U staan vir UNTAG

U staan vir UNTAG wat in Namibië die orde gehandhaaf het voor Namibië afhanklik geword het. Of in Afrikaans, die VVO, as ek reg het? Kort daarná het ons ‘n paar lorrievragte beeste gekoop uit Namibië. Dit was erge droogte daar, die boer het nie meer raad geweet nie en hulle is na ons toe gestuur. Ons kon die beeste op ‘n afstand uitken, regte VVO beeste, want al wat jy gesien het was Ore, Vel en V… 😉

U staan vir Uile. Elke aand hoor ek uile op my dak roep, dit klink darem hulle ken nie my naam nie! 🙂 Dis vir ons ‘n uitdaging om die plaaswerkers te leer dat ‘n uil nie sleg is nie, dat ons graag uile op die plaas wil hê omdat hulle muise vang en sodoende ook slange weghou. Hier by ons word mos baie met voer gewerk, ‘n regte uitnodiging vir muise. My aanstaande skoonseun het vir my twee uilhokke gebou, maar helaas, die uile het nog nie vatplek aan hulle gekry nie. Dit gaan ‘n baie blye dag wees die dag as daar uile in die hokke is en hulle begin broei.

U staan vir ‘n uur, wat so stadig kan loop, of so vinnig!

U. Utopia. As kind het ek altyd Desembermaande na die Vrystaters en Transvalers geluister wat by ons strandoorde kom vakansie hou. Die kinders was grootpraterig. Ons ou trekkertjies lyk soos miggies teen hulle massiewe trekkers. Hulle haal 15 ton per hektaar af, terwyl ons ekstra trots is as ons twee ton afhaal. Soos Hendrik Schoeman gesê het, ‘die Kapenaars het nie bogrond nie, ook nie ondergrond nie, net agtergrond! ‘ En ja, hy is waar, ons boer maar hier tussen die klippe. Verder was ons tog so nederig en agterlik en ons praat plat, van skap en Kap, terwyl die Transvalers van Skôp en Kôp gepraat het. Goeie Afrikaans soos opgevoede mense dit praat! Vreemd, dis deesdae nie meer so erg nie, net EK het AK geword! Kan jy nou meer!  Tog kry ek deesdae die indruk dat die Kaap amper Utopia begin word het? Of het ek die kat aan die stert beet? Ons ou nederige Kaap het ‘n plek geword waar ander mense ook wil wees!

Uitrus. Soos in ‘n vakansie. Ek wéns!

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Net drie dinge

Toortsie se faceboekpage

Toortsie se Bantingboerekos faceboekpage

11 thoughts on “U staan vir UNTAG

  1. UNTAG (United Nations Transition Assistance Group) was die afkorting van die verenigde nasies se taakspan wat gestuur is om resolusie 435 in destydse Suidwes Afrika te implimenteer en toesig te hou oor die stemproses waarin beheer van die land oorgegee is deur die Suid Afrikaanse regering terug aan die wenners van die verkiesing, wat toe Sam Nujoma se SWAPO party was.

    Like

  2. Om Kaap toe tegaan in die regte tyd van die jaar is Utopia!!! My Kapenaarse kleindogters praat ook anderste maar dit is vir my mooi 🙂

    Like

  3. As gebore (en baie trotse!) Vrystaaaaaater wat later in Tronsvol gaan bly het, het die verskillende Kaapse dialekte altyd vir my nog groot bekoring ingehou. Daai Ofrikons van die noorde kom lê baie kras op my oor. Ek lê graag twee eiertjies: Uitstekend is vir my ‘n woord wat onmiddellik ‘n bepaalde beeld oproep – ‘n beeld van presteer, goed, oorwinning – ‘n heerlike woord (soveel beter as awsome). En dan die enkele letter U (veral met ‘n hoofletter) wat respek versinnebeeld. Respek – iets waaraan ek tog so baie waarde heg.

    Like

  4. Hendrik Schoeman! Daai man het ‘n mond gehad wat goud uitgespoeg het elke keer as hy oopgemaak is.Onthou julle nog:“Wil julle vreet of wil julle vlieg?” Ai tog, hoekom is ons parlement nie meer so interessant nie? O ja, ons bly mos nou in Utopia. Lekker gelees Toortsie.

    Like

  5. Ek bly heerlik in Tronsvôl,maar ek moet darem ‘n lansie breek vir Afrikaans hier…daar is min mense wat so gerond prôt…dis iets wat hier in die negentigerjare kop uitgesteek het by studente en jongmense van Pretoria veral.Dis werklik nie algemene taalgebruik hier by ons nie.Omdat dit snaaks is,hou mense aan om te maak asof dit die manier van praat is.

    Like

Lewer kommentaar op Tannie Frannie Kanselleer antwoord