M, N, O

Blog van A-Z

Mikal

Onbewus van haar omgewing stap Mikal rusteloos op die paleisdak rond. Daar is ‘n onvergenoegde trek om haar mond, terwyl haar gedagtes soos ‘n maalkolk in haar woel. Sy dink terug aan Dawid, die aantreklike jongman van Betlehem wat oornag ‘n held geword het toe hy Goliat verslaan het. Haar pa, koning Saul, het hom eers omhels en in die paleis laat bly, maar hom begin wantrou, en weggestuur slagveld toe deur hom hoof van ‘n leërmag te maak. Sy was so verlief of Dawid, en het in stilte gehoop dat haar pa haar as vrou aan Dawid sou gee. Maar die hoop het begin kwyn toe Dawid so geliefd in Israel en Juda geword het dat haar pa uit jaloesie, Dawid se dood gesoek het. Sy was in ekstase die dag toe sy hoor haar pa het haar aan Dawid belowe as diè vir hom ‘n honderd Filistyne se voorhuide as bruidsprys sou bring. Alhoewel haar pa se wispelturigheid soos ‘n swaard oor Dawid se kop gehang het, was hulle dolgelukkig na hulle huwelik. Dit was wonderlik om hom met soveel oorgawe op sy lier te hoor speel, terwyl hy in sy mooi stem psalms tot eer van God sing. Sy het nie sy liefde vir God gedeel, of verstaan nie; maar dit het haar nie gekeer om Dawid se elke beweging dop te hou, en sy nabyheid in te drink nie. En toe in een dag verbrokkel alles. Dawid het uitasem by die huis aangekom. Hy was by haar pa om vir hom op sy lier te speel; koning Saul het boosaardig geraak, en probeer om Dawid met sy spies teen die muur vas te pen. Dawid het huistoe gevlug; haar pa het manne agterna gestuur om die huis te bewaak, en daar is opdrag gegee om Dawid die volgende oggend dood te maak. Sy was vreesbevange en hartseer, maar het Dawid oorreed om te vlug. Daardie nag het sy hom deur ‘n venster laat afsak, en in sy plek op die bed ‘n afgodsbeeld, wat sy in ‘n kombers toegevou het, neergelê. Vir maande daarna het sy oor hom getreur, maar toe haar pa haar as vrou aan Palti gegee, het sy dit gedweë aanvaar. Deur die jare het Dawid se beeld verdof en hulle saamwees het vervaag tot ‘n vae herhindering. Na haar pa se dood is Dawid as koning oor Juda gekroon. Die nuus het vir haar niks beteken nie, maar dinge het verander toe Abner – die bevelvoerder van Israel se leër – sewe jaar later by haar opdaag, met die bevel dat sy saam met hom moet vertrek. Hy was oppad om met Dawid te gaan onderhandel om die koningskap oor Israel te aanvaar; Dawid was egter net bereid om te onderhandel as sy wat Mikal is aan hom as sy vrou terugbesorg word. Sy was nie meer die verliefde jong meisie van vroeër jare