Byname

Ek leen hierdie onderwerp by RSG, maar dit het so lekker geklink en ek wil ook graag my eiertjie lê.

Hier waar ek woon, het almal omtrent in my kinderjare byname gehad, maar ons mag dit nooit voor hulle gesê het nie. Dit was oom Thys Neus, oom Jan Keppies, oom Oortjies,  Brilletjie, oom Mattewis Hoed, ek neem aan hy het altyd ‘n hoed gedra. Baie keer was die plaas waar hy woon, deel van die naam soos om Jan Potberg, of oom Dirk Ouplaas, oom Koos Holdrif of Piet Sanddrif.

Ek begin toe neerskryf wat mý name almal was, of eerder, wat ander mense my genoem het. My een tannie het vir my ‘Blommetjie’ genoem, terwyl ‘n ander tannie my Madetuisie genoem het.

‘n Skoolvriend het vir my vanuit die lugmag ‘n brief geskryf Universiteitskoshuis toe, en skryf toe tussen hakies ‘Madeliefie’. 🙂 Ek moes onder die lang HK tafel deurkruip om die brief te ontvang. Natuurlik het ek dit as groot pret gesien! Ons eerstejaars in ons koshuis was almal pawpaw’s en daarvandaan was ek die res van die jaar pawpaw Madeliefie! Ek gee natuurlik glad nie om om ‘n madeliefie te wees nie, dis ‘n pragtige blommetjie wat blom net waar jy hom plant, solank hy sonlig en so hier en daar ‘n bietjie water kry. Chris, ek was erg opgemaak daarmee!

Op skool het ek een keer van motbolle gepraat en toe het iemand dit goed gedink om my Madelé Motbol te doop. Alhoewel sý my end-uit so genoem het, het die naam nie posgevat nie.

‘n Naam wat egter wel gekom het om te bly, was toe ek by Bedford skoolgehou het. Ek het in so ‘n ou gebou gebly waar kokkerotte was, so ek was toe sommer dadelik Kokkerot gedoop. By die volgende skool was ek een dag erg kwaai met die lot seuns, en toe hulle uitloop lê daar ‘n briefie op een van die tafels: “Ou Heks”. Nou ja …

My man het my in ons uitgaandae Liefie genoem … 🙂 en party van my niggies en neefs noem my Ou Nig. ‘n Buurman het my Marmelade gedoop. En dan is ek mos in blogland bekend as … TOORTSIE!

So, kom vertel ‘n bietjie, wat was JOU naam? Of wat is dit nog steeds?

Toortsie

Toortsie by Finesse: Foto’s en die vreugde van saamwees.

Toortsie se Faceboekblad

Toortsie se Bantingboerekos

30 thoughts on “Byname

    1. Die seuns was WISKUNDE! Weet jy, dis verskriklik lekker vir ‘n vrou om by ‘n seunsskool skool te hou. Dit was die Tegniese Skool op Oudtshoorn waar baie koshuiskinders was. Die seuns het die paar vroue op die personeel op die hande gedra.

      Like

  1. Meeste van my vrinne roep my Jakes, ‘n paar noem my Jakkals. Op hoërskool was ek Rockbiter en by SAW en seuns Spitfire. Die van Helsdingen poppie noem my Liewelawwelyfie as my aandele hoog is en dinge wat ek nie hier kan herhaal nie wanneer daardie aandele verby rommelstatus sak.

    Liked by 1 person

  2. Ons het veral die onderwysers op skool byname gegee en ek het altyd gewonder of hulle wel geweet het wat hulle byname was.Voorbeelde wat ek kan onthou was ”Kalahari- aap,Witrot,
    Moegoe,Bewusteloos,Tone” en nog meer.Gewoonlik was die Onderwysers met byname nie baie gewild nie.Sommige van my Kollegas noem my bv Werries,wat my glad nie pla nie.Toortsie as ek jou miskien ‘n bynaam sou gee sal ek defnitief iets van ”Banting in bring.Ek grap maar net.
    Groetnis.xx

    Like

    1. 🙂 O né? Maak ek julle MAL???
      Maltrap was nogals ook ‘n naam wat ek op ‘n stadium gehad het. 🙂
      Ja, die onderwysers weet gewoonlik wat die name is. Mure het ore, jy sien, en onnies het oë agter hulle kop.

      Like

  3. Weet net ons onnies het almal byname gehad…. kannie dink ons het ooit anderste van hulle gepraat nie. Net as ons persoonlik met hulle gepraat het is hulle op hulle vanne aangespreek.

    Like

  4. Ek onthou een onderwyser se bynaam was Aasvoël,want hy het so ‘n lang dun nekkie en vreeslike groot adamsappel gehad.Ons Duitse onnie was Baäl,maar ek weet tot vandag nog nie hoekom nie.Een ou met so ‘n “comb over” soos Donald Trump,se bynaam was Oertel….vreeslike groot kaalkop,met die hare so van agteraf oorgekam en op die voorkop vasgeplak in klein krulletjies.

    Like

Gesels saam, asseblief!