G, H, I

Blok van A tot Z

Geüel

Met elke treë wat hy gee raak Geüel se gemoed donkerder. Veertig dae gelede het Moses in opdrag van God die twaalf leiers uit die stamme van Israel gestuur, om die land Kanaān te gaan verken. Hulle moes kyk of die mense wat daar woon swak of sterk, min of baie is. Of die land goed of sleg is, en of die mense se stede oop of versterk is. Ook of die grond vrugbaar of skraal is, en of daar bome is of nie. Amper as nagedagte het Moses gevra dat hulle, hul bes moet doen om van die land se vrugte saam te bring. Geüel se oë dwaal na die rank met een enkele tros druiwe, wat Palti en Ammiël aan ‘n stok op hulle skouers dra. Daar is ook granate en vye. Voorwaar ‘n land van melk en heuning, dink hy, maar definitief nie ‘n land wat hulle sommer kan binneloop en in besit neem nie. Sy hart smelt van vrees as hy aan Hebron, en die reusagtige manne dink wat hulle daar gesien het. Hierdie afstammelinge van Enak het hom soos ‘n springkaan laat voel, en hy is seker dit is soos hulle ook vir die reuse gelyk het. “Onmoontlik,” prewel hy hardop. “Hoe gesels jy so met jouself Geüel?” vra Joshua se bekende stem hier langs hom.   Geüel kyk op na die man wat met vaste tred langs hom ingeval het. “Hoe kry die man dit reg om so vas te bly glo dat hulle die beloofde land in besit kan neem, en dit nadat hyself die groot stede met hulle versterkte mure, en die reuse gesien?” wonder Geüel. “Dit sou vir ons beter gewees het as ons nog in Egipte gebly het,” ontsnap die woorde sy mond. “As slaaf Geüel, onder die farao se tirannie?” vra Joshua met vuur in sy oë. Geüel kan sy vrees nie langer verberg nie. “Ons vrouens en kinders was daar veilig, wat dink jy gaan van hulle word as ons die beloofde land binneval, en al ons mans word doodgemaak?” “God het aan ons die land gegee, Hy sal vir ons veg Geüel,” antwoord Joshua. “Hy het ons deur die rooisee gebring en het soveel wonderwerke daarna vir ons gedoen. Jy het self sy majesteit, en almagtigheid gesien toe hy met die geluid van ‘n ramshoring in vuur op Sinaiberg neergedaal het. Onthou jy hoe die berg geskud, en rook soos uit ‘n oond na bo getrek het? Moses het met Hom gepraat, en God het in donderslae geantwoord. Ons het almal van angs gebewe, en gevra dat God nie weer direk met ons moet praat nie. Geüel, jy hoef nie te vrees nie, Hy gaan vir ons die oorwinning gee.” Maar Geüel was te diep vasgevang in vrees en ongeloof, om veel ag op Joshua se woorde te slaan. Terug by die kamp stem hy saam met nege ander verkenners dat dit ontmoontlik is om die beloofde land binne te gaan, en met diè woorde spreek hy sy eie doodvonnis uit.

