Die moed en die oortuiging

Ek het ‘n funksie by te woon, wat ‘n heerlikheid, maar ek wil nie oor die funksie uitbrei nie. Ek wil uitbrei oor die plek waar dit gehou is. So ‘n klein stoortjie op ‘n plaas, dalk ‘n ou stal.

Dis ‘n lang vertrek, met die deure wat van die sykant af oopmaak. Buite was sjampanje bedien, en binne is die hele stoortjie gevul met een lang tafel, met sitplek vir omtrent 60 mense.

Ons was in verwondering oor hoe mooi die plek reggemaak is. Die vloere, lyk dit my, is nog die growwe vloer van die oorspronklike geboutjie, daar is die mooiste mat oor gegooi. Die stoele rondom die tafel lyk nie almal dieselfde nie, tog is dit uiters smaakvol. Aan die een kort muur is dit versier met rolle  van die mooiste plakpapier wat afgerol is. Aan die anderkant hang blomme. Die hooflig in die middel van die lokaal moet ‘n ou hoepel wees van ‘n wawiel, of so iets, wat horisontaal aan toue hang met ligte daarop gemonteer. Verder is daar weerskante van twee trosse bottels ligte gemaak met ‘n ander lig nog weerskante aan die punte.

Uit hierdie vertrek gaan daar twee vertrekke waar lieflike, sagte stoele is, regtig die mooiste ruskamers wat ek in ‘n lang tyd gesien het. Smaakvol.

Die eetgoed was alles in happiegrootte, een ding op ‘n slag bedien. Elkeen uit ‘n ander wêreld, eetgoed wat ek nog nooit gesien het nie. Elkeen besonders.

Nou is ek terug by my opskrif. Hartlik geluk aan die persoon wat die moed en die oortuiging gehad het om dit aan te pak, om ‘n eenvoudige stoortjie op so ‘n besonderse manier gaan tooi het en dit aanbied vir mense, so mooi dat mense net weer en weer soontoe sal wil gaan. Ek wonder hoeveel keer het iemand ‘n besonderse idee in sy kop en doen dit nooit, bloot omdat iemand anders se reaksie op sy idee dalk nie so positief is nie. Ekself het ervaring daarvan.

Ek dink die ding is dat jy ‘n prentjie in jou kop het, maar die een vir wie jy dit vertel, het ‘n ander prentjie in sy kop, een wat glad nie so mooi of oorspronklik soos joune is nie. Ek bewonder enige persoon wat op die ou end deurdruk met ‘n nuwe idee, omdat dit dit baie moed en oortuiging kos om dit te doen.

Well done aan hierdie man met sy fantastiese eetplek.

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad

Toortsie se Bantingboerekos Faceboekblad

Toortsie by Finesse: Die wonderlike versekering

6 thoughts on “Die moed en die oortuiging

  1. ‘n Mens sien werklik die mooiste kunstigste plekke waar troues ens gehou kan word. Ek verwonder my baie keer aan die badkamers wat so absoluut uniek gemaak word.

    Like

    1. Dit was ‘n fondsinsameling vir ‘n vriending wat vanjaar die motorfiets gaan aanpak vir Cancervive. Dave Pepler het kom praat oor parfuums. Sjoe! Die man het ‘n ongelooflike kennis! Die uiteinde? Daar is ‘n kaartjie met twee lieflike parfuumname op wat ek terloops in my man se hand gedruk het. … 😉

      Like

Gesels saam, asseblief!