A, B, C

Blog van A tot Z

Anna

Diep in gedagte sit sy daar; die lig deur die nou venster val op die geboë figuur, ineengetrek van die ouderdom.  Meteens verhelder die gerrimpelde gesig, en ‘n bonatuurlike lig skyn uit haar oë. “Ek het hom gesien daardie dag in die temple; die Messiaskind.”  Sy bly ‘n oomblik stil, versonke in haar eie gedagtes, dan praat sy weer.  “Ek was net sewe jaar getroud toe my man dood is, daarna het ek myself aan God toegewy.  Vir al daardie jare wat ek in die tempel gevas en bid het, het ek gewag vir God se Messias, en toe een oggend staan Simeon daar met die baba in sy arms.  Ek het God gedank, en met almal wat op Jerusalem se verlossing gewag het, oor die kind gepraat.”  “Nie almal het geluister nie, nie almal wou glo nie, maar ek het geweet dit is Hy.”  Die laaste woorde is net ‘n fluistering; met ‘n bewende hand vee sy die trane wat oor haar wange rol af.

Bileam

Hy vryf oor sy baard; eers speel daar net ‘n glimlag om sy mond maar dan begin die groot maag ruk van die lag.  “Kyk, ek het nie daardie dag gedink dit is snaaks nie, maar nou na al die jare sien ek tog humor daarin.”  Die kind aan sy voete kyk hom met groot oë aan.   “Het jy al ooit ‘n donkie hoor praat?” vra die man.  Die kind skud sy kop.  “Nou kom ek vertel jou wat met my gebeur het.  Balak, die koning van Moab was bang vir die Israeliete wat in die vlakte van Moab kamp opgeslaan het.  Hy stuur toe boodskappers na my toe, met die versoek dat ek die Israeliete moet kom vervloek. Die eerste keer het ek hulle van my af weggestuur want God het gesê ek moet nie saam met hulle gaan nie.  Maar Balak het weer amptenare gestuur, met beloftes van goeie vergoeding.  Ek sê toe vir hulle ‘Selfs al gee Balak vir my sy hele paleis vol silwer en goud, kan ek niks meer of minder doen as wat die Here my God vir my beveel het nie.’  Die volgende dag het ek my donkie ingespan, en met twee van my bediendes is ek toe daar weg.  Skaars oppad of die halstarige donkie loop die veld in.  Ek slaan hom, en dwing hom terug pad toe.  Sal die vervlakste donkie nie toe ons tussen twee wingerdmure moet deur, teen die een muur verbyskuur, en my voet teen die muur vasdruk nie.  Kyk toe is ek goed kwaad, en slaan hom weer.  Die pad word nouer, en sal jy glo, net daar gaan lê die donkie onder my.  Ek was so woedend dat ek hom met ‘n swaard sou doodsteek, het ek een gehad.  Terwyl ek die donkie met ‘n stok slaan, begin hy praat.”  “Wat het hy gesê?” vra die kind opgewonde. “Hy het my gevra wat het hy aan my gedoen, dat ek hom nou al drie keer geslaan het.  Is hy dan nie my donkie waarop ek nog altyd gery het nie, en of hy dit al al ooit voorheen aan my gedoen het?  Ek het die donkie net begin antwoord toe maak die Here my oë oop, en daar voor ons staan ‘n engel met ‘n swaard in sy hand.  Net daar val ek vooroor op die grond, en moet van die engel hoor dat die donkie hom gesien het, en daarom drie keer probeer wegdraai het.”

Cornelius

Die man met die grys langs sy slape glimlag vir die vreemdeling oorkant hom.  “Jy is nie van Sesarea af nie, dit kan ek hoor, nuus versprei voorwaar vinnig.  Hy sien die onrus in die ander man se oë, en stel hom vinnig gerus. “Kom saam met my vriend dan vertel ek jou die goeie nuus.”  Met sy arm om die vreemdeling se skouers stap hy na sy huis toe, en laat die vreemdeling sit.  “Jy weet seker dat ek as ‘n Romeinse soldaat hoofman oor honderd in die Italiaanse leerafdeling is?”  Ek het so gehoor mompel die vreemdeling.  “Wel ek en my huisgesin was vroom, godvresend en het baie aalmoese aan die Joodse volk gegee, en ook gedurig tot hulle God gebid.  Op ‘n dag omtrent die negende uur kom ‘n engel van God na my toe en sê ‘Cornelius.’  Kan jy dink hoe verskrik ek was?  Die engel sê toe dat God my gebede gehoor, en ook gesien het wat ek vir die armes doen.  Hy vertel toe dat ek na Joppe moet stuur, om ‘n sekere Simon – wat ook Petrus genoem word – te laat haal.  Nadat ek twee van my bediendes, en een van my lyfwagte – ‘n godsdienstige soldaat – alles vertel het, stuur ek hulle Joppe toe.  Die vreemdeling het by nou sy skuheid verloor, en vasgevang in die vertelling skuif hy vorentoe om beter te kan hoor.  “Ek het natuurlik nie die nuus vir myself gehou nie, maar my familie, en huisvriende ingelig, en die dag toe Petrus in Sesarea aankom was ons almal bymekaar in my huis.”  Asof onbewus van die vreemdeling by hom hou hy meteens op met praat, en aan die emosie op sy gesig is dit duidelik dat hy daardie dag weer herleef.  Met ‘n krag in sy stem wat nie voorheen daar was nie praat hy verder. “Ek het Petrus tegemoetgegaan, en voor hom gekniel, maar Petrus het my laat opstaan en gesê hy is ook maar net ‘n mens.  Ons het my huis binnegegaan, en toe Petrus al die mense sien het hy gesê dat ons weet Jode mag nie met ander volke omgaan, of hulle huise betreë nie, en toe vertel hy vir ons die wonderlikste openbaring wat hy van die Here gekry het net voordat my bediendes, en soldaat by hom aangekom het.”  Die tyd vlieg verby terwyl hy vertel van daardie dag toe hy, sy huisgesin en vriendekring gehoor het van Jesus Christus, die Here van almal, wat die evangelie van vrede aarde toe gebring het.  Van Jesus se wonderwerke, sy kruisiging, en ook sy opstanding uit die dood.  Dat Hy na sy opstanding aan diè verskyn het wat God reeds gekies het om getuienisse te wees, en dat Hy Jesus deur God aangestel is as Regter oor lewendes, en dooies.  Dat elkeen wat aan Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang; en hoe hy Cornelius, sy huisgesin en diè saam met hom, nie net geglo het nie, maar met die Heilige Gees gevul, in tale gepraat, en ook gedoop is.  Cornelius eindig sy vertelling met diè woorde; “Diè dag toe Petrus my huis betreë het, het God se verlossingsplan ook na die heidende toe gekom.”

 

 

16 thoughts on “A, B, C

Gesels saam, asseblief!