G staan vir gorrel

G staan vir Gaaf. Vir Gabriël. Vir my oudste broer wat al dood is. Sy naam het hom perfek beskryf. Gaaf. Lief, dierbaar. Hy is een jaar op nuwejaar oorlede. Wat ‘n dag om te kies! So tussen die baie nuwejaarsboodskappe het die jammer-om-te-hoor-boodskappe die een na die ander ingekom. As ek aan hom dink, oortref die plesier en die lag en die vreugde die hartseer en die negatiewe by verre.

G staan vir gars, eintlik vir graan, waarvan gars een is. Dis waarmee ons boer en daarom is ek nie kwaad as mense steeds grane eet nie, selfs al doen ekself Banting omdat dit vir my eie liggaam beter is. Daarom sal ek dit nooit op ander afdwing nie.

G staan vir geld, ‘n lekker ene! Ons sal so maklik sê ‘Geld is nie alles nie’, en party mense maak daarvan dalk meer ‘n afgod as ander, party jaag dit dalk heeltemal te veel na, maar as jy sonder geld is, is dit beslis nie lekker nie. Geld gee jou soms die voorreg om ‘n keuse te kan maak. Geld kan ongelukkig nie geluk koop nie.

G vir geluk, soos reeds genoem, iets wat jy nie kan koop nie. Geluk is slegs in jouself te vind, in jou verhouding met God, in jou menswees elke dag. Sou jy vir ander wag om jou geluk te bring, sal jy tevergeefs wag en sal jy soveel keer teleurgestel word.

G staan vir godsdiens en godsdienstigheid, iets heeltemal anders as die ander G-woord, wat gelowig is. ‘n Mens kan godsdienstigheid najaag sonder om gelowig te wees. Glo my, dis regtig so! En dit bring my by die volgende g-woord, naamlik glo.

Glo kan na jou geloof wys, dat jy in God glo, maar dit kan ook die vraag vra: Glo jy wat ander mense vir jou sê, of bevraagteken jy dit eers? Glo ander mense wat jy praat? Is jy geloofwaardig in jou optrede?

G staan vir grond, iets wat ‘n baie sensitiewe punt is in hierdie land van ons.

Geniet, genotvol.

Geduld. Nou praat jy van ‘n ander ding! Waar word jou geduld die meeste beproef? Of as ek ‘n vriendin mag aanhaal: “Waar leer God jou die meeste geduld?”

G staan vir Grootfontein. Een in Namibië, en een in in Suid-Afrika. My pa het sy hele lewe onthou dat hy so graag sou wou gaan studeer in Grootfontein naby Middelburg. Die een in Namibië? Daar woon ‘n vriendin met wie ek baie kontak het, deesdae deur whatsapp en epos en faceboek. In die ou dae sou dit ‘n korrespondent, of ‘n penvriend wees.

Geniet die dag!

Toortsie

Toortsie by Finesse: ‘n Beter Jy

Toortsie se faceboekblad

12 thoughts on “G staan vir gorrel

  1. Getrou aan my aard spring my brein toe dadelik in werking….. maar gou besef ek dit is gruwelik te vroeg vir my grys massa. Genadiglik sal ‘n grap of twee my gou-gou regruk…. humor stimuleer die brein. 🙂 Groetnis 😊 Gameel

    Like

  2. Gorrel, ja, dit kan bloggers goed doen. Natuurlik. My ouma is oorlede op 1 Januarie en ek wil my verbeel dis haar verjaardag ook. Ek was baie klein, maar ek onthou hoe my ma nog hoe my ma altyd gehuil het by die herdenking van diè dag.

    Like

    1. Vreemd, ek dink wel op ‘n nuwe jaar so vlugtig daaraan, maar soms ook nie. Daardie dag was dit natuurlik chaos! Ons het oujaarsaandpartytjie by iemand anders gehou, my kinders met al hulle pelle se partytjie was in ons huis. Alhoewel hulle skoon gemak het, was dit beslis nie geskik vir al die gaste wat kom simpatie betuig nie. Dit was omtrent 1 nm wat ons dit ontdek het dat hy dood is. My ma was by ons. So, solank sy haar middagslapie doen, het ek soos ‘n besetene huis reggemaak, maar die hele tyd varkoor gegooi om te hoor of iemand nie dalk vir haar bel nie. Die nuus was binne sekondes uit. Uiteindelik het die dominee en die dokter opgedaag en sy kon die nuus hoor. Sy het in elk geval geweet, ek weet nie hoeveel missed calls daar op sy foon was nie. So by 4 nm het die gaste begin kom. Onthou, ons is platteland. Nou ja, nou is dit al soveel jare later.

      Liked by 1 person

      1. Ek het nou, nadat ek jou vertel het van my ouma, op Heritage gaan soek vir my familiestamboom. (Dit lyk my of my grootouma ook dood is op 1 Januarie, vertel dit nou oor), maar nou het ek nog nie eens my bed opgemaak nie. My geaardheid vandag: obsessief.

        Like

Gesels saam, asseblief!