L staan vir lawwigheid

En vir lemonade wat jy glo moet maak as die lewe vir jou met suurlemone gooi. Genade! Toortsie moes regtig op haar kop geval het daardie dag toe sy dít geskryf het!

Lag, lawwigheid. Dís die dinge wat jou lewe ligter maak. Wat is meer bevrydend as ‘n heerlike lagsessie, uit die maag uit, as jy en die kleinkinders mal, mal, mal is op die trampoelien en sommer net omval en lag en lag en lag?

L is vir die Leeu van Juda. Jy weet mos wie is Hy, né? En die Lydenstyd, die tyd voor Paasfees.

Lanterns met hulle kleine liggies, wat warmte gee en hoop in ‘n donker nag. Lig. Lig wat skyn. Lig vir die wêreld.

Om jou Laste Ligter te maak.

Leer. ‘n Leer waarmee jy hoog teen ‘n muur kan opklim. Maar ook leer jou lewe lank. Leer deur te studier, maar ook leer deur die lewe, leer deur jou foute, leer by ander.

Lalala, dis wat jy sing as jy nie die woorde ken nie! Ons skoollied het ‘n sin in gehad: “Tra la la la, dorp van Breda.” Een keer moes ons viertjies wat van Bredasdorp af gekom het op ‘n dogterskamp ons skoollied sing. Ek was so gespanne oor die Tralalala dat ek histeries aan die lag geraak het toe ons daar kom. Die hele saal het gekreeu soos hulle lag, vir my natuurlik, die trane en neus het geloop vir ‘n vale. Wel, niemand het ooit geweet WAAROOR ek so histeries aan die lag geraak het nie! Hul het nie die woorde gehoor nie!

Lamtietie, damtietie, doedoe my liefstetjie. Lief. Liefhê. Liefde.

Laatlam 🙂  Ek het altyd gesê ek wil ‘n laatlam hê. My ouma het twee kinders gehad, toe verloop 13 jaar, toe kry sy weer drie ná mekaar. Ek dink so ‘n laatlam hou ‘n vrou jonk. Helaas, my allerlaaste laatlam was lank ná die nader, maar ek was nog ‘n skrale 30 toe ek haar gehad het. Eintlik was dit lekker, ek kon jonk wees saam met haar.

Lojaliteit. ‘n Uiters kosbare ding wat ek tot in die uiterste sal beskerm. Maarrr … dit het al in my lewe dat ek my lojaliteit vir iemand verloor in baie uiterste omstandighede. Dit gebeur nie sommer nie, maar as dit gebeur. Ai, jai, jai. Ek kan op my een hand tel en dan is daar nog vingers oor, maar dit gebeur.

Lente. Dis lente in die Boland, kom hoor die Piet-my-vrou. Hy soek, soos alle mense, ‘n maat om mee te trou!

Liefde. Liefde wat vrees verdryf.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Elektroniese afhanklikheid

Toortsie se Faceboekblad

 

23 thoughts on “L staan vir lawwigheid

      1. Wag, ek is verkeerd. Dis IL De Villiers as ek reg het, maar hy het die Laerskoollied geskryf, pragtig. Maar die HS lied. Genade! Die wat musiek ken, dis taafetaa die hele lied.
        Dis later verander na ‘n nuwe lied. Die skande wat ek gemaak het, was seker te groot! 🙂

        Like

  1. Tra la la la Toorsie laat almal lag 😀

    Met ‘n lappieskombers om haar gevou,
    dans sy loslyf op die lowergroen gras.
    Laat haar lewe, laat haar lag,
    Dis lafenis vir ‘n siel so vol van klag.

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!