Toortsie se Toeka Tokkel oor Oefening

In opdrag van Scrapydo.

Dis goed ek skryf nie wat verlede week in my kop was oor oefening nie. Oor sport wat so oorbeklemtoon word teenoor musiek wat total doodgesmoor word in baie skole. Oefening ís belangrik, maar ek glo ook dat ‘n mens vir sekere oefening gebou is. Ek is nie regtig vir oefening gebou nie. God het my vir musiekmaak gebou. Ek het swaar beenstruktuur, ek is stadig, raak angstig in water, ek gooi mis en kan nie behoorlik vang nie (dink dit het te doen met jou oë), ek is lomp. Maar sportgeesdriftiges het my op ‘n tennisbaan gedwing, gedwing om my kop onder die water te druk terwyl ek wou sterf van angs, wat nog alles! Op ‘n stadium is rugby so by my keelgat, ore, waar nog orals ingedwing, ek wou naar word. Ek onthou nou nog daardie Transvaalse vrou wat so beledigend geraak het oor my en my provinsie en wat nog als net omdat ek gesê het ek kyk nie eintlik rugby nie. Belaglik! 😦

Tog is oefening belangrik, daarmee stem ek saam. Oefening is goed vir ‘n mens. Ek kan dit aan my lyf voel as ek ‘n rukkie nie oefening gekry het nie. As ek nie my rugoefeninge gereeld doen nie, sê ek les op. Behoorlik les op. Lees gerus wat ek oor my rugoefeninge geskryf het. Gaan stap ek nie met my hond nie, voel ek onfiks en sommer vet ook, alhoewel ek nie regtig weet of my stappery enigsins vir my gewig help nie. Ek stap my hele lewe lank en in hierdie tyd het ek menigmale vet én maer geword. Ek dink tog wel dat my stappery gehelp het dat ek nie regtig totaal, toetentaal, behoorlik oorvet geword het nie.

Vir ‘n olimpiese atleet sal stap regtig ‘n pyn in die nek wees. Vir my is dit ‘n heerlike tydverdryf. Ek stap enige iets van 6.5 tot 8.5 km wanneer ek dit doen, geniet die omgewing, verval in my gedagtes, sien mooi sonsondergange, sien hoe die veld verander, dan is dit groen, dan is dit vaal en droog. My bietjie oefening wat ek doen hou my soepel, dit hou my fiks sodat ek makliker deur my dagtake kom. Dit hou my kop skoon, veral as ek die dag teen die wind gebeur het. Deesdae raak ek lui en het nie altyd lus om te stap as die weer nie lekker is nie.

Nou toe, laat ons oefen soos elkeen van ons dit goeddink.

Groetnis

Toortsie

20 thoughts on “Toortsie se Toeka Tokkel oor Oefening

    1. Christa Steyn het so iets gesê. Dat sy net vir klavierspeel gemaak is of so iets. Nie vir oefen. Hoeveel beserings het mense wat in sportsoorte ingedwing is waarvoor hulle nie gebou was nie! In die plaasskole moes al die kinders mos alles doen. Toe sê ek vir mune: Bly in die bondel maar agterlangs. Sies tog die een moes eintlik nie na my geluister het nie!

      Liked by 1 person

  1. Ek is gaande oor balspeletjies. Tafeltennis ens. Sien dit nie as oefening nie…. net die ene plesier 🙂 Ek sal net 500 saam met jou kan stap dan moet ek omdraai 😦

    Like

      1. Ai Toorts, ons moes vêr loop om kinders by lughawe te gaan afsien. Het dit net-net gemaak. Al my krag vloei sommer net eensklaps uit my uit…. en dan is dit ‘n probleem.

        Like

          1. My kinders wou my op ‘n stadium sommer saam die tasse laat ry 🙂 Terug het ek ‘n leë trollie (met my sesjarige kleinseun op) gestoot. Dit het baie gehelp…. iets om aan vas te hou vir balans… en sommer om bietjie op te leun. 😆

            Like

  2. Netso Toortsie, ek het niks musiek in my nie – kan nie eens ‘n trompie of driehoekie speel nie. Ek het nooit leer musieknote lees nie. Maar sjoe ek kan daai Olimpiese swem sinkronasie swem heeldag kyk. Dit bly by kyk want hulle het meer talent in hulle pinkie as ek in my hele lyf… Geniet die stap met die honne 🤗

    Like

  3. Ek’s mal oor sport, en mal oor musiek! Maar aikôna, ek het ‘n kar, daarom hardloop ek nie ver ente nie….. Stap, ja, daai’s ‘n ander storie!! Het sopas my eerste Parkrun in die mooiste Kaap gestap!!

    Like

  4. Stap is ook deesdae die enigste wat my aan die gang hou. Die buite wees, gedagtes dink en my hondekind saam met my is my lewe. Gelukkig is ek redelik sportief en redelik musikaal dis egter vir die top mense nie goed genoeg nie. Veral daardie rusbank sportmense. Rugby of watter sport is nie al in die lewe nie maar hul dwing dit in jou keelgat af. Eerste vraag wat hul hier vra, Ondersteun jy Springbokke? Se m…r met hulle ek hou nie van rugby nie of dit nou wie ook al is. Selfde met netbal- hul hemel Irene v Dyk so op (okay sy was goed) maar dis soos n afgod.

    Like

  5. Ons is almal verskillend, en die wêreld verstaan dit nie altyd nie. Wil te graag mense is ‘n vorm indruk wat nie vir almal gemaak is nie. Ek glo dat as ‘n mens fisies aktief is is dit gesond vir jou, jy hoef nie noodwendig ‘n vinnige hardloper te wees nie. Ek dink die wêreld raak meer en meer sportmal omdat daar deesdae geld in daai deel van die vermaakbedryf is. Ek geniet dit om sekere sport te kyk maar verstaan ook dis nie vir almal nie. Net soos my man verkies om nie saam met my na ‘n musiekkonsert te gaan nie. Ek is net so lief vir vinnig stap en buite wees. Dit hou my fiks en my kop skoon.

    Like

Gesels saam, asseblief!