Ursula het my kom roep om gou iets in die tuin te kom kyk. Daar, op my grasperk, staan sowaar ‘n bloedrooi, tweesitplek helikopter! Sy sê ek moet gou inklim in die passasiersitplek en voor ek behoorlik besef wat aangaan, klim sy agter die stuur in!
Genade! Gaan SY die helikopter bestuur? Ék weet niks van helikopters af nie, wat sal sý, my Alter Ego nou weet?
Daar skakel sy hom aan en die skroef begin draai! Ek wil nog uitklim, maar voor ek kan, begin die helikopter beweeg. Die helikopter gee ‘n paar bokspringe, draai 360 grade in die rondte, steek amper vas soos ‘n steeks donkie, ons sit met ons neuse amper teen die ruit toe die agterkant begin lig. Ek gil! Vandag sterf ek!
Skielik voel ek hoe ons begin lig. Ons mis ‘n boom se takke net-net, en ons lig en lig … hoog genoeg … en begin vorentoe beweeg! Die volgende oomblik lig ek my voete so vinnig dat my knieë teen my ken kap, so naby vlieg ons oor ‘n windpomp!
Ursula lag net, sy geniet elke oomblik van my angs en bewing en sê: “Ontspan net, jy sal sien.”
Daar vlieg ons, oor die pragtigste koringlande in die rigting van die see. Ons vlieg seelangs, sien dolfyne en walvisse en begin dit al meer geniet …
Die Ursula darem! Waarmee sý nie alles vorendag sal kom nie, en dit net omdat Scrapydo gesê het ons moet ons verbeelding vrye teuels gee!
Of ons weer ons huis sal kry, of ons geland sal kry, weet ek nie, en of dit beter sal gaan as die bokspring opstygslag? Ek weet ook nie! Dalk land ons nog in Mosambiek vir al wat jy weet! Ek hoop ek oorleef dit darem om vir julle te kan kom vertel. Hou duime vas!
En as julle wonder oor Ursula, sy is my Alter Ego wat my al in vreeslike dinge laat beland het! As julle meer oor haar wil lees, kan julle HIER kliek.
Groetnis
Noortsietoortsie
Ha ha, hoe lekker om op so verbeeldings tog te gaan!
LikeLike
Dis te kostelik geskryf…ek hoop die landing is sagter as die opstyg!
LikeLike
Geniet jou verbeeldingsvlug en land veilig…. Ursula sal jou nie in die steek laat nie 🙂
LikeLike
Met Ursula weet ‘n mens nooit!
LikeLiked by 1 person
Nou lag ek lekker! Sien die hele prentjie in my verbeelding. Ursula bring vir jou veell plesier en ook sekerlik oomblikke van “spanning” ook. Lekker gelees. Dankie vir jou lekker skryf en ondersteuning. 😀
LikeLike
Sy bring my in die moeilikheid, maar eintlik hou ek al ‘n bietjie van haar. 🙂
LikeLike
Ja, mens het so n bietjie van haar vriendskap nodig met tye, veral vir afleiding van die daaglikse gesleur. 🙂
LikeLike
hehehehe… sy kikker jou lewe op!
LikeLike
Behoorlik! 🙂 ag sy is eintlik okay! Ek kon ‘n boring alter ego gekry het en wat dan?
LikeLiked by 1 person