nie, maar ‘n volwasse vrou, en het dadelik besef hoeveel voordele dit vir haar inhou. Vererg skud Mikal haar skouers asof sy so die gedagte aan Palti wat al huilend agter haar aangeloop het, kan afskud. By Bagurim het Abner hom beveel om pad te gee en terug te gaan huis toe. “Dwaas,” sê Mikal hardop, en kom tot stilstand. Sy kyk om haar rond. Die dag is al vêr gevorderd. Dawid is saam met die hele Israel na Obed-Edom se huis toe om die ark van die Here na die Dawidstad toe te bring. Sy was nie verbaas oor Dawid se opgewondenheid om die ark – wat God se nabyheid en heiligheid in Israel verteenwoordig – na ‘n sentrale plek van aanbidding toe te bring nie. Die ark het ‘n generasie lank in ‘n obskure plek gestaan het. Na haar terugkeer onder Dawid se dak was dit vir haar gou duidelik dat sy liefde vir God nie deur die jare verflou het nie, maar in krag toegeneem het. Wat haar wel verbaas het was dat hy – wat intussen soveel vroue en kinders bygekry het – haar nie vergeet het nie, maar nog lief was vir haar. Mikal draai vinnig om en stap die paleis binne; sy wil nie nou daaraan dink dat sy nog nie vir Dawid ‘n seun in die wêreld gebring het nie. Heelwat later hoor sy ‘n rumoer, en beweeg venster toe. Onder die geklank van ramshoring- en trompetgeskal, simbaalslae en die musiek van harpe en liere, beweeg mans in wit klere al dansende voor die ark uit. Die lug is gevul met musiek, en sang en feeskrete. Dit is ‘n gesig om te aanskou, maar dan verstar Mikal. Sy het verwag dat Dawid in volle glorie – met sy koninklike mantel, en kroon op sy kop – die optog sou lei, maar hier sien sy hom aangetrek soos ‘n Leviet met ‘n wit skouerkleed aan, in volle oorgawe voor die ark uit spring en dans. Met minagting hou Mikal vir Dawid dop, en in haar hart verag sy hierdie man wat hom nie soos ‘n koning nie, maar soos ‘n gewone onderdaan gedra. Toe Dawid later vol vreugde inkom om sy huisgesin te seën, loop Mikal hom tegemoet. “Hoe waardig het die koning van Israel hom vandag gedra! Hy het hom die heeldag voor die slavinne van sy onderdane ontbloot soos ‘n onbeskaamde mens wat hom sommer ontbloot,” sê sy smalend. Vir ‘n paar oomblikke kyk Dawid haar stil aan, en dan antwoord hy, “Voor die Here wat my verkies het bo jou pa en sy familie deur my aan te stel as heerser oor Israel, die volk van die Here, ja, voor die Here sal ek dans. Ek sal myself nog geringer ag as dit en nederiger wees in my eie oë deur my by die slavinne van wie jy praat, waardig te gaan gedra.” Met diè woorde draai hy om en stap van Mikal af weg.

