J, K, L

Blog van A to Z

Jael

Haar hande is besig met hulle daaglikse werk, maar haar gedagtes is by die Kisonspruit waar haar man Geber vertel het Sisera – hoof van koning Jabin se weermag – opgetrek het teen die Israeliete. Hy het vertel dat ‘n man met die naam Barak in bevel staan van die Israeliete. Die nomadiese Keniete (waarvan sy en Geber deel is) staan neutraal teenoor Israel en Kanaān, maar sy is bekommerd oor Geber wat as metaalsmid gaan kyk het of hy van nut vir die Kanaāniete kan wees. Jael kom stadig regop, en met haar hande in haar sye strek sy haar moë rug na agter. Haar oë dwaal oor die vlaktes, in die rigting van die berge. Geber het ‘n rukkie terug besluit om weg te trek van die Keniete af, en hulle tent hier onder die groot boom in Saānannim naby Kedes te kom opslaan. Dit kan met tye eensaam raak, maar oor die algemeen geniet sy die stilte. ‘n Beweging na links trek haar aandag. ‘n Man kom na die tent toe aangehardloop; aan die manier waarop hy bly omkyk is dit duidelik dat hy op vlug is. Jael draf nader; “Kom hierheen Meneer! Kom na my toe, moenie bang wees nie!” roep sy uit. Uitasem kom die man by haar tot stilstand. Hy is vuil, en natgeweet, maar dit is die vrees in sy oë wat Jael die meeste opval. Sy herken Sisera, en verstaan hoekom hy juis na hulle tent toe gevlug het. Haar man se familie, en die Kanaānietiese koning Jabin verkeer op goeie voet. Vinnig neem sy hom die tent in, laat hom lê, en gooi hom toe, dan trek sy ‘n gordyn om hom toe. Net toe sy wegstap hoor sy hom roep, “Ek is dors, gee my ‘n bietjie water om te drink.” Jael gaan haal die melksak, en stap terug na waar Sisera lê. Sy help hom regop sit, en hou die melksak voor sy mond. Hy sluk so gulsig dat die melk in straaltjies by sy ken afloop. Met die agterkant van sy hand vee hy die melk af, en sê, “Staan by die tentdeur, en as daar iemand kom wat vir jou vra: ‘Is hier dalk iemand by jou?’ moet jy vir hom sê: ‘Nee!” Woordeloos knik sy haar kop. Terwyl sy hom toegooi sien sy hoe hy in ‘n diep slaap wegsink. Jael gaan staan by die tentdeur, soos hy haar beveel het, maar sy voel nie gerus nie; onsekerheid het van haar besit geneem. Toe die man so vinnig op haar afgekom het, het haar instink om te beskerm dadelik in werking getreë; maar nou begin sy twyfel aan die wysheid van haar optrede. Wat gaan met haar gebeur wanneer die man wat Sisera agtervolg hier opdaag? Geber mag ook enige oomblik terugkeer, en dan het sy hom ook in gevaar gestel!! Met elke minuut wat verby tik word die wroeging in Jael groter. Dan asof daar vir haar ‘n lig opgaan weet sy presies wat sy moet doen. Die taak voor haar vul haar met afsku, maar sy verspil geen tyd nie. Met ‘n tentpen en hamer in haar hand stap sy suutjies na Sisera toe, buk by die slapende man, en met ‘n paar vinnige bewegings slaan sy die tentpen deur die slaap van sy kop, sodat sy hom in die grond vasslaan. Vinnig kom sy regop, en hardloop na buite. Sy is naar, maar kom vinnig tot haar sinne toe sy ‘n man nie vêr van die tent af nie, sien rondkyk. Sonder huiwering hardloop sy na hom toe, “Kom hier! Ek sal vir jou die man wys wat jy soek.” Barak stap saam met haar die tent binne, en kyk verbaas na die dooie man op die grond. Onbewus van dit wat op daardie oomblik deur Barak se kop gaan, kyk Jael vol afwagting na die man hier by haar. Maar Barak se oë bly vasgenael op Sisera se liggaam. Hy onthou Debora die profetes se woorde aan hom nadat hy te bang was om sonder haar die slagveld te betreë. Sy het gesê, “Goed, ek sal saamgaan, maar jy sal nie die eer vir hierdie veldtog kry nie: die Here sal vir Sisera aan ‘n vrou uitlewer.”

