Skoonpa en die dokter

Scrapydo se toeka-tokkel: Besonderse mense

Ek was die skarlaken vrou – afgeskryf deur haar familie – toe ek my aanstaande skoonpa vir die eerste keer ontmoet het.  Hierdie Engelsman was ‘n “no nonsense” mens, en almal het ligvoet om hom geloop.  Tot ontsteltenis van die vrouegeslag in daardie familie het hy opgestaan, en vir my sy stoel aangebied die eerste keer toe ek hulle huis binnegestap het.   Tot Ken was verbaas, en het later verduidelik dat dit ‘n daad van respek teenoor my was wat sy pa nog nooit teenoor die ander evas in die gesin bewys het nie.  My hart was verower, maar dit was gou duidelik dat die vroue hulle mes vir my in het, en hulle jaloesie het met tye lelik tande gewys.

Dit was vir my uiters vreemd dat daar geen aanraking tussen die mense in daardie Engelse gesin was nie.  Volgens Ken is Engelse nie soos Afrikaners wat aan mekaar vat en soen nie, en dat veral sy pa nie van aanraking hou nie.  Ek en Ken is getroud, en die verhouding tussen my en my skoonpa het gegroei.  Op sy eie Engelse manier het hy oor my gewaak, en wanneer nodig vir my ingetreë.  Op ‘n dag gaan staan ek voor hom, neem sy gesig in my hande, en met die woorde “Father, dear father,” soen ek hom kaplaks op sy mond.  Hy staan asof versteend voor my; ons kyk mekaar in die oë terwyl ek op sy reaksie wag.  Met ‘n verleë laggie, en die woorde “Oh you,” draai hy om en stap weg.

“Father dear father,” word my troetelnaam vir hom, en elke keer wanneer ek sy gesig in my hande neem en hom met diè woorde soen, staan hy daar met sy arms langs sy sye, en gee ‘n nagemaakte rilling.  Die laaste jaar van sy lewe verswak hy so dat daar net ‘n skaduwee van die eers groot Engelsman oorbly.  My skoonma was by toe al oorlede, en sy dogter het na hom omgesien.  Op ‘n dag bel sy en vra of ons hom nie net vir ‘n paar weke by ons wil inneem nie; haar eie gesondheid is nie goed nie, en sy is ooreis.  Hy was nie totaal bedlêend nie maar kon homself nie meer bad en aantrek nie, en Alzheimers het ook sy tol begin eis.  Kenneth ons kunskind neem dit op hom om sy oupa te bad, en aan te trek, en in die aand weer reg te maak vir bed.  So stap ek een aand die kamer binne, en vind my skoonpa in sy nagklere bo-op die bed lê.  Ek help hom om onder die komberse in te klim, en kyk na die uitgeholde gesig  op die kussing.  Met groot deernis buk ek oor hom, sit my hande om sy gesig, en met die woorde, “I love you, father dear father,” soen ek hom.  “I love you too,” antwoord hy, en dit was sy laaste woorde op aarde.  Gedurende die nag sterf hy, en so vind ek hom die volgende oggend.

Ken het die spreekkamers van die plaaslike dokters met huiwering gebel.  Dit was ‘n bekende feit dat dié dokters nie die mense wat na die naburige dorp – dertig kilometers verder – gery het om dokter toe te gaan, goedgesind is nie.  Die dokter aan diens is nuut op ons dorp, en sê hy sal dadelik uitkom.  Dit is met groot agting wat ek sê, “wat ‘n mens!”  Hy vind ons as gesin sprakeloos, en in trane.  Ken neem hom deur slaapkamer toe; en ‘n rukkie later kom hy uit en bevestig dat my skoonpa al ‘n paar uur dood is.  Sy woorde van vertroosting tref diep, en met sorg vertroos hy die drie kleiner kinders wat hard sit en huil.  Hy vra waar die telefoon is, en gaan bel die lykversorgers.  Daarna stap hy kombuis toe, stuur Ken terug sitkamer toe; want soos hy sê, “Jou gesin het jou nou nodig,” en nie lank daarna nie kom hy met ‘n skinkbord vol koppies koffie by ons aan, en gee aan elkeen ‘n koppie koffie.  “Julle gesin het nodig om alleen te wees,” sê hy, “maar ek gaan bly totdat die lykversorgers weg is.  Ek wil seker maak dat julle, en veral die kinders reg is voor ek gaan.”  Met die woorde stap hy terug kamer toe om daar te gaan wag.  Ons het nooit ‘n rekening van die dokter wat soos ‘n engel ons huis binnegekom het, gekry nie.

My skoonpa en die dokter; twee uiteenlopende persoonlikhede, wat my lewe verryk het.

 

23 thoughts on “Skoonpa en die dokter

    1. Hello Pixie. Nou interfere ek weer, maar dis maar wie ek is!
      Jy het een keer vir my die skakel na jou ander blog gegee. Ek het dit natuurlik al weer verloor! Ekskuus!
      Nou wil ek jou graag iets vra: wil jy nie by jou kommentare die webbladadres verander nie? As ek nou op jou naam kliek, kom ek elke keer by jou blog uit waar jy nie meer skryf nie. As jy nou jou nuwe blogadres daar intik, dan kan ek elke keer net op jou naam tik en by jou uitkom.
      Natuurlik net soos jy graag wil! 🙂

      Like

    1. Die mense het met groot lof van hom gepraat…. maar hy het nie lank gebly nie. Elke kultuur het ‘n ander manier van doen; nogal ‘n aanpassing in die getroude lewe. Verwonder my na al die jare nog as ek by Ken se suster kuier oor hulle maniere van dinge doen.

      Like

  1. Dit is regtig n bestiering gewees dat jy en jou skoonpa se paaie gekruis het. Julle het altwee mekaar nodig gehad en in stilligheid ondersteun. Dis so belangrik om iemand wat jou onderskraag en steun te hê. Baie dankie vir jou getroue deelname aan Toeka-Tokkel 🙂

    Like

    1. Hy was ‘n moeilike Engelsman en almal was maar bang vir hom. Dit voel vir my so reg dat hy by ons aan huis oorlede is, alhoewel my skoonsus nie sal saamstem nie. Sy was erg oor haar ouers en het hom baie goed versorg die jare waarin hy alleen was. Daar was egter nie daardie aanraking en uitspraak van liefde wat ek glo hy nodig gehad het nie. Alles het ‘n doel. Mooi dag vir jou 🙂

      Like

      1. Ja, alles is met n doel. Ek het bv die voorreg gehad om die laaste woorde vir my ma te kon sê: Ek is lief vir u, Mamma. Dit dink ek het haar genade gegee om in vrede te kon gaan.(daar is maar baie aan verbonde met die omstandighede wanneer dinge gebeur) Ek gaan nou slaap en jy moet jou dag geniet!

        Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!