W staan vir wederhelf

Ek het laat by die huis gekom en moet gaan kosmaak, maar nou draai die W woorde so in my kop dat ek eers moet kom skryf.

Wie weet waar wilde Wouter woon? Wilde Wouter woon waar woeste winde waai! (of so iets)

W staan vir woorde. Wat ‘n lekkerte het die Here tog nie gegee toe hy mense woorde gegee het nie! Blykbaar 40 000 per dag vir vroue! Maar toe sit Hy sowaar hierdie baieprater op ‘n plaas!, en al plek waar ek van die baie woorde per dag kan ontslae raak, is by die blog. 400 per dag. Genade! Wat moet ek met die res doen? G’n wonder ek raak soos ‘n opgewende orreltjie as ek by mense kom en praat hulle MAL nie!

W staan vir die waarheid. Die volle waarheid. Nie amper die volle waarheid nie. Nie ‘n wit leuentjie nie. Die waarheid. Punt.

W staan vir wil. Die wil om te werk of nie. Die wil om van iets ‘n sukses te maak of nie. Saam met die Wil het ek die woord Werk gebruik. Ai man, in ons liewe land voel dit vir my of werksetiek nie aangemoedig word nie. Ek wens dit was anders. Werkloosheid ís ‘n groot probleem, tog neem soveel van ons nie ons werk ernstig op nie. Aan die ander kant is daar weer werkoliste …

W staan vir die wel en wee van Spanner Coetzee. Ek haal my hoed af vir Amoré Bekker vir alles wat sy uitdink. Om dag vir dag vir hoeveel ure Tjailatyd op RSG aan te bied en die hele tyd interessant te bly verg baie. Vir dié wat nie weet nie, sy is tans besig om met die hulp van die luisteraars die storie te skryf van ‘n fiktiewe persoon, Spanner Coetzee. Dis soos ‘n kursus in storieskryf en ek verlustig my in hoe sy die mense uitlok om stories in te stuur. Tog mis ek soveel van die verhaal, tien teen een is die storie al klaar teen hierdie tyd.

William Wikkelspies! 🙂 Dit hoor ek op RSG! 🙂 Dis nou die Afrikaanse weergawe van William Shakespeare. Oulik!

En ja, W staan vir wederhelf! My wederhelf! Saam het ons al ‘n hele ou paadjie gestap, deur mooi stukke pad, moeilike pad, opdraende, afdraende. Bly ek het hom!

Groete

Toortsie

8 thoughts on “W staan vir wederhelf

  1. Woorde is wonderlik maar ‘n magtige wapen – mens moet versigtig met hulle omgaan, hulle kan maak of breek. ‘Like apples of gold in settings of silver Is a word spoken at the right time.’
    Dan sommer een wat van my tot toepassing was en my ma laat wonder het hoe ek ooit ‘n dame gaan word… Wille wragtag…. soos hulle dit uitgespreek het.

    Like

  2. Ons het werketiek in die Land gehad Toortsie,maar dit het by die agterdeur uitgewaai.Ek dink daar is verskeie redes daarvoor.Bestuursmodelle is nie meer in plek soos ons dit geken het nie.
    Tydsbestuur is nie meer in plek nie.So kan ‘n mens aangaan.Ek dink ‘n wesentlike probleem is ‘n bestuursbeginsel met die naam Kontroleer.Jong mense word te veel aan die genade oorgelaat.
    Hulle begin ‘n werk,geen leiding word gegee nie en die werk wat gedoen is word ook nie nagagaan nie,wat die rede is vir swak dienste.Hierdie probleme het na my mening net so na 2000 begin.Ek kan boeke skryf hieroor,maar ek stop maar hier.Ek glo dit sal voorentoe verbeter.
    Groetnis.

    Like

    1. Skryf daai boeke want daardeur word ons wakker geruk uit ons slaap. Dit gaan nie vanself regkom nie, net as ons almal daadwerklike pogings daartoe begin aanwend. As elkeen van ons wat leierseienskappe het, opstaan en dit begin gebruik tot voordeel van ons almal. Jy het ‘n hele paar ware punte genoem.

      Like

Lewer kommentaar op Kameel Kanselleer antwoord