Keturah

Met oë vol liefde kyk Keturah na Abraham, nou al so oud in leeftyd, en hulle ses seuns wat om hom sit. Hulle luister aandagtig terwyl hy vertel van die dag toe God aan hom gesê het hy moet uit die land waar hy gewoon het trek, na ‘n land toe wat God vir hom sal aanwys, en dat God van hom ‘n groot nasie sal maak. Sy glimlag stilweg; die lewensverhaal van diè man wat in so ‘n diep verhouding met God staan, is voorwaar mekwaardig. Dit is nie die eerste keer dat die seuns dit hoor nie, maar dit is nodig dat hulle dit so goed sal ken sodat hulle dit weer aan hulle nageslag kan oorvertel. Die seuns geniet hierdie tye saam. Tot groot genot van almal sing hulle met tye dele uit die verhaal saam. Sy hoor kort-kort Sara se naam, maar Keturah voel geen jaloesie nie. Sy weet dat Abraham en Sara ‘n liefde gedeel het wat haar nie beskore is nie. Sara was die vrou van sy jeug, diè een wat vir hom in haar ouderdom Isak die verbondskind, gebaar het. Sy Keturah is die vrou met wie hy in sy gryse ouderdom getrou het omdat hy na Sara se dood, en Isak se troue, eensaam was. Sy het deur die jare lief geraak vir die man soveel jare ouer as sy, en versorg hom met tye soos ‘n dogter haar pa sal versorg. Dat sy vir hom ses seuns in die lewe gebring het is vir haar ‘n groot troos. Sy lag byna hardop toe sy onthou hoe verbaas, maar tog verheug Abraham was toe sy hom die eerste keer vertel het sy is swanger. “En om te dink ek het al daardie jare terug – toe God my van Isak vertel het – gewonder hoe daar vir ‘n man ‘n honderd jaar oud ‘n kind gebore kan word,” het hy kopskuddend gesê.

Lea

Lea lê en luister na die rustige asemhaling van die slapende man hier langs haar. Die nag is al vêr gevorder maar sy het nog nie ‘n oog toegemaak nie. Sy herleef weer die nag van passie en die liefdeswoorde wat Jakob in haar oor gefluister het. Maar dit was nie haar naam wat hy genoem het nie, nee hy het haar Ragel sy geliefde genoem. Sy vrees die daglig wanneer Jakob gaan wakker word en besef die vrou met wie hy homself so totaal gedeel het is nie die beeldskone Ragel wie hy lief het nie, maar haar ouer suster Lea, die onaansienlike een. Lea beweeg onrustig; die slapende man trek haar stywer teen hom vas, en slaap weer rustig voort. Lea dink aan die sewe jaar wat Jakob vir haar pa gewerk het om Ragel as sy vrou te verkry. Van ‘n distansie af het sy hulle dopgehou; gesien hoe sterk hierdie man se liefde vir haar suster is, en hoe die reeds beeldskone Ragel onder dit geblom het. Hoe het sy wat Lea is nie gesmag daarna dat iemand haar ook so sal liefhê, en homself in haar verlustig nie. Deur die jare het sy lief geraak vir Jakob, maar besef dit is ‘n tevergeefse liefde.  Haar gevoelens was so deurmekaar toe haar pa haar in Ragel se plek gisteraand as vrou na Jakob se tent toe gebring het. In haar wildste drome het sy nooit gedink dat sy eendag in Jakob se arms sou lê nie. Maar sy het besef dat haar pa besig was om Jakob te bedrieg, en dit het haar goedkoop laap voel. ‘n Vuurtjie van hoop begin meteens in Lea se binneste brand. “Sou sy vir Jakob ‘n seun in die wêreld bring, sal hy haar dan nie ook liefkry nie.?” So swaar gesluier soos sy die vorige aand in Jakob se tent ingekom het, so gesluier lê  die toekoms voor haar, maar in diè onbekende donkerte brand daar ‘n vuurtjie van hoop.

11 thoughts on “J, K, L

        1. Dit gaan nie goed in my lewe op oomblik nie…. Skryf hierdie onder moeilike omstandighede. Dit gaan baie deursettingsvermoë kos om klaar te maak Toorts.

          Like

    1. Dankie vir die lees. Het so ‘n bietjie van Jael geweet maar nie die volle detail van verhaal nie. Nou gaan ek bieg; het van Keturah geweet maar slaan my met ‘n veertjie om nooit geweet Abraham het ses seuns by haar gehad nie. My oë gaan ook vir heelwat dinge oop omdat ek nou in diepte moet lees. Mooi aand vir jou.

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!