Naāman

Naāman is woedend; “Besef hierdie profeet uit Samaria nie wie hy Haāman is nie?” Hy was tot in die grond toe verneder toe Elisa nie eers die moeite gedoen het om uit sy huis uit te kom nie, maar ‘n slaaf met ‘n boodskap na hom toe gestuur het, asof hy sommer ‘n gewone “hier jy” is. Hy Haāman hoof van die leër van die koning van Aram is nie net ‘n gesiene man nie, maar is die koning se regterhand, en geniet die koning se agting. Vir Elisa om hom voor al die hoë amptenare wat hom op diè reis na Israel toe vergesel het so te verneder, is onvergeeflik. Die hele reis was ‘n mislukking dink Haāman bitter. Dit het begin die dag toe sy vrou hom vertel het dat haar bediende – ‘n jong Israelietiese dogter wat hulle in een van hulle strooptogte ontvoer het – aan sy vrou gesê het dat daar ‘n profeet in Samaria is wat hom van sy melaatsheid kan genees. Hy het dit aan die koning gaan vertel, en die koning het hom nie net toestemming gegee om te gaan nie, maar ‘n brief aan die koning van Israel geskryf aangaande die saak. Vol hoop is hy en sy gevolg met drie honderd twee en veerig kilogram silwer, ag en sestig kilogram goud en tien stelle klere as geskenke vir die profeet, uit Aram weg. In Israel aangekom het hy die brief van sy koning aan die koning van Israel gegee om te lees. Die brief het gelees: “Ek het my dienaar Naāman met hierdie brief na jou toe gestuur. Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak.” Net daar skeur die koning toe sy klere, en roep uit, “Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom van sy melaatsheid gesond te maak?” en voeg toe by dat dit duidelik is dat die koning van Aram net met hom skoor soek. “Dit was ‘n fout om te kom,” het Haāman aan sy manne gesê, maar voordat hulle na Aram toe kon terugkeer het die profeet Elisa vir koning Joram laat weet dat hy vir Haāman na hom toe moet stuur, sodat Haāman kan weet dat daar ‘n profeet in Israel is. Haāman klem sy kake opmekaar, en sy oë spoeg vuur toe hy dink aan hoe hy sy ontvangs by die profeet voorgestel het, en hoe sake verloop het. Al het die profeet hom dan nie met eerbied ontvang, soos waaraan hy gewoond is nie, het hy gedink hy sou darem uitkom, gaan staan en die Naam van die Here sy God aanroep, dan sy hand heen en weer oor die plek van die melaatsheid beweeg en dit so wegneem. Maar nee, hy stuur ‘n slaaf met ‘n boodskap dat hy homself sewe maal in die Jordaan moet gaan was, dan sal hy gesond word en rein wees!!! Is die riviere van Damaskus, die Abana en die Parpar, nie beter as al die water van Israel nie.? waarom kan hy hom nie daarin was nie? Toe hulle ‘n rukkie later stop nader ‘n paar van sy amptenare hom. Dit is duidelik dat hulle iets op die hart het. “Meneer,” begin een versigtig praat, “as die profeet iets moeiliks van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy vir u gesê het was jou, en jy sal rein wees.” Hulle woorde laat Haāman afkoel. Soos sy gewoonte is wanneer hy diep dink trek hy aan sy bokkiebaard. Het die profeet gesê hy moet ‘n duisend beeste aan die Here offer sou hy dit nie gedoen het nie? Natuurlik sou hy as hy geweet het dit sal hom genees; hoekom hom dan nie in die Jordaanrivier bad soos die profeet gesê het nie? Verligting spoel oor Haāman, en hy gee opdrag dat hulle na die Jordaanrivier toe moet gaan. Heelwat later stop hy weer voor Elisa se huis; rein, en met ‘n vel soos diè van ‘n klein seuntjie s’n, stap hy ligvoets tot voor Elisa, en sê; “Ek weet nou, daar is geen God op die hele aarde nie behalwe in Israel. Aanvaar asseblief hierdie van my,” en met ‘n swaai van sy hand wys hy na die vragte vol geskenke. Elisa skud sy kop, en maak dit gou duidelik dat hy nie die geskenke wil hê nie. Toe sê Haāman; “As u dan nie iets wil hê nie, wil u nie asseblief vir my twee muilvragte grond laat kry nie? Daarop wil ek brandoffers en ander diereoffers bring, net aan die Here, nie langer aan enige ander gode nie. Daar is net een ding wat die Here my asseblief sal moet vergewe: as my koning na die tempel van Rimmon toe kom om te aanbid, en ek hom moet vergesel, en ek dan in die tempel van Rimmon aanbid wanneer hy daar aanbid, mag die Here my dit vergewe!” Elisa glimlag, “Gaan in vrede,” sê hy, en stuur Haāman van hom af weg.

