Aandagafleibaarheid

Aandagafleibaarheid is deel van my persoonlikheidstipe. Natuurlik is daar baie grade van aandagafleibaarheid, ek is seker daar is mense wat baie erger is as ek, en net soveel mense wat glad nie aandagafleibaar is nie. Genadiglik was dit nog nie ‘n term wat bekend was in my kinderjare nie, so ek kon as ‘n normale kind my skoolloopbaan voltooi.

Ek ervaar nogals dat sommige mense dit as ‘n swakplek in my mondering sien, ‘n plek as hulle met ‘n stok wil slaan. Gelukkig is daar goed soos persepsies. Gelukkig pla my aandagafleibaarheid my glad nie. Dit moet net bestuur word!

Vir ‘n aandagafleibare is dit nogals ‘n uitdaging om ‘n groot taak te voltooi. Ons het net soveel goed wat ons graag wil doen en so min ure! 🙂 Ek glo dat my aandagafleibaarheid juis ‘n eienskap is wat my help om kop bo water te hou in moeilike omstandighede. Wanneer almal sit en fokus op hulle probleempie, is die aandagafleibare een die een wat skarrel (tot almal se irritasie), maar deur die geskarrel kry sy dinge gedoen! My ‘vlinder-geaardheid’ maak dat, selfs al is ek ernstig besig met iets, en my man kom skielik met ‘n ander iets wat dringend gedoen word, dat ek dit kan doen. Ek raak nie so maklik gespanne as iemand my in die middel van ‘n taak pla met ‘n ander taak nie. Raak dit die aand 9 uur en my man laat weet my daar is twee ekstra manne wat vanaand moet kos kry, help my aandagafleibaarheid om nie ‘n pop uit ‘n kot te gooi nie. My aandagafleibaarheid het my geleer om vinnig te werk, deeglik te werk, solank die aandag hou!

Ja, ek werk dalk op ander se senuwees, ek doen dalk nie dinge soos ander sou dink dit gedoen moes word nie, ek neem dalk soms langer om ‘n taak te voltooi omdat daar soveel onderbrekings tussenin was, tog kry ek dinge gedoen. Groot dinge. Op my manier, op my tyd.

So vir my is my aandagafleibaarheid ‘n bate! Dit help tog dat ek bewus is daarvan en soms hard moet konsentreer, maar aandagafleibaarheid kan tot voordeel van jouself en ander aangewend word. Vir ander lyk ek dalk deurmekaar, ekself weet presies wie en wat en waar ek is! 🙂 Ander dink dalk ek kan nie fokus nie, ek doen dit dalk net op ‘n ander manier!

Mooi loop!

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad

Die geheim? Maak van jou verleentheid ‘n geleentheid.

27 thoughts on “Aandagafleibaarheid

  1. Jy bly darem by dieselfde onderwerp as jy gesels – my man begin vertel ‘n storie en dan verdwaal hy so binne-in sy eie storie dat ek nie kop of gat daarvan kan uitmaak nie. Hy neem inligting op soos ‘n spons, praat sonder ophou en kry tussen-in tyd om sy eie ding te doen. Ons Sotho kinderoppasser het hom Vula Vala genoem (oop en toe) om te beduie hoe sy mond werk 😀 Dis vermaaklik, maar soms vermoeiend ook.

    Like

  2. As jy geleer het hoe om dit te ten goede te kanaliseer, mooi so. Ek het twee kleinseuns wat daarmee gediagniseer is, en sowaar hulle is ‘n groot uitdaging vir die mense om hulle….. soos jy sê hulle maak jou moeg. My een vriendin was burgemeestersvrou, en kon die wêreld vermag…. ook ‘n aandagafleibare mens.

    Like

  3. So baie aanklank hiermee gevind. My aandag is net so afleibaar en ek moet nog kom op n plek wat ek dit beheer i.p.v. dat dit my beheer,, maar ons kom daar. Dankie vir jou opbouende post. Dit het my rerig gehelp om my aandagafleibaarheid meer as n bate en n GELEENTHEID te sien. Thanks, lekker dag.

    Like

    1. Baie dankie. Ek doen dit eintlik om myself ook te oortuig! Soms pla so iets nie vir jouself nie, eerder vir ander mense. Ek dink dis nodig dat ons ons nie altyd so moet steur aan die ander mense nie. 🙂

      Liked by 1 person

  4. Dis nou interessant! Nooit so daaraan gedink nie! Wat noem mens dit as mens net op een ding fokus en gladnie afwyk nie? Meeste van tyd sodra ek n tweede ding aanpak voordat eerste klaar is verloor ek kop en bekommer my dood oor eerste ding wat nie klaar is nie. En dis al.

    Like

  5. Ek dink daar is baie meer vroue wat aandagafleibaar is as wat mense dink. En ek dink dis aangeleerde gedrag. Ek dryf my man en myself tot raserny. Ek sal begin om skons te bak, spens toe loop om bakpoeier te gaan haal, sien dat daar op die rak gemors is en wasbak toe loop om ‘n lap gaan haal, en by die wasbak, gekom, begin skottelgoed was! Ek moet myself dwing om te bly by die taak waarmee ek besig is. Ek het ‘n teetuin. Partymaal bestel ‘n persoon iets om te eet en drink, dan raak ek heeltemaal verbouereerd, begin met die koffie maak, sny die koek en dan wanneer ek die room uit die yskas kry, sien ek die melk is amper klaar en bel my man om melk van die dorp af te bring……. Ek was nie altyd so nie.

    Like

    1. Jy som dit perfek op. Omstandighede maak dat ons aanpasbaar moet wees. Dit hang van onsself af of ons dit kan hanteer of nie. Ek het tog as laerskoolkind goed geaard in ‘n multi-graad klas. Ek kon fokus op my werk terwyl die juffrou met ander kinders besig was. ‘Aandagafleibaarheid’ is net ‘n lekker stok om my mee te slaan. Amper soos apartheid! Sodra die persoon nie meer slaangoed het nie, kom hierdie ern handig te pas.

      Like

  6. Nog ‘n inskrywing wat ek geniet het. Dis so maklik om die jong kinders te identifiseer wat dit het. Toe ek skaak afgerig het kon ek dit sommer onmiddellik sien! Dit het ek nou geniet, want as ek die Onnie oor daardie kind gaan vra het, dan was ek sommer ‘spot on’ with my vinnige ‘diagnose’. 🙂

    Liked by 1 person

    1. Ek het gaan lees. Ek wil saamstem. Ek was weer nie eintlik stout nie en het ‘n hele paar keer in my lewe sie skuld gekry vir goed wat ek nie gedoen het nie omdat dit die maklikste een was om as sondebok te kruisig.

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!