Herodias

“Machaerus,”- die paleisvesting van Herodus Antipas – staan helder verlig, op ‘n berg net Oos van die Dooiesee. Hoë amptenare, en militêre manne, met blarekranse om hulle koppe lig hulle wynbekers hoog en drink op Herodus se gesondheid. Terwyl die wyn vrylik vloei, loop kelners met skinkborde vol delikate disse tussen die gaste rond. Musikante en skraalgeklede danseresse sorg vir vermaak. Op hierdie aand van brassery is Johannes die doper wat in die tronk onder in die paleis vasgeketting sit, op net een mens se gedagtes; Herodias, vrou van Herodus met wie hy getrou het nadat hy haar by sy halfbroer afgevat het. Herodias haat Johannes die doper met sy kameelhaarklere, leerbelt, en onversorgde voorkoms met ‘n verterende haat. Die feit dat Herodus hom gevange geneem het, stel haar nie tevrede nie. Sy soek Johannes se bloed; die man met sy reguit praat, en flitsende oë sal dan besef wat dit beteken om Herodias as vyand te hê. Hy het haar in die openbaar verneder toe hy haar huwelik met Herodus as onwettig veroordeel het. Dat Herodus van sy Arabiese prinsesvrou, en sy van haar vorige man geskei is voor hulle troue, word nie deur die Joodse wet aanvaar nie. Herodias lig haar kop in hoogmoed, asof sy omgee vir die Joodse wet. Sy luister fyn na die rumoer waar die feesvieringe in volle swang is. “Enige oomblik nou gaan Herodus vir Salomè (haar dogter by haar vorige man) laat roep.” Sy ken hom, weet waar sy swakplekke lê. Sy het die saadjie vroeër al gesaai, en in sy dronkenskap sal dit wel ontkiem. Dat sy haar dogter voor die oë van al daardie mans gaan blootstel, traak Herodias min. Sy weet goed dat dogters van adelstand nie in die publiek tentoongestel word nie, maar sy sal haar eie dogter offer as sy haarself net kan wreek. ‘n Ritseling laat haar opkyk. Salomè staan voor haar.   Herodias trek haar asem diep in, en gee ‘n koue glimlag. “Herodus sal die beeldskone meisie hier voor haar nie kan weerstaan nie.” In haar geestesoog sien sy al hoe daardie soepel lyf geklee in deursigtige material op die ritme van die musiek beweeg. Sy vee haar hand oor die lang swart hare wat soos ‘n mantel om Salomè hang, en kyk in die groot bruin oë met hulle lang wimpers. “Dans totdat Herodus soos klei in jou hande is Salomè,” sê sy, en stuur haar met ‘n knik van die kop uit. Die dans begin stadig, maar neem toe in ritme; dit is suggustief, hypnotiserend, en wanneer die laaste klanke wegsterf kom Salomè met hygende bors op die vloer voor Herodus se voete tot stilstand. In ekstase roep hy uit, “Vra my net wat jy wil hê, tot selfs die helfte van my koninkryk, en ek sal dit vir jou gee!!” Salomè kom regop, en sê saggies sy wil eers met haar ma beraadslag. Sy stap uit waar Herodius angstig op haar wag. “Wat moet ek vra?” Daar skyn ‘n triomfanklike lig uit Herodius se oë toe sy sonder huiwering sê, “Die kop van Johannes die doper.”

Ikabod

Die vroedvrou kyk bekommerd na die vrou hier voor haar. Swart hare klou in nat slierte vas, aan ‘n gesig vertrek van pyn. Die vrou se mond gaan oop maar so swak is sy dat die gil op haar lippe sterf. Ure van kraam het sy tol geeis, maar groter as die pyn wat voel asof dit haar liggaam uitmekaar skeur is die pyn in haar hart. Om op een dag te hoor dat haar skoonpa Eli, en haar man Pinehas dood is, was ‘n groot skok, maar toe sy boonop verneem dat die ark van die Here deur die Filistyne gevat is, het sy onmiddelik in kraam gegaan. “Die kind is oppad,” sê die vroedvrou verlig, maar dit is asof die vrou op die bed nie meer op enigiets ag slaan nie. ‘n Rukkie later hou die vroedvrou ‘n seuntjie omhoog. Die vroue wat deur die kraamgeval in die agtergrond was kom vorentoe, en praat met die vrou. “Moet jou nie bekommer nie, want jy het ‘n seuntjie,” sê hulle bemoedigend. Maar die sterwende vrou hoor hulle nie. Met wasige oë kyk sy na die baba wat die vroedvrou op haar bors neergelê het; met groot inspanning kom die woorde oor haar bleek lippe, “Noem hom Ikabod….. want die eer is weggevat uit Israel. Traandruppels vorm onder haar ooglede, en loop oor haar wange; “Ja, die eer is weggevat uit Israel, want die ark van God is gevat.” En met die woorde sterf sy.

Advertisements
This entry was posted in Bybelkarakters A-Z. Bookmark the permalink.

27 Responses to G, H, I

  1. Toortsie sê:

    O Kameel, lank nadat die alfabet se letters opgeraak het, moet jy asseblief nog aanhou met hierdie reeks. Jy raak mense aan wat ‘n mens so maklik miskyk.

    Like

  2. nowathome sê:

    Dis aangrypende verhale die!! Pragtige reeks, Kameel!

    Like

  3. So mooi vertel. Ek leef my behoorlik in die storielyn in.

    Like

  4. So interessant – wonder oor wie jy nog gaan skryf!

    Like

  5. Terug pieng: Blogging from A-Z: Letter O- Omaramba – I scrap 2

  6. Dis baie besonders wat jy hier doen. Sal mooi wees as jy dit in n boekie bind. (Jy kan dit aanlyn doen sonder om n sent te betaal deur Amazone!) Ek is seker dit kan baie gewild word as leesstof of as Bybelstudie! Baie bly jy druk nog deur en dankie dat jy dit so getrou doen. Hope liefde en groetnis daar vir jou!

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s