Orpa

Haar voete beweeg langsaam met die stofpad langs, maar haar hart is in Moab waar sy grootgeword het, leer liefkry het, en vir tien wonderlike jare saam met haar man, en sy familie geleef het. Orpa knip haar oë om die trane te keer wat so vlak sit. Sy wil nie haar skoonma onnodig ontstel nie; Naomi is deur genoeg – om twee seuns so kort na mekaar aan die dood af te staan – het haar kwesbaar, en verbitterd agtergelaat. Toe Naomi gehoor het dat daar nie meer hongersnood in Israel is nie, het sy besluit om na haar eie land toe terug te gaan, en haar skoondogters saam met haar te neem. Rut het die nuus gedweë aangehoor, en gereed gemaak vir die reis, maar Orpa was platgeslaan. Vrees vir die vreemde het haar hart in ‘n ystergreep beet. In die jare wat sy saam met Naomi gebly het, het Orpa van Johovah, die God van Israel geleer, maar sy kon nie in haar hart afstand doen van die gode van Moab nie. Sy verwonder haar dat haar skoonsuster Rut so maklik die nuwe geloof aangeneem het. Naomi het hulle gewaarsku dat net Jehovah in Israel aanbid mag word. Orpa sug, Het sy en Kiljon net ‘n kind gehad sou haar hart, en haar arms nie nou so leeg gevoel het nie. Miskien sou sy as heiden dan ook meer aanvaarbaar gewees het vir die mense in Juda, waarheen hulle nou oppad is. Dit is Naomi wat die stilte tussen die drie vroue verbreek. Sy gaan staan en kyk haar skoondogters direk aan. Die pyn in haar oë is onmiskenbaar toe sy sê, “Julle moet liewer teruggaan na julle ouerhuise toe. Mag die Here sy liefde aan julle bewys, soos julle aan die oorledenes en aan my liefde bewys het. Mag die Here vir julle elkeen weer ‘n goeie man en ‘n heenkom gee.” Sy steek haar arms uit om hulle te groet; die trane wat Orpa so lank probeer inhou het begin vrylik vloei, en haar hart pyn toe sy dink dat sy diè vrou, vir wie sy so lief geword het nie weer gaan sien nie. “Nee, ons wil met Ma saamgaan na Ma se volk toe,” snik sy. Naomi slaan haar arms om haar huilende skoondogters en trek hulle moederlik nader. “Gaan terug, my dogters. Waarom sou julle saam met my wou kom? Het ek nog enige hoop om seuns in die wêreld te bring, sodat julle met hulle sou kon trou? Gaan asseblief maar terug, my dogters, ek is te oud om weer te trou; selfs al sou ek sê daar is nog hoop vir my, al sou ek vannag by ‘n man slaap, al sou ek nog seuns in die wêreld bring, sou julle kon wag tot hulle groot is? Sou julle julle ondertussen daarvan kan weerhou om weer te trou?” Terwyl sy na Naomi luister bedaar Orpa. Dit gaan swaar wees om afskeid te neem, maar Naomi is reg; haar toekoms lê in Moab. Met die agterkant van haar hand vee sy die trane van haar wange af. “Dit is reg so ma, ek sal teruggaan.”  Sy groet Naomi, en Rut en draai om terug na haar volk en haar gode toe.

 

Advertisements
This entry was posted in Bybelkarakters A-Z. Bookmark the permalink.

17 Responses to M, N, O

  1. Jy moet oorweeg om hierdie reeks van jou in boekvorm uit te gee.

    Like

  2. Dankie, Kameel – jy laat hierdie Bybelmense leef!

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Dankie vir die lees Frannie. Tog eienaardig hoe die mense meer werklik begin voel soos ek dieper oor hulle dink. Soos Orpa, hoe het sy gevoel om weer by haar ouers se huis aan te kom, en die drade van haar lewe weer te begin optel. Mense met regte gevoelens net soos ons.

      Liked by 1 person

  3. Ek sien altyd uit na die skrywes van jou

    Liked by 1 person

  4. Jy het die ou verhale afgestof en pragtig weergegee!

    Liked by 1 person

  5. Toortsie sê:

    Dankie Kameel.
    Ek weet dis ‘n groot storie vir jou, en jy doen baie navorsing. Tog dink ek, as jy by Z kom, jy nie moet stop nie. Vertel vir ons nog!

    Like

  6. Wonderlike skryfwerk wat jy doen. Jy sit darem baie krag en moeite in die werk. Baie dankie vir die mooi beskrywings so eg en menslik.

    Liked by 1 person

  7. Terug pieng: Toeka-Tokkel no 15: Legkaart/e – I scrap 2

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s