‘n Spesiale vergunning

Een van die mees opwindende dinge wat my kon oorkom toe ek in die tagtigerjare in Meiringspoort gewoon het,  was as die rivier afgekom het. Dit was net opwindend verby vir hierdie Rûensdogter wat net reënwater geken het.

My eerste ervaring van die rivier was sommer die eerste somer ná my troue. Die rivier het afgekom en my skoonpa het die mense aangeraai om verby die eerste twee driwwe te ry en dan daar te wag. Hulle sou baie tyd daardeur spaar. Daardie aand het ek toebroodjies gemaak en uitgedeel aan die motoriste.

Een nag was die rivier toe en ons kon in doodse stilte gaan slaap. Skielik spring my man op, daar het ‘n voertuig gery! Dit beteken die Poort is oop! Net daar spring ons in sweetpakke en ry deur die Poort om te sien waar die rivier orals geloop het.

Gisteraand het die rivier afgekom en was ons toevallig in De Rust. Ek spreek die wens hard uit dat ek darem graag net tot by die eerste drif sal wil ry, net om dit weer te beleef, maar die pad is toe. Geen motoriste word toegelaat verby die verkeerspolisie nie. My man sê ek moet maar vir die verkeerskonstabel vra.

Ek is nie bang nie! Ek en manlief stap na die verkeersman en ek stel myself voor, vertel dat ek hier gewoon het jare gelede en sal darem graag net tot by die eerste drif wil ry. Ek belowe ons sal nie verder gaan nie. “Net tot by die eerste drif”, sê hy.

Daar gekom, klop die water so teen die brug. Groot was die versoeking om tot by die tweede drif te ry, maar die gevaar was te groot, mens kan gevang word tussen die twee driwwe. Ons was gehoorsaam!

By nagedagte besef ons dit sou nie saakmaak as ons vasgekeer sou wees tussen die dtiwwe nie, ons het alles wat nodig was by ons gehad! Ons was immers op pad na ‘n bring en braai!

Wat ‘n besonderse voorreg. Dankie vir die verkeerspolisie!

Toortsie

10 thoughts on “‘n Spesiale vergunning

  1. Ons is een nag deur Meiringspoort en konnie verstaan dat die pad in so ‘n slegte toestand is, en dat daar geen ander voertuie is nie. Die volgende dag hoor ons Meiringspoort is toe, en wil die mense weet hoe de swernoot het ons daarlangs gekom as die pad ao sleg verspoel het.

    Like

      1. Ek vra nou my man; “Dit is mos deur Meiringspoort wat ons daardie nag gekom het wat dit so rof was…. en toe hoor ons eers die volgende dag die pad is toe?” “Ja,” sê hy dit nog met die karavaan aangehaak ook.” 😯 Het mos al vertel hoe waaghalsig hy is….. en in hoeveel dillemas ons daardeur beland het.

        Like

          1. Ons het daardie jare elke jaar Kaap toe gegaan met vakansie. Sal nie weet watter vakansie dit was wat ons Meiringspoort so beleef het nie.

            Like

Gesels saam, asseblief!