Ons het al twee Datsuns gery. Maar hy het die 160Z gehad. Daardie Z het ‘n giftige enjin gehad en hy het ‘n burgerbandradio (!!!) in sy Datsun gehad. Onthou julle nog die CB’s? “Kom in my maatjie”.

    Liked by 1 person

    1. Ons het nooit CB radio’s gehad nie maar ons gebruik wel tweerigtingradios op die plaas. Hoe was dit? Maatjie vir ‘n praatjie. 🙂
      Ek hou van die Zepraais!

      Like

  2. Drie hoeraz vir Zoortsie, jy het bezonders goed gevaar!!! Hoe laat daardie CB radios my nou terugdink. Die dominee in wie se huis ons ingetrek het? Het ‘n ontsaglike hoë attena laat plant…. ons sou sweerlik Mars kon opvang was daar lewe daar. Met ons gewone radio kon ons maatjie vir ‘n praatjie opvang. Eendag was ‘n boer besig om met ‘n werker op die lande te praat toe iemand aanhoudend tussendeur inkom met “‘n maatjie vir ‘n praatjie.” Waar wip so ‘n boer hom. “Gaan bars jy met jou maatjie vir ‘n praatjie, kan jy nie hoor ek werk nie” sê die boer kwaad. Ek en my man het so lekker gelag. Jy het van Zuma vergeet!!!!

    Liked by 1 person

          1. Satire: The use of humour, irony, exaggeration, or ridicule to expose and criticize people’s stupidity or vices, particularly in the context of contemporary politics and other topical issues:

            Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!