D, E, F

Blog van A tot Z

Dina

Toegevou in ‘n mantel, met haar bene styf teen haar lyf opgetrek, sit sy onder ‘n boom.  Sy slaan so ‘n eensame figuur, dat die ouer vrou hard moet sluk aan die knop in haar keel.  “Dina,” sy roep die naam saggies.   Die meisie lig haar betraande gesig op, en laat haar kop weer vinnig sak.  “Jy moet iets eet kind,” sê die vrou besorgd.  Vanuit die voue van die mantel kom ‘n desperate stem, “Hulle moes my in Sigem gelos het…. hoekom het hulle my daar kom uithaal?”  Die ouer vrou gaan sit langs die meisie en slaan ‘n moederlike arm om haar skouers.  “Jou broers was woedend Dina, hulle sou nooit toegelaat het dat jy met ‘n Hewiet trou nie; veral nie na dit wat hy jou aangedoen het nie.  Hulle sê hy het jou soos ‘n hoer behandel.”  Met oë vol wanhoop kyk Dina na die vrou; “Dit is hoekom hulle my in Sigem moes gelos het, ek is onteer ja, maar hy het my liefgekry, en met deernis behandel.  Hy wou met my trou… tussen my mense is ek nou ‘n vrou van skande.”  “Ai, kind” sug die ouer vrou, “die hele situasie is tragies, en ek kan sien jou pa is baie ontsteld.  Simeon en Levi, het voorwaar ‘n onbesonne ding aangevang toe hulle al die mans in Sigem gaan doodmaak het”  Haar stem raak net ‘n fluistering, “toe gaan plunder jou ander broers die stad ook nog, en vat die vrouens en kinders as gevangenisse.”  “Hulle sou dit nie reggekry het as hulle nie die mans oorreed om hulle te laat besny, en op hulle toegesak het toe hulle in pyn verkeer het nie,” sê Dina opstandig.  Die ouer vrou se oë trek op skrefies; “Jy het hom liefgehad Dina?” sê vra sy, maar Dina skud haar kop ontkennend, en lê onwillekeurig haar hand oor haar buik.  “Jy verwag sy kind…. maar dis ontmoontlik om dit nou al te weet!!” sê die vrou geskok.  “Ek weet dit net,” sê Dina, en staar oor die vlaktes uit; die toekoms strek eindeloos voor haar uit.

Eli

Die swaar man, met die star oë sit in die poort van Silon.  Sy hart klop moeisaam in sy binneste.  Vanaf die oomblik dat hy gehoor het dat die verbondsark van die Almagtige Here wat oor die gerubs troon, na die slagveld toe geneem is het die onrus om sy hart kom lê. Dat sy twee priesterseuns saam met die ark is, stel hom nie gerus nie.  Hy onthou te goed daardie dag toe ‘n man van God by hom aangekom het met ‘n boodskap van God af. Daardie dag het hy aangehoor dat God die priesterskap van sy familie gaan wegvat omdat hulle die diereoffers, en graanoffers waarvoor die Here voorskrifte gegee het verag, en dat hy wat Eli is, sy twee seuns belangriker ag as die Here, deurdat hulle, hulle vet maak maak met die beste uit al die offers wat Israel vir die Here bring.  Sy twee seuns Hofni en Pinehas sou op dieselfde dag sterf, en in sy familie sou niemand oud word nie.  Dit was ‘n swaar boodskap om aan te hoor, maar hy het besef dat die Here gepraat het, en dat Sy wil sal geskied.  ‘n Sug ontsnap sy lippe; hoeveel keer moes hy nie die klagtes van die volk aanhoor oor sy twee seuns se gedrag nie.  Nie net oor die vleis wat hulle vat voordat die vet aan die brand gesteek is nie, maar ook dat hulle by die vroue wat diens doen by die ingang van die tent van ontmoeting, slaap.  Hy het met hulle oor hulle gedrag gepraat, maar hulle wou nie luister nie. Meteens gaan daar ‘n gekerm en gekla op.  Eli draai sy kop skeef om beter te hoor, met sy dowwe oë probeer hy uitmaak wat aangaan, maar tevergeefs.  “Wat skreeu die mense so?” roep hy uit.  Uitasem praat ‘n man hier langs hom.  “Ek kom van die slagveld af, ja ek het vandag van die slagveld af gevlug.”  “My seun, wat het gebeur?” vra Eli verskrik.  Die man vertel van die swaar verliese wat Israel teen die Filistyne gely het, en dat Hofni, en Pinehas op die slagveld dood is. Die oomblik toe hy vertel dat die ark van God deur die Filistyne gevat is, slaan Eli agteroor van sy stoel af.  Sy nek breek, en daar in die poort van Silon sterf hy.

Festus

Met sy kake opmekaar geklem sit Festus op die regsbank, en luister na Paulus se verdediging.  Voordat hy wat Festus is as goeweneur na Judea toe gestuur is, het hulle hom in Rome gewaarsku teen die Jode en hulle fanatisme rondom hulle godsdiens.  Hy het egter nie verwag om so spoedig daarmee te doen te kry nie.  Drie dae na sy aankoms in Sesarea is hy Jerusalem toe.  Die priesterhoofde en Joodse leiers het ‘n aanklag teen Paulus – wat as gevangene in Sesarea aangehou word – ingebring, en gevra dat Paulus in Jerusalem verhoor moet word.  Hy het nie die nodigheid daarvoor ingesien nie, en gesê hulle bekwaamste manne kan saam met hom terugkeer en hom in Sesarea laat aankla.  Hy het verwag om kriminele aanklagtes aan te hoor, maar dit was gou duidelik dat hierdie saak oor twisvrae in hulle godsdiens gaan.  Paulus beweer dat ‘n sekere Jesus wat dood was, weer lewe.  “Die man se geleerdheid het hom mal gemaak,” dink hy, maar hy is nie ‘n krimineel nie.  Ingedagte vryf hy oor sy wang, hy is nie seker hoe om die saak te hanteer nie.  Om vrede te bewaar, en in die guns van Jode te kom kan hy die gevangene nie net vrylaat nie.  “Sou jy bereid wees dat ek jou oor hierdie saak in Jerusalem gaan verhoor?” vra hy die gevangene.  Hy is onbewus daarvan dat die Jode ‘n komplot gesmee het om Paulus oppad terug Jerusalem toe te laat doodmaak.  Verbaas luister hy hoe die gevangene hom op die keiser beroep.  “Wil die man nou werklik Rome toe gaan, en sy saak voor die keiser bepleit?”  Kopskuddend draai hy hom na sy raadgewers toe. ‘n Rukkie later kom sy stem hard en duidelik, “Jy het jou op die keiser beroep; na die keiser toe sal jy gaan.”  Oppad uit wonder hy wat hy in die brief vir die keiser rondom hierdie Paulus wat sy saak met soveel krag verdedig, kan skryf.  Die man het niks gedoen wat die dood of tronkstraf verdien nie.

 

 

 

 

 

Advertisements
This entry was posted in Bybelkarakters A-Z. Bookmark the permalink.

11 Responses to D, E, F

  1. Interessante figure. Die tyd van die Ou Testament was so genadeloos…

    Like

  2. Toortsie sê:

    Wat ek die meeste geniet en waardeer is dat jy juis nie die voor die hand liggende mense kies nie. ‘n Ongelooflik interessante reeks. Hoop jy hou end-uit vol. 🙂

    Like

  3. Terug pieng: Blogging From A-Z: Letter K – I scrap 2

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s